Categories: Artikels, BesproeiingPublished On: 22nd December 2022

AGRICO Mikrobesproeiing wat sin maak

By 4 min read
825 words

Screenshot 2022-12-22 100328

՚n Goeie boer besluit nie sommer uit die bloute waarmee en hoe hy wil boer nie. Nee, hy stel ondersoek in na die mees winsgewende praktyk en gewas wat in sy omgewing aard, asook hoeveel grond en water nodig is — dit maak mos sin!

Rob en Keegan Hughes van Thulani Macs glo ook so. Hierdie pa-en-seun duo boer 20 km buite Empangeni in die Heatonville-omgewing. Rob is ՚n eiendomsontwikkelaar en besit ook ՚n wildsplaas. In 2019 het hulle besluit om boerdery aan te pak, geïnspireer deur ander makadamiaboere in die omge-wing se sukses.

Hulle het grond met ’n goeie bron van water aangeskaf en daarna vir Willie Vosloo van Agrico in Empangeni genader. Hy het gehelp om vas te stel presies waar die besproeiingspunte – en dus die boorde – gevestig moet word. In die begin van 2020 het hulle aan die werk gespring en die eerste boom is in 2021 geplant.

Vandag bestaan die 105 hektaar hoëdigtheidboorde uit 43 780 bome.

Rob Hughes, Willie Vosloo van Agrico en Keegan Hughes is trots op die makadamiabome wat deur goeie beplanning goed groei.

Makadamiaboorde met mikrobesproeiing wat sinvol uitgelê is

“Ons het verskeie makadamiaboere langs die kus genader vir inligting. Hulle het gretig raad gedeel,” onthou Rob. “Maar voordat ons enige iets gedoen het, het ons eers daaroor besin en gevra: maak dit sin? Ons benader alles so.

“Ons het vir Willie genader om die watertoevoer te help beplan,” vertel Rob. Agrico behartig die ontwerp van die stelsel: van opmeet tot uitleg. Die boer kan self die stelsel oprig of kontrakteurs gebruik, maar Agrico bly deurgaans betrokke.

Vir hierdie boerdery word water uit die Mkuzerivier gepomp en in ՚n gronddam geberg. Dit dien as ՚n bufferdam en help dat die slik afsak om skoner water deur die stelsel te pomp. Mikrobesproeiing is aangewend om verskeie redes. ’n Mikrostelsel kan maklik na drupbesproeiing oorgeskakel word in die geval van ՚n watertekort. Daarby kan ‘n mens maklik sien as die gaatjies verstop is, en die stelsel help boonop om die boord te beskerm teen veldbrande.

Die jong makadamiaboord van Thulani Macs.

Daar is twee 73 kW motors aan KSB-pompe gekoppel wat water na die verskillende blokke lei. Die blokke is verdeel volgens die waterbehoefte van die grondsoort en die helling waarteen dit staan.

Elke pomp het wisselspoedaandrywing (VSD) wat help om die druk teen die verskillende hellings te beheer en algehele elektrisiteitskostes afbring.

Die stelsel is gebou om 3,5 mm water per dag toe te dien. Siklus-lengtes wissel van drie tot ses dae, afhangende van die grondeienskappe en die weersomstandighede.

Na die besproeiingsbeplanning is die veld ontbos en grondbewerking het begin. Kalk en gips is bygewerk op aanbeveling van ՚n landboukundige wat die wisselende grondsoorte identifiseer het. Daar is riwwe met die ploeg gemaak waarop die besproeingspype aangelê is en die bome is geplant.

Elke boom kan met satellietkoördinate (GPS) geïdentifiseer word te danke aan ՚n stelsel wat Keegan ontwerp het. “Ons het aanvanklik met die hand gemeet waar elke boom in ՚n blok moet wees, maar dit was moeilik om akkuraat te wees en tydrowend. Hierdie elektroniese stelsel verseker dat elke boom drie meter van sy bure af staan. Dit is vinniger ook,” verduidelik Keegan.

Die variëteite wat hulle plant is A4, 695, 816, 863, 8.4 en N2. “Ons wissel twee variëteite per blok af, met vier rye van een soort en dan vier van ՚n ander. Tussen elke ry plant ons olifantsgras wat dien as ՚n windbuffer,” sê hy. “Hierdie variëteite word geplant omdat die blomtydperke oorvleuel en kruisbestuiwing verseker.”

’n Organiese benadering tot makadamiaverbouiing

Die Hughes volg ՚n organiese benade-ring in hulle boerdery.

“Ons vermy chemiese plaagdoders en bemestingstowwe en tot dusver het ons nog nie nodig gehad om enige kunsmis by te voeg nie. Blaar- en saptoetse het aangedui dat ons bome tevrede is,” vertel Keegan.

Hulle gebruik eerder beesmis wat tot kompos afgebreek het om die wortels natuurlik te voed. Die kraalmis word deur ՚n plaaslike beesboer aan hulle voorsien.

Die varkie-stelsel wat kan help om onkruiddoder of kunsmis toe te dien.

Wanneer ’n ekstra hupstoot wel nodig word, is daar die varkie-stelsel – ՚n vlekvrye staaltenk wat druk tot en met 10 bar hanteer – om kunsmis toe te dien. Dit word gekoppel aan die water wat na die boord vloei; oplosbare of vloeibare kunsmis word in die “varkie” se maag gegooi en dan so deur die boord versprei.

Daar is bye op die plaas om te help met bestuiwing, ՚n wildsheining wat bosvarke uithou en hulle het ook paaltjies opgerig vir die bosjakkalsvoëls wat rotte onder beheer hou.

Verder maak hulle gebruik van ՚n deklaag van organiese materiaal om die vog in die grond te hou, die besproeiingspyp af te koel en ՚n gunstige omgewing vir mikro-organismes te skep. Dit beheer ook onkruid.

Kliek hier om dit in aksie te sien

Om jou naaste tak op te spoor, besoek Agrico se webtuiste by www.agrico.co.za of skakel vir Willie Vosloo op (+27)35-787-1949 of per selfoon by +(27)82-571-2452.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0