Aanvallers in hof oor Rouxville-plaasmoord

witkruismonument web
Twee mans wat beskuldig word van die plaasmoord by Rouxville in die Vrystaat, verlede week, het gister in die hof verskyn en hulle verhoor is uitgestel tot Vrydag. Die twee is verlede Vrydagaand in Bloemfontein aangekeer met die eiendom van die boer en sy vrou. Een van die beskuldigdes het op die boer se plaas gewerk.
Dr Bennie Cilliers, algemene praktisyn in Rouxville, is op 60-jarige ouderdom op die plaas Gouda vermoor. Sy vrou, Cecilia, is besig om aan te sterk in Mediclinic, Bloemfontein. Dr Cilliers se roudiens is Vrydag om 11:00 in Rouxville.
Sesde aanval in die Vrystaat hierdie jaar
Hierdie is al die sesde ernstige plaasaanval vir 2016 en die eerste moord vir die jaar sê Vrystaat Landbou se Veiligheidslessenaar. Die ander ernstige geweldsmisdade het op plase in die Parys-, Edenville-, Tierpoort-, Bloemspruit- en Heilbrondistrikte plaasgevind.
Vrystaat Landbou is dankbaar oor die aankondiging van luitenant-generaal Kgomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiehoof, dat aanvalle op plase nou ‘n prioriteit word. Die organisasie spreek die hoop uit dat Phahlane se voornemens vir meer mannekrag en voertuie vir die platteland spoedig sal geskied.
Die landbou-unie het boere weer eens aanmoedig om hulle paraatheid op te skerp en hulleself so ver as moontlik te beveilig. “Volgens die Grondwet is almal geregtig op ’n veilige omgewing, maar dit is gewoon net nie vir die Polisie moontlik om almal heeltyd te beveilig nie. Ons versoek boere om self ook verantwoordelikheid te neem vir hulle veiligheid, om deel te word van veiligheidstrukture en om aktief daaraan deel te neem,” sê Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee. “Ons wil ons innige meegevoel met dr Cilliers se naasbestaandes betuig vir hulle groot verlies, en spreek die hoop uit dat die misdadigers in hierdie saak na behore vervolg sal word,” voeg hy by.
VL se Veiligheidslessenaar het ook ‘n studie oor plaasaanvalle in die Vrystaat in hulle nuusflitse vir Januarie bekend gemaak waarin hulle bevind het dat die oorgrote meerderheid van die aanvalle vooraf beplan word.
“Dit wil voorkom asof hulle goeie opleiding en/of goeie ondervinding in die hantering van vuurwapens ontvang het en dat hulle deurlopend in gesprek was met ‘n persoon/persone in ’n voertuig wat hul van die toneel af vervoer het na die aanval. Navorsing dui aan dat in ongeveer 50% van gevalle daar een of ander konneksie bestaan tussen die aanvallers en plaaswerkers veral ten opsigte van die uitruil van inligting.”
‘n Paar van die veiligheidswenke wat in die verslag gegee word:
- Landbouers moet gedurig in kontak wees met hulle bure, die Polisie en die gemeenskap;
- Hulle moet inskakel by ‘n plaaswag wat gereeld patrollies ry;
- Hulle moet deel word van kommunikasiestrukture (soos WhatsApp groepe) ten opsigte van skakeling van vooraf inligting ten opsigte van verdagte voertuie/persone;
- Goeie verhoudings met plaaswerkers is noodsaaklik en moet bevorder word waar werkers ook inligting verskaf rakende moontlike verdagte persone en voertuie;
- Hou klein hondjies binne die huis, veral snags;
- Slegs een toegangsroete tot plaashuise;
- Slaapkamers moet met ‘n veiligheidshek van die res van die huis geskei word;
- Oefen deurentyd jou persoonlike gebeurlikheidsplan in jou huis met jou familie (bepaal byvoorbeeld wie is verantwoordelik vir wat tydens ’n aanval);
- Opstel van kameras in en om die woning om vooraf inligting rakende beweging op te tel;
- Hou werkersprofiele by en stel toegangsbeheer in ten opsigte van bewoners en besoekers aan plase;
- Moenie onwettige immigrante in diens neem nie;
- Veiligheid/sekuriteit nl. diefwering om die huis moet aangebring word;
- Wees altyd oplettend, waaksaam en paraat;
- Moenie kontant by die woning aanhou nie;
- Wees opgelei in hantering van vuurwapens;
- Identifiseer ’n vertrek binne die huis wat goed beveilig is, waar die nodige kommunikasie kan plaasvind en vuurwapens gehou word sodat u daar kan skuil tot hulp opdaag;
- Hou selfone gelaai en versteek addisionele selfone elders in die woning;
- Hou ’n lys van belangrike nommers altyd byderhand; en
- Probeer roetine sover moontlik vermy.
Lees die volledige verslag met bevindings oor die oorsake van plaasaanvalle hier.
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar