Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 22nd July 2026

Pioneer-landboukundige gesels oor abnormale mieliekopontwikkeling

1189 words

nathan-kelly-7X4GrhnmIyY-unsplash

Abnormale mieliekopontwikkeling (AED – Abnormal Ear Development) is ՚n algemene tendens wat in Suid- Afrika voorkom. Hoewel abnormaliteite wêreldwyd voorkom, is die beste gedefinieerde literatuur Amerikaans.

Daarom sal ek hoofsaaklik van Engelse beskrywings gebruik maak vir verdere selfstudie. Ons gebruik in elk geval die Amerikaanse beskrywings wanneer ons in die veld werk. Abnormale mieliekopontwikkeling is ՚n algemene tendens wat in Suid-Afrika voorkom. Kopvrotsiektes kan ook as abnormale kopontwikkeling geklassifiseer word, maar ek gaan meer fokus op fisiologiese afwykings. Fisiologiese afwykings is die resultaat van ՚n komplekse interaksie tussen genetika, omgewing en bestuurspraktyke, soos plantdatum en chemiese bespuitings.

Mielienavorsing probeer reeds langer as 100 jaar om kopabnormaliteite te verstaan, maar daar is steeds onbeantwoorde vrae en geen definitiewe afleidings nie. Die mees kritieke stadiums vir die ontstaan van hierdie afwykings vind tussen die V8- en V12- groeistadiums plaas. Dit veroorsaak dat die primêre en/of sekondêre kop nie normaal ontwikkel nie.

Algemene ‘AED’-simptome

1. Arrested Ear Syndrome (AES)

Ook bekend as “Beer Can Ears”, “Blunt Ear Syndrome” en “Stunted Ears”.

Simptome

Algehele afname in koplengte. Totale afname in die aantal pitte per ry. Met volwassenheid is die koppe duidelik korter en kleiner, bevat hulle minder pitte en eindig die stronk met ՚n skerp punt. Die skutblare is ook gepunt en kan die baardverskyning belemmer.

Oorsake

՚n Spesifieke stremmingstoestand tydens die vroeë ontwikkeling van die primêre kop is verantwoordelik vir die abnormale, klein en gedeeltelik onontwikkelde kop. Hierdie stremmingstoestande vind plaas voordat die kopvorming vasgelê is. Moontlike oorsake sluit blaarvoeding of die toediening van chemiese onkruiddoders ná die V8-groeistadium in. Die stremmingstoestand vind gewoonlik etlike weke voor pluim-vorming (VT) plaas, hoofsaaklik gedurende die V8- tot V12-groeistadiums.

Navorsing het getoon dat die gebruik van nie-ioniese bevorderaars die voorkoms van AES verhoog. Purdue Universiteit het bewys dat hoe meer produkte in die spuittenk gemeng word, hoe groter die risiko en erns van AES is.

2. Barbell Ears

Foto: Timothy Vargo, Ohio State-universiteit

Simptome

Pitte vorm aan die basis en punt van die kop, terwyl slegs die stronk in die middel sigbaar is, met geen ontwikkelde pitte nie.

Oorsake

Aborsie van die ovules vind plaas as gevolg van ՚n stremmingstoestand en/of vatbare genetika. Stremmingstoestande
sluit uiterste temperature en die gebruik van ALS-onkruiddoderinhibeerders gedurende die V7- tot V10-groeistadium in.

3. Onvolledige pitvorming

Ook bekend as “Incomplete Kernel Set” en “Missing the Nick”.

Simptome

Pitte vorm ongelyk en verspreid oor die lengte van die kop. Geen volledige rye met goed ontwikkelde pitte kom voor nie.

Oorsake

Onvolledige bestuiwing as gevolg van onderbroke stuifmeelstorting of onvoldoende hoeveelhede stuifmeel beskikbaar. Periodes van hoë temperature, lae humiditeit en onvoldoende grondvog kan veroorsaak dat die baarde uitdroog en nie ontvanklik is vir stuifmeel nie. Sulke stremmingstoestande kan ook veroorsaak dat baardstoot  vertraag word, met die gevolg dat stuifmeel gestort word voordat die baarde voldoende ontwikkel het. Dit lei tot swak bestuiwing en gevolglik onvolledige pitvorming.

4. Multi-Ears

Foto: Golden Harvest Seeds

Ook bekend as “Bouquet Ears”.

Simptome

Meer as een kop ontwikkel uit dieselfde mieliekopsteel (shank). Die koppe is gewoonlik kleiner, onvolledig bestuif
en bevat minder of geen pitte nie.

Oorsake

Genetika (baster-eienskappe) speel waarskynlik die grootste rol, aangesien sekere basters meer geneig is om hierdie simptome te toon. Dié verskynsel is relatief swak nagevors, en daarom bestaan daar nog onsekerheid oor die presiese oorsake van Bouquet Ears. Die huidige hipotese is dat chemiese aktiwiteit gedurende ՚n sensitiewe vroeë ontwikkelingsfase, in kombinasie met genetiese vatbaarheid, tot die verskynsel kan bydra.

