Categories: Crop productionPublished On: 20th June 2017

Agrico help Afrika se boere om meer uit hulle water te put

By 3 min read
546 words
agrico

agrico 1

“Ons beplan om in Afrika, veral Zambië, uit te brei in ooreenstemming met die behoefte daar,” sê Alfred Andrag, bemarkingsdirekteur van Agrico SA.

Agrico was vroeër in Zambië betrokke deur agente, maar het nou hulle eie tak daar oopgemaak. “Ons het besluit om dit te doen as gevolg van ons uitbreiding in Zambië. Boere in Zambië geniet dus nou dieselfde voordele as boere in Suid-Afrika. “Hulle kan regstreeks met die vervaardiger sake doen. Dit beteken beter gehalte, diens- en prysvoordele,” sê Alfred.

Agrico se spilpuntbesproeiingstelsels is hulle sterkste produklyn. Volgens Hanre Wiese, operasionale bestuurder van Agrico Zambië, is daar talle Agrico-spilpunte in Zambië, maar die getal het oor die afgelope twee jaar verdubbel. “Die belangstelling is verseker daar, met omtrent weeklikse navrae oor spilpunte.”

Agrico spesialiseer nie net in besproeiing nie, maar verskaf ook ander toerusting en werktuie in Zambië. “Al ons produkte is getoets en het hulleself bewys. Ons het byvoorbeeld 17 trekkers in Zambië verkoop, en hulle presteer baie goed in die land.

“Tans ondersoek ons moontlikhede om ons dienslewering verder te verbeter. Ons markindringing in die noorde van die land is besig om vinnig toe te neem,” voeg Alfred by.

Agrico was een van die groot uitstallers by die AgriTech-skou en navrae is tot lank na die skou ontvang. “Dit is duidelik dat baie kommersiële en opkomende boere die skou bygewoon het en ons is dankbaar daarvoor. Boere wil meer weet van ons besproeiingstelsels en ons het ook sommer op die skou twee spoorvullerwerktuie verkoop,” sê Alfred.

Hanre sê: “Om op so ’n forum met kliënte en potensiële kliënte te skakel, is baie belangrik. Mense hou daarvan om ’n naam en gesig bymekaar te sit en dit is wat die skou regkry. Baie kleinskaalse boere het my ook na die skou gekontak om te gesels oor drup- en verskuifbare besproeiingstelsels, asook spilpunte.”

Volgens Alfred is dit duur om by ’n skou soos AgriTech uit te stal, maar dit bly ’n goeie belegging. “Ons sal weer volgende jaar uitstal as gevolg van die positiewe reaksie en terugvoering wat ons van boere ontvang het.”

Een van Agrico se groot projekte op die oomblik is by Zambia Mansa Sugar, ’n suikerrietskema in die Luapula-provinsie teen die Luapula-rivier naby Chembe. Die skema gebruik net Agrico se besproeiingstelsels.

“Daar loop reeds drie Agrico-spilpunte (65, 65 en 75 hektaar), nog drie word tans opgerig (75, 75 en 65 hektaar) en dan is daar ’n volgende fase wat nog 12 spilpunte gaan benodig. Altesaam sal daar amper 1 500 hektaar onder besproeiing wees,” sê Hanre.

’n Ander groot projek wat Agrico se stelsels gebruik, is Northern Coffee Corporation. Dit is een van die grootste, indien nie die grootste, koffieproduserende plase in Suidelike Afrika.

Hulle het tans 12 Agrico-spilpunte en gaan nou ’n volgende fase saam met Agrico begin. “Die projek het spilpunte wat van 28 tot 80 hektaar elk besproei, om altesaam amper 500 hektaar te dek,” sê Hanre.

’n Agrico-spilpunt bring stabiliteit en help jou om wins te maak. Kontak Alfred Andrag by 082-824-1214, 021-950-4111 of alfred.andrag@agrico.co.za

Hooffoto: Hanre Wiese, operasionele bestuurder, Agrico Zambië; Alfred Andrag, bemarkingsdirekteur, Agrico SA; en Charity Tembo by die Agrico-uitstalling tydens die AgriTech-skou wat in April by Chisamba in Zambië gehou is.

Agrico

Alfred Andrag wys hoe stewig is ’n Agrico-spilpunt wat in Afrika vir Afrika gebou word.

0
Views: 326Comments Off on Agrico help Afrika se boere om meer uit hulle water te put

Deel hierdie artikel.

0