Categories: NuusPublished On: 28th July 2025

Arlington Boeredag 2025: ’n Dag van inligting, vernuf en kundigheid

By 3 min read
610 words

IMG_4904

Die jaarlikse Agri Arlington Boeredag het op Woensdag, 23 Julie 2025, op die demonstrasiegronde buite Arlington in die Vrystaat plaasgevind. Ten spyte van sowat 25 mm reën die vorige nag, het die geleentheid nie aan geesdrif of opkoms tekort geskiet nie. Boere, verskaffers en landboukundiges het in groot getalle opgedaag om die nuutste tegnologie en toerusting van nader te bekyk.

Praktiese demonstrasies ten spyte van nat toestande

Die dag het omstreeks 08:30 afgeskop met ’n warm verwelkoming, waarna verskeie trekker-, stroper en spuitdemonstrasies gevolg het. Weens die nat veld is die demonstrasies verskuif na ’n droër gedeelte van die terrein. Hierdie aanpassing het verseker dat besoekers steeds die geleentheid gehad het om die sommige van die toerusting in aksie te sien. Die fokus op praktiese toepassings het boere die geleentheid gebied om self te sien hoe masjinerie presteer onder plaaslike toestande. Dit is iets wat vir enige produsent van groot waarde is.

Arlington Boeredag- en groep het hulle dank uitgespreek aan elke uitstaller wat die dag moontlik gemaak het en ook ‘n groot dankie aan CLAAS/Kempston Agri wat die hoofborg van die dag was.

Tegnologie en toerusting

’n Verskeidenheid gevestigde handelsmerke wat ingesluit het AGCO: Fendt- en Massey Ferguson, Kempston Agri, CLAAS (wat ook die hoofborg van die geleentheid was), John Deere, Rula Agri, CNH Industrial, BOKI, Arlington Staalwerke, Van Zyl Staalwerke, Agrico, Ripper Tillage Equipment, Visser Agri en meer het hulle nuutste trekkers en implemente ten toon gestel. Kundiges en verteenwoordigers van elke handelsmerk het boere deur die tegniese besonderhede en unieke eienskappe gepraat.

Hierdie proses is met elke handelsmerk herhaal sodat die kundiges steeds die hoogtepunte van die toerusting kon uitwys ten spyte van die onverwagse reën wat die landery in ‘n modderbad omskep het. Boere kon die toerusting van naderby bekyk en vrae stel en waardevolle inligting oor diens, werkverrigting en implementversoenbaarheid ontvang.

Die koue nat weer van die vroeë oggend het vinnig plek gemaak vir ‘n sonnige dag wat die verrigtinge in ‘n lekker atmosfeer gestel het. Die koffie en eetgoed wat aangebied is het veral baie aandag gelok.

Gemeenskapsgees en saamwerk

Langs die uitstalareas het plaaslike ondernemings stalletjies beman waar besoekers meer kon leer oor dienste en produkte wat gewissel het van finansiële oplossings tot veeopsporingstegnologie. Dit het ’n gemeenskaplike sfeer geskep wat verder bygedra het tot die sukses van die dag.

Besoekers is deur elke trekker of werktuig se verteenwoordigers ingelig oor die besonderse kenmerke van daardie toerusting, en het na die tyd die geleentheid gehad om verder te gesels, meer uit te vind, en self te voel hoe die trekker ry.

Waarom hierdie dag tel

Die Arlington Boeredag het nie net gegaan oor toerusting en uitstallings nie, maar dit was ’n integrale platform vir kennisdeling, samewerking en inspirasie. Met duidelike fokus op vindingrykheid, praktiese waarde en plaaslike toepasbaarheid, het die dag boere toegerus met die gereedskap, beide fisies en tegnologies, om hul bedrywighede meer doeltreffend en volhoubaar te bestuur. Buiten vir die indrukwekkende toerusting en uitstallings was daar ook warm koffie om die koue weg te hou, en heerlik eetgoed wat by die kaartjie se prys ingesluit was. Almal het gesorg dat hulle by die gesellige kostent ‘n draai gaan maak.

In ’n tyd waar boerdery uitgedaag word deur klimaat, koste en kompleksiteit, het die Arlington Boeredag gewys dat die antwoord dikwels lê in samewerking, tegnologie en vars perspektiewe. Met elke gesprek en demonstrasie het die dag ’n stewige grondslag gelê vir toekomstige groei. Nie net in toerusting nie, maar in verhouding en vertroue. Maak seker dat jy nie volgende jaar se Agri Arlington Boeredag misloop nie. Besoek hulle webblad vir meer inligting of kontak vir Johnny Roodt Arlington by (+27)73-183-0770.

3

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

3