Categories: NuusPublished On: 27th May 2024

Bek-en-klouseer in Oos-Kaap: Oorsprong nog onbekend

By 5 min read
1057 words

OK1

Drie plase in die Humansdorp-omgewing van die Oos-Kaap is onder kwarantyn geplaas nadat bek-en-klouseer daar gevind is. Die oorsprong van die uitbreking – die eerste in die provinsie waar met vee en wild geboer word – is nog onbekend.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het vroeër die week die status van die plase en die noodsaaklikheid van biosekerheid  in die lig van die voortslepende uitbreking in die gebied in ‘n mediaverklaring bekend gemaak.

Verloop en verspreiding

Die bek-en-klouseer wat op 30 April op ‘n suiwelplaas by Humansdorp in die Oos-Kaap aangemeld is, is kort daarna deur middel van naspeuring op nog een van dieselfde eienaar se plase 20 km van die indeksplaas af gevind.

Die Oos-Kaapse Provinsiale veeartsenykundige dienste het die indeksplaas onder kwarantyn geplaas en ‘n volledige epidemiologiese ondersoek is van stapel gestuur om die moontlike bron op te spoor en of dit ook na ander plase versprei het.

Buurplase en ander plekke wat kontak met die indeksplaas gehad het is ook voorlopig onder kwarantyn geplaas in afwagting van die kliniese en serologiese ondersoek na hulle status. Die beeste en skape op die twee besmette plase is met die staat se hulp teen die siekte ingeënt om die viruslading daar te verminder.

Monsters wat op die eerste plaas (indeksplaas) geneem is waar kliniese tekens van die siekte waargeneem is, is by Onderstepoort bevestig as SAT3, dieselfde wat wydverspreide uitbrekings in 2021-2022 in Limpopo, Noordwes, die Vrystaat, Gauteng en Mpumalanga vir uitbrekings verantwoordelik was.

Op 14 Mei is kliniese tekens van die siekte ook op ‘n derde plaas in die Humansdorpomgewing aangemeld. Die provinsie se veeartsenykundige dienste wat die plaas besoek het, het bevestig dat die kliniese tekens verdag lyk en dit is toe ook deur laboratoriumtoetse bevestig.

Biosekerheid

Die uitbrekings het opnuut die soeklig laat val op die noodsaaklikheid van biosekerheidsmaatreëls op plase.

Boere word aangeraai om nie diere op die plaas toe te laat sonder gesondheidsklaring van ‘n veearts by die plek waarvandaan die vee gekom het nie.

Selfs al lyk diere op die oog af gesond, kan hulle besmet wees en die siekte in die inkubasiestadium wees wat tot veertien dae kan duur, en hulle kan die virus versprei sonder dat hulle self enige kliniese tekens toon.

Alle beeste, skape en bokke wat na ‘n plaas verskuif word moet vir 28 dae afsonderlik van die bestaande kuddes aangehou word.

Drie plase in die omgewing van Humansdorp in die Kouga-munisipaliteit van die Oos-Kaap en alle plase binne ‘n 10 km radius daarvan is onder kwarantyn nadat bek-en-klouseer einde April daar uitgebreek het. (Bron: Pixabay)

Beweging verbied

Bek en klouseer is volgens die Wet op Dieresiektes 1984 ‘n staatsbeheerde, aanmeldbare siekte wat aan sekere beheermaatreëls soos isolasie en die verbod op beweging van die vee, afdwingbaar is.

Intussen bly alle eiendom waar die siekte bevestig is, asook ander plase binne ‘n 10 km-radius daarvan onder kwarantyn. Geen diere wat vatbaar vir die siekte is, insluitend beeste, skape, bokke, varke en wild met gesplete hoewe, mag verskuif word na of van of selfs deur die plase nie.

Bek-en-klouseer word hoofsaaklik versprei deur die beweging van spleethoewige diere tussen verskillende plekke en eienaars van hierdie diere word gesmeek om nie diere wat vermoedelik die siekte het, te verskuif nie.

