Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 5th September 2024

Alles wat jy moet weet van Rovic se Syncroplant-mielieplanter!

By 3 min read
523 words

IMG_4833

Verstandige boere reken op werktuie wat werk, want dikwels bied boerdery nie tweede kanse nie. Dit is hoekom boere geesdriftig is oor Rovic se Syncroplant-mielieplanter, want hy doen dit die eerste keer reg.

Eienskappe en kenmerke van die Rovic Syncroplant-mielieplanter:

Op die raam van die planter is daar ’n kleurkodekaart wat ooreenstem met die kleurkodes van die hidrouliese pype. Indien jy van een trekker na ’n ander moet oorhaak, is dit maklik om die pype weer reg te koppel.

Die Rovic Syncroplant-mielieplanter is ’n wenresep vir enige mielieboer.

Rovic bied die boer die keuse van verskillende volumes plastiekkunsmistenks. Hierdie plastiektenks verlig die gewig op die planter en is ook meer buigsaam in vergelyking met staal tenks.

Aan die onderkant van die mielieplanter is daar verskeie uitmeters. Die uitmeters kan òf elk van ’n enkele hidrouliese moter aangedryf word, òf dit kan met mekaar gekoppel word. Die uitmeters word van hoë gehalte vlekvrye staal gemaak om roes te voorkom.

Rovic se Syncroplant het ’n voorsny kouter en ’n tand. Die voorsny koutersny deur die plantmateriaal op die land en die tand breek die grond op en plaas die kunsmis op ’n diepte van die boer se keuse. Alternatiewelik kan jy ’n konvensionele planter aanskaf, wat net die kunsmiskouter het.

Die kleurkodes op die hidrouliese pype stem ooreen met hierdie kleurkaart om dinge vir die boer so maklik as moontlik te maak.

Om die kunsmis vanaf die tenks na die verskillende rye te blaas, maak Rovic gebruik van positiewe lugdruk. Daar is ook ’n verdeelkop op die masjien wat die kunsmis eweredig verdeel. Spesiale sensors verseker dat elke ry ewe veel kunsmis kry.

Verskillende bybehore is beskikbaar om elke Rovic-planter nommerpas vr elke boer se behoefte aan te pas. Vir die minimumbewerking planters word die tralieroller aanbeveel. Ander opsies wat bygevoeg kan word, sluit in ryskoonmakers met ’n dieptebeheerwieletjie wat jou ryskoonmaker teen ’n verstelbare konstante hoogte bo die grond hou.

Alle Rovic-planters word as standaard toegerus met Deltaforce-presisieplanttegnologie. Deltaforce se groot geheim is dat jy afwaartse sowel as opwaartse gekontroleerde druk kan toepas. Deltaforce meet die druk 200 keer per sekonde en verstel die druk vyf keer per sekonde. Dit beteken dat wanneer jy ’n deel met sagte grond in die land teëkom, jou planterkarretjie opgetel word om te verseker dat alle saad ewe diep geplant word. Hierdie karretjie is een van die min op die mark wat dit kan doen.

Só lyk die spykerwiele aan die planter met speke in ’n v-vorm.

Die boer het ook die opsie om gebruik te maak van die spykerwiele. Dit gebruik meganies verstelbare drukking en is in ’n v-vorm ontwerp sodat dit die wal inbreek.

Die saadtenks hou 56 liter, maar as jy gebruik maak van sentrale saadtoevoer, is dit ’n kleiner tenk wat die heeltyd vanuit ’n sentrale tenk opgevul word.

Vanjaar het Rovic aanpassings aan die planter se raam aangebring, soos versterkings wat dit stewiger maak en ‘n langer lewe verseker. Dit vou ook makliker op en vergemaklik onderhoud.

Skuifblokke aan die wielsilinders vergemaklik en bespoedig verstelling van die planter.

Vir enige navrae besoek Rovic se webtuiste by www.rovic.com of kontak jou naaste handelaar.

2

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

2