Categories: NuusPublished On: 23rd April 2018

Actebis Dormers Uitverkoping

By 2 min read
433 words

actebis dormers

Actebis Dormer Stoet hou vanjaar hulle sesde produksieveiling op 4 Mei 2018, dit is ook by hierdie geleentheid waar die uitverkoping van Actebis Dormers gehou sal word. Die veiling beloof om van die beste genetika in die Dormer-bedryf te verkoop.  Volgens Willie Esterhuyse, die dryfkrag agter Actebis Dormers sedert 2001, sal kopers van Actebis Stoetdiere die gemoedsrus kry dat alle rekords noukeurig en korrek gehou word en dat daar op alle diere ‘n volledige entings en siekte beheerprogram toegepas word.

Sedert die stoet in 2001 begin is, word daar slegs van die beste genetika ingekoop om sodoende die stoet te verbeter. Voorkeur word gegee aan eienskappe soos groei, vrugbaarheid en aanpasbaarheid. Actebis Dormers het ten doel om ‘n verskil in elke kommersiële en stoetboer se kudde te maak deur die beste moontlike genetika beskikbaar te stel tydens die opkomende veiling.

Willie het as kind al ‘n liefde ontwikkel vir die ras. “Ek het te doen gekry met die Dormers deur my pa wat Dormerramme en Ille de France-ramme in ‘n kruisteelprogram met tweede kudde Merino-ooie te gebruik. Hier het ek die waarde van die Dormer gesien met sy uitstekende groei en vrugbaarheideienskappe,” sȇy.

Die Dormerras is juis bekend vir hierdie eienskappe asook uitstekende moedereienskappe, aanpasbaarheid en karkaskwaliteit.  “Ek het die Actebis Dormerstoet in 2001 begin deur my eerste Dormers by Kobus Louw te koop. Daarna het ek op sy volgende drie veilings 20 stoet ooie aangekoop en so die basis begin vorm van Actebis stoet,” voeg Willie by. Actebis Dormers is gelëe op plaas Brakpan, Petrusburg, in die Vrystaat.

Actebis Dormers beoog om met die opkomende veiling hoë kwaliteit genetika beskikbaar te stel wat die Dormerras tot voordeel sal trek.  Volgens Esterhuyse het hy besluit om die uitverkopingsveiling te hou omdat hy uit sy Dohne Merino’s wil uitbrei en slegs Dormerramme gebruik in ‘n kruisteelprogram op Dohnes. Tydens die veiling sal gehalte genetika beskikbaar wees -dus indien jy top genetika wil aanskaf en ernstig is omtrent Dormers, is dit die veiling om by te woon. Uitstekende kommersiëele diere, veral ramme, kom ook onder die hammer en alhoewel die meerderheid diere wat aangebied word stoetdiere is, sal daar ook kommersiële diere beskikbaar wees.

Actebis Dormers-veiling vind plaas op Vrydag, 4 Mei 2018 om 11:00 te K.A.T. Implemente Sentrum, Bainsvlei, Bloemfontein.

Daar sal 165 top Dormers op aanbod wees, waaronder 90 dragtige stoetooie, 30 jong stoetooitjies (8 maande), 20 dragtige kommersiële ooie en 25 stoet- en kudderamme.

Nageslag van bekende ramme soos Barnard JB [13-74], Rambo [W10.216], Sambok JJ [7-24] en RH [11-95] sal ook op aanbod wees.

Indien jy meer wil uitvind kan jy Jan Joubert kontak by: 082-573-4980

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0