Eienaars van hierdie diere is ook wetlik verplig om alles in hulle vermoë te doen om te voorkom dat die diere met enige siekte besmet raak wat na ander diere en of eiendomme kan versprei nie.

Vee- en wildeienaars word aangeraai om seker te maak dat voertuie wat hulle plase binne kom of verlaat se bande en onderstel met ‘n ontsmettingsmiddel afgespuit word. Insittendes van die voertuie se voete/skoene moet ook ontsmet word.

Almal se verantwoordelikheid

Dit is belangrik om daarop te let dat die verantwoordelikheid om dieresiektes, insluitend bek-en-klouseer, te beheer, elke individu of instansie en nie net die staat s’n is nie. Buitendien sal dit vir die regering onmoontlik wees om dieresiektes te beheer of selfs die voorkoms daarvan uit te wis sonder die hulp van die eienaars of bestuurders van die vee nie.

Vee-eienaars moet alle moontlike voorsorgmaatreëls tref om seker te maak hulle vee  raak nie besmet met enige beheerde siekte nie, en hulle moet ook voorkom dat die siekte vanaf hulle eiendom verder versprei nie.

Indien kliniese simptome soos ‘n afname in melkproduksie, lusteloosheid en ‘n gebrek aan eetlus, maar veral ook blase of seertjies in die bek of ‘n bek wat kwyl, sere aan die pote of ‘n dier wat hinkepink, moet onverwyld by ‘n staatsveearts aangemeld word. Die diere mag onder geen omstandighede verskuif word as daar ‘n vermoede bestaan dat die diere siek is nie.

Raak ganse bedryf

Maar sulke beheermaatreëls het verreikende gevolge omdat dit die ganse bedryf en nie net die vee op enkele plase raak nie.

In die Kouga-munisipaliteit, waarbinne die besmette plase val, is veeartsenykundige dienste ook besig om die erns van die siekte en die noodsaaklikheid van biosekerheid aan kommunale boere te verduidelik. Baie van die boere se vee loop wyd en wei en omdat baie van die vee nie gemerk is nie, kan rondlopervee se eienaars nie opgespoor word nie.

Die vervoer van vee in die munisipaliteit is totaal verbied om te probeer verhoed dat die siekte versprei. ‘n Verkeersbeheerpunt is opgerig tussen Humansdorp en St Francisbaai, waar die siekte aangemeld is. Die pad word twee maal per dag vir sowat 20 minute gesluit sodat die oppervlak waar die beeste oor die pad na weiding stap, ontsmet kan word.

Daar is ook beheerpunte by die hoof ingangsroetes na die Kouga-munisipaliteit opgerig om te help keer dat vee oor die munisipale grense ingebring word.

Die beheerpunte en die plase wat onder kwarantyn is, sal in plek bly tot die uitbreking onder beheer is.

Aansoeke vir bewegingspermitte moet vyf dae voor die beoogde verskuiwing van vee gebring word. Stuur die aansoek aan Agri Oos-Kaap, wat die staat bystaan in die proses. Stuur ‘n Whatsapp na 060-997-4503 of stuur ‘n epos aan agriops@agriec.co.za

Bronverwysings

Dorfling, C. (2024) Bek-en-klouseer: Vervoer van vee in Kouga in Oos-Kaap verbied. Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/omgewing/bek-en-klouseer-vervoer-van-vee-in-kouga-in-oos-kaap-verbied-20240506

Dorfling, C. (2024) Departement help met inenting teen bek-en-klouseer ná uitbreking. Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/departement-help-met-inenting-teen-bek-en-klouseer-na-uitbreking-20240509

Dorfling, C. (2024) Ondersoek na bek-en-klouseer se oorsprong in Oos-Kaap duur Voort. Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/landbou/ondersoek-na-bek-en-klouseer-se-oorsprong-in-oos-kaap-duur-voort-20240508

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0