Bek-en-klouseer: Die onsigbare vyand wat boere kniehalter

bek en klou
Foto: Shutterstock
Bek-en-klouseer is ‘n term onder Suid-Afrikaanse boere, wat groot woede, hartseer en kommer tans in die land veroorsaak. ’n Siekte wat voorkombaar was, het handuit geruk weens onregmatige optrede en ’n gebrek aan doeltreffende beheer oor die verskuiwing van vee. Wat as ’n geïsoleerde probleem begin het, het oornag vlam gevat en toon min tekens dat dit binnekort onder beheer sal kom, met bevestigde gevalle reeds in agt van die land se nege provinsies.
Die virus word oorgedra aan gesplete-hoefdiere (beeste, skape, bokke of varke) deur direkte kontak met vee se spoeg, melk en mis, sowel as enige besoedelde materiale waaraan geaffekteerde vee in kontak mee kom soos vee-voer, vervoer-trokke, veetoerusting en weiding, wat ook aandui hoe vinnig die siekte versprei deur enige beweging.
Die siekte is gekenmerk deur blase en sere op ‘n dier se mond, tong, spene en hoewe, wat ondraaglike seer, koors en skerp afname in melkproduksie veroorsaak. Bek-en-klouseer is, uit ’n ekonomiese en produksie-oogpunt, een van die grootste skadeberokkers weens streng bewegingsbeperkings en uitvoerverbod op vee.
Die statistiek van aangemelde en vermoedelike gevalle per provinsie word hieronder uiteengesit gebaseer op amptelike verslae van die Departement van Landbou (DoA) en onlangse bedryfsopdaterings.
Bek-en-klouseer: Waar is die aktiewe gevalle tans in Suid-Afrika?

- KwaZulu-Natal bly die epidemie senter van bek-en-klouseer met meer as 200 aktiewe gevalle teen Januarie 2026 aangemeld, hoofsaaklik in gemeenskaplike gebiede.
- Die Vrystaat het ’n skerp toename beleef met ongeveer 194 bevestigde gevalle, met gebiede soos Viljoenskroon en Vredefort wat as hoë-risikogebiede verklaar is.
- Gauteng het meer as 100 bevestigde uitbrake, met nuwe vermoedelike gevalle in die Wes-Rand wat tans getoets en gemonitor word.
- Noord-Wes het ongeveer 50 gevalle, hoofsaaklik op beesplase in die JB Marks en Ventersdorp-distrik.
- Mpumalanga het 30 bevestigde uitbrake, grootliks gekoppel aan vee wat verskuif is vanaf KwaZulu-Natal.
- Limpopo het 11 bevestigde gevalle en 58 vermoedelike gevalle wat nog bevestig moet word, die provinsie bly ‘n hoë-risiko gebied weens die wildbedryf.
- Die Oos-Kaap het vroeg in 2026 ‘n nuwe bevestigde uitbraak in Humansdorp aangemeld, met 40 vee geaffekteer en meer as 100 diere onder kwarantyn vanaf 4 Februarie 2026.
- Die Wes-Kaap het ’n SAT1-uitbraak in November 2025 bevestig wat veroorsaak is vermoedelik weens onwettige dierebewegings.
- Die Noord-Kaap het tans geen bevestigde gevalle nie, maar uitbrake minder as 50 km van die grens plaas die provinsie op hoë paraatheid.
Vind ook hier ‘n opgedateerde naspeurbaarheidkaart van die land. (Bron: RMIS)
Boere bly bekommerd en raadop
Boere se ontevredenheid oor die hantering van die bek-en-klouseer krisis het die afgelope maand sterk toegeneem, met bedryfsorganisasies wat waarsku dat stadige reaksietye, onvoldoende biosekuriteits afdwinging en onbeheerde dierebewegings die situasie vererger.
Agri SA het herhaaldelik beklemtoon dat die uitbrekings “’n direkte bedreiging vir boere se inkomste, voedselveiligheid en uitvoermarkte” inhou, terwyl Red Meat Industry Services (RMIS) waarsku dat vertraagings in beheermaatreëls die siekte verder laat versprei. Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) dra boere tans die finansiële en produksierisiko, ondanks hul nakoming van regulasies, en eis hulle duideliker leierskap, beter koördinering en konsekwente toepassing van wetgewing om die krisis doeltreffend te bestuur.
Dit is duidelik dat boere direk beïnvloed word deur die drastiese toename in bek-en-klouseer gevalle. Gerrit Potgieter van die Boran SA genootskap het in ‘n onlangse radio onderhoud met RSG sy siening gedeel oor hoe die siekte en inentings van kardinale belang is.
Hy het klem gelê op die ‘stigma’ van die 12-maande wagperiode wat boere moet nakom as hulle kudde ingeënt word teen bek-en-klou of gediagnoseer is met die siekte, voordat hulle hul aanteel diere mag bemark, “belaglik” is.
Volgens sy mening stel hy voor dat daar korter tydperke ingestel moet word sodat boere nóg steeds kan voortgaan om hul diere te bemark omdat boere “hand en tand baklei” .
“Ek ondersteun die gedagte dat die staat geen ander keuse het as om die privaat sektor en die privaat veeartse hulp te vra en te sê, kom ons pak die ding saam aan,” deel Gerrit.

Foto: Maroela Media
Die Minister van Landbou, John Steenhuisen, het ’n gestruktureerdeentstof geleide strategie uiteengesit om Suid-Afrika se toenemende bek-en-klouseer-krisis te hanteer, wat hy beskryf het as “een van die ernstigste diergesondheid bedreigings wat die land in dekades in die gesig gestaar het”. Hy het aangedui dat meer as 2 miljoen dosisse van die BEK-entstof tans beskikbaar is, met verdere hoeveelhede wat nog verkry moet word, ’n getal wat egter beperk bly in verhouding tot die grootte van die nasionale vee en die omvang van aktiewe uitbrake.
Volgens Steenhuisen sal inentings stapgewys en risiko-gebaseerd uitgerol word, met prioriteit aan swaar getrefde provinsies soos KwaZulu-Natal, Vrystaat en Gauteng, wat impliseer dat nie alle gebiede gelyktydig beskerm kan word nie. “Inenting is ’n kritieke instrument wat gebruik moet word om beheer te kry,” het hy gesê, maar bygevoeg dat dit gekombineer moet word met streng bewegingsbeheer, biosekuriteitsafdwinging en bedryfsamewerking, ’n erkenning dat entstof alleen, veral in die huidige beperkte volumes, nie voldoende is om die siekte vinnig tot stilstand te bring nie.
Op 4 Februarie 2026 het John Steenhuisen verklaar dat hy sal sorg dat bek-en-klouseer “nooit weer in Suid-Afrika sal voorkom nie”, ’n stelling wat, teen die agtergrond van voortdurende aktiewe uitbrake, beperkte entstofvoorraad en jarelange tekortkominge in veeartsenydienste, eerder onwerklik as uitvoerbaar klink. Hierdie formulering staan in totale kontras met die realiteite van ’n skadelike, hoogs aansteeklike siekte en onderstreep waarom boere die toespraak met skeptisisme ontvang het.
Bek-en-klouseer is nie meer iemand anders se probleem nie – dit raak elke boer, elke plaas en elke rand wat uit veeboerdery verdien word. Sonder streng beheer oor dierebewegings en ’n daaglikse, ernstige benadering tot biosekuriteit, sal die siekte bly versprei en boere verder knou. Nou is die tyd vir reg optrede, samewerking en verantwoordelikheid, want as bek-en-klouseer buite beheer bly, betaal boere eerste – en die swaarste.