Categories: NuusPublished On: 16th May 2018

Bedrag vir beloning van lojale NWK-klante bekend

By 2 min read
315 words

NWK logo

ʼn Bedrag van R8-miljoen is deur die NWK-direksie goedgekeur om klante wat aan die groep se Lojaliteitsprogram deelneem vir hulle lojale ondersteuning tot einde April vanjaar te beloon. Lojaliteitspunte wat gedurende die 2017/2018 finansiële jaar deur klante verdien is deur sake met die graan- of handelsdivisie te doen, sal grootliks in die vorm van aandele uitgekeer word.

Die waarde van die lojaliteitspunte word tans bereken en sal tydens die NWK-direksievergadering van Julie 2018 goedgekeur word. Klante wat in die eerste seisoen van die program geregistreer het, sal hierna ‘n staat ontvang wat die hoeveelheid van hulle punte verdien en die randwaarde daarvan uiteensit. In die stadium is die uitkeerdatum nog nie bekend nie, aangesien die NWK Lojaliteitsprogramtrust vanaf Julie vanjaar die getal aandele wat aan kwalifiserende klante uitgekeer word, fisies in die mark moet aankoop.

“Sodra die volle getal aandele aangekoop is, sal dit op een datum aan kwalifiserende klante toegeken word. Die mikpunt is om dit teen April 2019 op die laatste af te handel, sodat die volgende finansiële jaar se toekenningsproses kan afskop,” het Theo Rabe, hoof uitvoerende beampte van NWK, gesê.

Die voorsitter van NWK Beperk, Heinrich Krüger, het sy tevredenheid uitgespreek oor die bedrag wat die direksie goedgekeur het. “Inaggenome die feit dat die eerste seisoen van die Lojaliteitsprogram eers op 1 September verlede jaar afgeskop het, het die direksie ‘n wesenlike bedrag toegestaan. Ek wil die hoop uitspreek dat dit huidige en potensiële klante sal aanmoedig om selfs meer sake met NWK te doen,” het hy gesê.

Besoekers aan vandeesweek se NAMPO Oesdag van 15 tot 18 Mei kan die groep se stalletjie in die NAMPO-saal besoek om persoonlik met ʼn NWK Finansiering-konsultant te gesels oor registrasie vir die Lojaliteitsprogram.

Meer inligting is beskikbaar deur die webtuiste, www.nwklojaliteit.co.za, of kontak ʼn konsultant by 018-633-1000. Navraag kan ook gedoen word by enige NWK Retail-winkel of die naaste NWK-graansilo.

Bron: NWK BEPERK

 

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0