Bejaarde boervrou vir byna ’n dag in kattebak vasgekeer terwyl plaasaanvalle in VS voortduur

fence-gate-2705774_1920
Foto: Pixabay
Vrystaat Landbou (VL) spreek sy skok uit oor twee plaasaanvalle wat die afgelope naweek in die Vrystaat plaasgevind het.
In die eerste voorval is ’n 72-jarige boervrou, wat alleen in die Bultfontein-omgewing boer, Vrydagaand omstreeks 18:00 in haar huis oorrompel en wreed aangerand. Sy is daarna in haar eie motor se kattebak toegesluit en deur haar aanvaller in die rigting van Bloemfontein vervoer. Die voertuig het naby Soutpan onklaar geraak, waarna die aanvaller haar eenvoudig langs die pad agtergelaat het, steeds in die kattebak toegesluit.
Die boervrou het vir bykans ’n volle dag in die snikhete weer in die kattebak vasgekeer gelê, totdat sy Saterdagmiddag ontdek is. ’n Polisiebeampte van Bultfontein het die voertuig om 07:45 Saterdagoggend opgemerk, maar eers met sy terugkeer later die middag om 17:15 ondersoek ingestel. Die beampte was nie aan diens nie, maar het tog ondersoek ingestel. Toe die dame voetstappe hoor, het sy om hulp geroep en is sy uiteindelik bevry — uitgeput, gedehidreer en getraumatiseerd.
In ’n tweede voorval is ’n 56-jarige boer van die Clocolan-omgewing Sondagmiddag omstreeks 18:00 in sy plaashuis deur drie aanvallers oorrompel en ernstig aangerand. Een van die aanvallers wou die boer glo skiet, maar is deur die ander gekeer. Die boer is toe herhaaldelik met messe gesteek. Die aanvallers het met kontant en vuurwapens gevlug. Die boer kon daarin slaag om hom los te wikkel en het na die werkers se huise beweeg. Die werkers het hom gehelp om die nodige alarm te maak.
Vrystaat Landbou wil sy opregte dank en waardering uitspreek teenoor die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul vinnige optrede in beide gevalle. Ondersoeke duur voort.
Plaasaanvalle 2025
Volgens dr Jane Buys, Veiligheid risiko analis van VL, het daar 27 plaasaanvalle en 7 -moorde in die Vrystaat voorgekom in die kalender jaar 2025. In die 7 plaasmoord insidente was daar in een geval ‘n boer, ‘n besoeker en in 5 insidente werkers op plase vermoor. Daar was in 5 insidente arrestasies uitgevoer. (In Desember was daar 6 plaasaanval insidente in die Vrystaat).
In die 27 plaasaanvalle was 12 boere en in sekere gevalle hul vrouens, 12 plaaswerkers wat veiligheidswagte en veewagters insluit, aangeval. Daar was verder 3 insidente waar besoekers en of bewoners op plase ook geteiken was in plaasaanvalle. In 11 insidente was daar arrestasies uitgevoer. In 6 dorpe was daar 2 tot 4 plaasaanval/moord insidente, nl Bloemfontein, Clarens, Smithfield, Virginia, Warden en Wepener.
Beroep op boere om betrokke te wees. “Ons doen weereens ’n dringende beroep op alle boere, oud en jonk, om aktief deel te vorm van hul plaaslike veiligheidstrukture, insluitend plaaswagte, radiosisteme en veiligheidsinisiatiewe. Veiligheid kan nie geïgnoreer of uitgestel word nie. Samewerking en waaksaamheid is tans ons enigste skild teen hierdie gruwel” sê dr Jane Buys, Veiligheid risiko analis van Vrystaat Landbou.
Vrystaat Landbou herhaal sy oproep aan die owerhede om landelike veiligheid as ’n prioriteit te hanteer en om seker te maak dat dit nodige hulprbonne, mannekrag en aksies soos deur die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie (NLBS) gerugsteun word, daargestel word. Die lewe, waardigheid en veiligheid van boere, hul gesinne en werkers op plase kan nie langer as onderhandelbaar beskou word nie.
Bron: Vrystaat Landbou