Advance Seed vertel alles oor lusern plant
Lusern is ’n meerjarige peulgewas met ’n hoë voedingswaarde. Lusernverbouing is relatief maklik, maar saadbedvoorbereiding en saaidigtheid is van uiterste belang.
Daar is ongeveer 400 000 sade per kilogram in onbestrykte lusernsaad. Die saaidigtheid vir lusern onder besproeiing, is 25 kg/ha, en op droëland 4 tot 15 kg/ha. Onbestrykte saad wat teen 25 kg/ha aangeplant word, beteken 10-miljoen sade per hektaar.
In ’n behoorlik gevestigde lusernland behoort daar uiteindelik 60 tot 90 plante per m² (600 000 tot 900 000 plante per hektaar) te wees. Die ander ongeveer 9-miljoen sade is òf verdring òf net dood. Baie meer saad as wat nodig is word dus gewoonlik geplant om ’n goeie stand te verkry.
Advance Seed, ’n plaaslike leier in bestrykte en onbestrykte lusernsaad bied ’n uitstekende alternatief vir saadvermorsing. Daar is 220 000 tot 300 000 sade in ’n kilogram van Advance Seed se AgriCote-bestrykte lusernsaad. AgriCote-bestrykte saad wat teen 25 kg/ha geplant word, beteken dus 5 500 000 tot 7 000 000 sade per hektaar.
Daar hoef dus nie meer as 25 kg AgriCote-saad per hektaar geplant te word nie, maar dan is die volgende verbouingspraktyke noodsaaklik:
– ’n Medium tot fyn, gelyk en ferm saadbed. Saad onder besproeiing moet net-net bedek wees indien die grondprofiel tot veldkapasiteit benat word. Die bogrond moet klam gehou word totdat saailinge verskyn.
– Die regte grondtemperatuur tydens ontkieming. Koue maak lusernsaailinge vatbaar vir siektes en insekplae. Die ideale grondtemperatuur vir ontkieming is 10 tot 18º C.
– ’n Fynsaadplanter plaas saad akkuraat en ’n roller verseker behoorlike saad-grondkontak. Moenie grond wat na harde reën vasslaan rol nie.
– Op droëland moet die saad dieper (0,5 tot 1,5 cm) geplant word.
– ’n Grondontleding is noodsaaklik om bemestingtoediening te bepaal. Vermy grond wat na reën ’n kors vorm.
– Moenie stikstof op lusern toedien nie, aangesien dit die stikstofbindende proses van die lusernplant benadeel. AgriCote-bestrykte saad is met rhizobia ingeënt om stikstofbinding te bevorder.
– Bêre saad altyd in koel, droë toestande.
– Behoorlike insek- en plaagbeheer moet die eerste ses weke na vestiging toegepas word om standverlies veroorsaak deur rooibeengrondmyt en lusernvlieg te voorkom. Pythium-, Rhizoctonia-, Phytophtoraen Fusa-riumswamme kan ook skade aanrig. Die sistemiese swam- en insekdoder in AgriCote-bestryking, behoort saailinge teen dié siektes en insekte te beskerm.
As hierdie verbouiingspraktyke nie nagevolg word nie moet die saaidigtheid tot 35 kg bestrykte saad per hektaar verhoog word om die gewenste plantestand te behaal.