Agrico koop Dripco oor

webstorie
Die Wellingstonse besproeiingsonderneming, Dripco (Edms) Bpk, is as ‘n lopende saak aan Agrico verkoop. Agrico is ‘n gevestigde, internasionale besproeiingsfirma, wat ook onlangs in die nuus was toe die maatskappy AFGRI se aanbod om sy John Deere-kleinhandelstakke oor te neem, aanvaar het.
Agrico vervaardig onder meer spilpunte, PVC-pyp, poli-etileen pyp, goukoppelpype, kleppe, pompstelle en passtukke in fabrieke in Bellville en Lichtenburg. Die res van die komponente om ‘n besproeiingstelsel volledig te maak, word ingevoer of regstreeks by plaaslike fabrieke gekoop. Agrico se klante word ondersteun deur 26 strategies geleë takke in Suidelike Afrika vanwaar boere met oplossings en alle vorme van besproeiingsprodukte bedien word.
Dripco is 34 jaar gelede gestig en oor tyd uitgebou tot ‘n leier in kleinhandelbesproeiing in Wellington en omliggende gebiede. Die onderneming bemark ‘n volledige reeks besproeiingsoplossings aan leierboere in die Wes-Kaap en Karoo.
Lodie Willemse en sy span van drie ontwerpers sien uit daarna om hulle sake uit te bou met die ondersteuning van Agrico. Hulle glo dat boere baat sal vind by die wye produkreeks, sterk logistiek en mededingende pryse wat Agrico bied. Finansiering sal ook voortaan aangebied word op geselekteerde produkreekse, insluitende AGRICO-spilpunte.
Die verkryging stel Agrico in staat om ‘n beter diens aan boere in die Wes-Kaap te lewer, sê Walter Andrag, Agrico se uitvoerende hoof. “Dripco se fokus op uitstekende klante-diens en tegniese vaardigheid pas perfek by ons strategie om die standaard te stel vir kundige wateroplossings. Ons verwelkom graag vir Lodie en sy span in die Agrico-familie en sien uit na ‘n langtermyn, wedersyds voordelige verhouding. Daar sal geen afleggings wees nie, en die fokus bly voortgesette groei.”
Bron: Agrico