AMC Equipment sluit by die Senwes Groep aan en sal vanaf 1 Mei 2026 as Senwes Equipment handel dryf

amc
Die Senwes Groep kondig met trots aan dat AMC Equipment vanaf 1 Mei 2026 amptelik deel van die Senwes Groep sal vorm en voortaan in die Noord-Kaap as Senwes Equipment sal handel dryf.
Hierdie stap volg nadat die voorgestelde transaksie deur alle relevante owerhede goedgekeur is. Die integrasie vorm deel van ’n strategiese uitbreiding van die Senwes Groep se meganisasie voetspoor en bou voort op ’n gevestigde reputasie as John Deere-handelaar in besproeiings- en droëlandprodusentegebiede.
Volgens Debbie Bester, Groep Hoof Uitvoerende Beampte van die Senwes Groep, is die integrasie van AMC in die Groep ’n strategiese stap wat daarop gerig is om ’n meer volhoubare, samehangende en kliëntgerigte meganisasie-aanbod in die Noord-Kaap te verseker.
Met die integrasie sal produsente in die Noord-Kaap voortaan toegang hê tot die Senwes Groep se uitgebreide netwerk, gevorderde tegniese kundigheid, verbeterde logistieke kapasiteit en groeiende fokus op presisieboerdery en digitale oplossings, terwyl die bestaande plaaslike verhoudings, kennis en diensvlakke behoue bly.
Volgens Ferdie Pieterse, Besturende Direkteur van Senwes Equipment, boer Noord-Kaapse produsente onder unieke en uitdagende omstandighede.
“Ons doel is om dienslewering verder te versterk, reaksietye te verkort en tegniese en tegnologiese ondersteuning nog meer toeganklik te maak. Ons sien daarna uit om saam met produsente nuwe spore in die streek te los.”
Produk- en dienslewering sal ononderbroke voortgaan gedurende die oorgangstydperk. Alle bestaande verhoudings en ondersteuning bly in plek, en verdere kommunikasie sal direk aan kliënte, personeel en aandeelhouers gerig word soos die integrasie vorder.
Die Senwes Groep sien daarna uit om saam met AMC se werknemers, kliënte en belanghebbendes die volgende groeifase vir die landbousektor in die Noord-Kaap te bou.