Agri SA doen ‘n beroep op landbousektor om ag te slaan op COVID-19 voorsorgmaatreëls

corona virus
Agri SA verwelkom President Cyril Ramaphosa se aankondiging om die COVID-19-uitbreking as ‘n nasionale ramp te verklaar. Hierdie pandemie het nie net ‘n impak op die dag-tot-dag werksaamhede van alle sektore nie, maar dit hou ook ‘n ernstige gesondheidsgevaar vir alle Suid-Afrikaners in.
NEDLAC (Die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad) is tans besig om ‘n meer omvattende reaksie saam te stel op die COVID-19 rampverklaring. Die onderskeie ministeriële departemente sal vandag vergader om ‘n gebeurlikheidsplan te ontwikkel om die impak van hierdie ramp se impak te mitigeer. Agri SA sal deurlopend oor hierdie proses kommunikeer asook watter planne die regering in plek gaan stel om die COVID-19 uitbreking doeltreffend te bestuur.
Agri SA doen ‘n beroep op die landbousektor om gehoor te gee aan die regering se voorsorgmaatreëls om die verspreiding van COVID-19 te bekamp. Die COVID-19 pandemie is nie net ‘n epidemiologiese probleem nie, maar ‘n globale gesondheidsprobleem en kan slegs aangepak word deur middel van ‘n geïntegreerde en globale benadering.
Kom ons werk saam om enige optrede wat tot die verdere verspreiding van die virus kan lei, stop te sit. Dit kan moontlik gemaak word deur Agri SA se riglyne tesame met dié van die Wêreldgesondheidsorganisasie in hierdie verband te volg om ‘n gesonde en veilige werksomgewing vir almal te skep en te handhaaf: https://www.agrisa.co.za/news/a737c26fd4986b9f5bc5f3424d7a50c8.
Bron: Agri SA