Hittestremming gedurende vroeë kopvorming en -ontwikkeling (V5-V14), asook die verkeerde aanwending van onkruiddoders, swamdoders en mikroelemente, kan moontlik ՚n rol speel. Enige faktor wat die apikale dominansie
van die primêre kop benadeel of verhinder, kan die ontwikkeling van veelvuldige koppe stimuleer.

5. Zipper Ears

Foto: Golden Harvest Seeds

Ook bekend as “Banana Ears”.

Simptome

Pitte in ՚n ry is gedeeltelik of totaal afwesig op die kop. Dit kan ook twee of meer aangrensende rye wees wat ontbreek. Gewoonlik is die kop ook piesangvormig, gebuig in die rigting van die afwesige rye.

Oorsake

Swak bestuiwing en pit-aborsie nadat bestuiwing plaasgevind het, gewoonlik as gevolg van omgewingstremming.
Stremming kan ook veroorsaak word deur kompetisie tussen plante vir sonlig, voedingstowwe en vog, met ander woorde wanneer plantpopulasies te hoog is vir die spesifieke seisoen se klimaatstoestande. Ontblaring is waarskynlik die grootste bydraende faktor.

6. Deurskynende wateragtige pitte

Foto: RL Nielsen, Purdue Universiteit

Ook bekend as “Translucent Kernel Syndrome”.

Simptome

Wisselende, verspreide bevrugte pitte kom oor ՚n normaal ontwikkelde kop voor, maar die pitte het ՚n deurskynende voorkoms. Pitte in ՚n ry kan gedeeltelik of totaal afwesig wees. Soos die kop fisiologies verouder, ontwikkel die deurskynende pitte tot klein, verrimpelde pitte wat verspreid oor die kop voorkom.

Oorsake

Die grootste oorsaak van hierdie simptome is laat toedienings van glifosaat, gewoonlik ná die V8-stadium.

7. Pinched Ears

Simptome

Pinched Ears word gekenmerk deur ՚n normale koplengte, maar die aantal rye aan die basis van die kop is gewoonlik
dubbel die aantal rye bo aan die punt van die kop.

Oorsake

Die aantal rye per kop word gedurende die V6- tot V12-stadium bepaal, met ՚n verdubbeling wat tipies gedurende die V9-stadium plaasvind. Enige stremming gedurende hierdie stadium, veral laat post-emergence-toedienings van ALS-inhiberende onkruiddoders, kan die aantal rye drasties verminder. Sulfonielureum-onkruiddoders en organofosfaat-grondtoegediende insekdoders kan ook ryverlies tot gevolg hê.

Gevolgtrekking

Van al die bogenoemde simptome is Arrested Ear Syndrome die beste gedokumenteer deur navorsing wat die erkeerde tydsberekening van nieioniese bevorderaars bevestig (Nielsen, R.L., 2008. ‘Arrested Ears Resulting from Pre-Tassel Applications of Pesticide and Spray Additive Combinations’). Die gevaarlikste toedieningsvenster gedurende die ontwikkeling van die mielieplant is tussen die V8- en V14-stadium. Die meeste chemiese produkte bevat reeds bevorderaars in die finale formulasie en kan daarom soortgelyk reageer as nie-ioniese bevorderaars.
Hou in gedagte dat die doel van enige bevorderaar in ՚n formulasie is om die aktiewe bestanddeel te help om meer doeltreffend die regte teikenplek in die plant te bereik volgens die produk se “mode of action”.

Wanneer ons van nie-ioniese bevorderaars praat, beteken dit dat hulle geen elektriese lading dra wat opname oor of deur die selmembraan belemmer nie. Hulle beskik egter oor goeie wateroplosbaarheid en verenigbaarheid, wat die spesifieke molekule help om die aktiewe teikenpunt in die plant te bereik.

In alle opsigte verteenwoordig dit die ideale (“utopia”) omgewing vir die werking van bevorderaars. Indien die plant egter om enige rede stremming ondergaan – hetsy weens uiterste hitte, warm winde, vogstremming, koueskade of haelskade – ondergaan die plant hormonale veranderinge om te oorleef. Wanneer chemiese middels gedurende omgewingstremming toegedien word en die plant in die kritieke V8- tot V14- ontwikkelingsfase is, moet produsente
bewus wees van die risiko wat daarmee gepaardgaan. Dit is moontlik om vir verskeie seisoene geen probleme te ervaar nie, maar wees versigtig vir daardie een dag wanneer alle faktore ongunstig saamwerk.

Vir meer inligting of navrae kan boere Pioneer kontak deur ՚n e-pos te stuur na info.rsa@pioneer.com, of besoek hul webwerf by www.pioneer.com/za.

Bronne

• http://www.kingcorn.org/news/articles.08/ArrestedEars-1209.html
• http://www.kingcorn.org/news/articles.08/ArrestedEars-1209.html

• Golden Harvest Seeds Agronomy
• RL Nielsen, Purdue Universiteit
• Ohio State-Universiteit, Agronomie

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0