Swartlandskou 2026: Vier dae waar landbou, kampioenskappe en vermaak saamkom

Swartlandskou Show Grounds Skouterein Photographer Marlene Kotze
Moorreesburg maak gereed om van Woensdag 2 tot Saterdag 5 September 2026 weer die hartklop van die Wes-Kaapse landbou te wees wanneer die 92ste Swartlandskou sy hekke open. Besoekers van regoor Suid-Afrika kan uitsien na vier dae propvol kampioenskappe, topgehalte vee, uitstallings, vermaak, lekker kos en ‘n unieke plattelandse atmosfeer wat die Swartlandskou jaar ná jaar een van die grootste landbouskoue in die land maak.
Die Swartlandskou is veel meer as net ‘n landbou-uitstalling, dit is ‘n viering van die mense, diere, innovasie en tradisies wat die Suid-Afrikaanse landboubedryf so besonders maak.
Beesafdeling spog met tien raskampioenskappe
Die Beesafdeling beloof om vanjaar een van die grootste trekpleisters van die skou te wees en bied 10 verskillende raskampioenskappe aan wat van die land se beste stoettelers na Moorreesburg lok.
Nog ‘n hoogtepunt is die gewilde Interras-kampioenskap wat op Saterdagoggend, 5 September, plaasvind waar die kampioene van al die rasse teen mekaar meeding om as die beste bees op die skou aangewys te word.
Die afdeling verwelkom ook twee opwindende nuwe toevoegings vir 2026, die indrukwekkende Waterbuffels en majestueuse Chianina beeste, een van die oudste en grootste beesrasse ter wêreld. Hierdie nuwe rasse bied besoekers ‘n seldsame geleentheid om iets besonders te beleef.
Kleinvee-afdeling bied iets vir die hele gesin
Die Kleinvee-afdeling bly een van die mees dinamiese afdelings op die skou en bied ‘n ervaring vir oud en jonk.
Vanjaar sluit die program die Swartlandskou Boerboelkampioenskappe in en beloof dit om een van die afdeling se groot hoogtepunte te wees.
Besoekers kan verder uitsien na Skaap Karkas Opsaag demonstrasie, ‘n gewilde skaapkopete en kleinvee inligtingsdag met ‘n fokus op voeding, medisyne, veeats, wol, skeer en bemarking.
Jeugskou ontwikkel die landbouleiers van môre
Die Wes-Kaap Kwalifiserende Streekskou vind op Woensdag 2 September vanaf 12:00 plaas.
Jong skoumense sal in 10 verskillende dissiplines meeding en hul kennis, vaardighede en passie vir landbou ten toon stel. Hierdie afdeling speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van die volgende geslag landbouleiers.
Perde-arena beloof wêreldklas aksie
Perdeliefhebbers kan uitsien na vier dae se opwinding met die Vlaamperd SA Kampioenskappe en die SA Saalperd Kampioenskap.
‘n Besonderse hoogtepunt bly die indrukwekkende 8-span waperde wat op Saterdag 5 September die arena betree – ‘n skouspel wat jaarliks duisende toeskouers van regoor Suid-Afrika lok.
Nuut vir 2026 is die toevoeging van Miniatuurperde. Hierdie elegante, vriendelike diere is wêreldwyd gewild en hul vertonings is altyd ‘n gunsteling onder besoekers van alle ouderdomme.
Vermaak vir die hele gesin
Die Swartlandskou se vermaak vir 2026 beloof om ‘n ware fees vir die sintuie te wees. In samewerking met Afrikaans op die Platteland kan besoekers uitsien na van Suid-Afrika se gewildste Afrikaanse kunstenaars wat die verhoog aan die brand sal sing.
Van topgehalte vee en perde tot landbou-innovasie, heerlike kos, uitstekende wyn en onvergeetlike vermaak, Swartlandskou 2026 het iets vir elke besoeker.
Merk dus nou reeds Woensdag 2 tot Saterdag 5 September 2026 in u dagboek en kom beleef waarom die Swartlandskou jaar ná jaar een van Suid-Afrika se voorste landbouskoue bly.
Swartlandskou is meer as net ‘n skou, dit is ‘n viering van plattelandse trots, innovasie en samehorigheid. Kom deel in die “cool” van landbou!
Vir meer inligting en die volledige program, besoek www.swartlandskou.co.za.
Facebook https://www.facebook.com/SwartlandskouMoorreesburg/
Instagram https://www.instagram.com/swartlandskou
Uitgegee deur Skou Media