Categories: Artikels, Vee en Wild, VoedingPublished On: 18th December 2025

40 Jaar se visie en voerkrag – Die nalatenskap van Oranjeriviervoere

By 7 min read
1341 words

DSC02638

Rocco de Villiers van ORV.

Die nalatenskap van Oranjeriviervoere (ORV) is ’n verhaal van kennis en ervaring, van twee broers wat selfgeproduseerde lusern en mielies langs die Oranjerivier as veevoer wou benut. Meer as 40 jaar later is ORV een van die suksesvolste voermaatskappye in Suid-Afrika en ’n voorloper wat betref tegnologie en dataversameling.

Die verhaal van dié suksesvolle voermaatskappy begin by die twee Botha-broers, Johan en Nico.

Die ontstaan van Oranjeriviervoere

Johan vertel dat jy nie direk lusern of mielies by boere kon koop in die 1970’s nie. Daar was lusern beskikbaar in
Prieska, maar in daardie tyd was dit streng beheer en kon jy net lusern by die koöperasie aankoop. Mielies kon
ook net van die Mielieraad verkry word. Sy broer, Nico, het in daardie jare op Kareehoek in die distrik Britstown
geboer en het besef hy sou self ’n plan moes maak vir veevoer. Dus sou hy sy eie mielies en lusern moes plant. Hy het 30 morg (sowat 26 ha) grond teen die Oranjerivier gekoop en lusern geplant, wat hy dan aangery het na Kareehoek.

Daar het hy vir hom ’n klein voeraanleg opgerig. In 1982 het hulle in Prieska gevestig en voer kommersieel begin verkoop. “Toe die besigheid in 1982 gestig is, moes ons die plek ’n naam gee, en ons het besluit op Oranjerivier
Boerdery. Dit was die vennootskap se naam en daaruit het ons uiteindelik Oranjeriviervoere gestig. Ons wou die voer aan die Oranjerivier konnekteer omdat die rivier so bekend was vir sy gehalte lusern,” verduidelik Johan.

Uitdagings aan die begin

Die koop van lusern en mielies was aan die begin ’n groot uitdaging vir die broers, maar hulle moes ook ander uitdagings trotseer. In die begin het hulle geen krag gehad nie en Johan vertel dat hulle vir sowat ’n jaar op die plaas gebly het sonder krag. Hulle moes noodgedwonge hul eie kraglyn oprig en ten duurste krag van die munisipaliteit koop. Later jare kon hulle oorskuif na ’n Eskom-lyn.

“Ons het van niks af begin, en skielik moes ons kompeteer teen baie groter maatskappye. Ons was eintlik klein gewees en kyk, dit was nogal moeilik om in die mark te kom. Ons moes maar direk verkoop, koöperasies wou nie by die klein besigheid koop nie. Ons moes ons eie bemarking doen, maar mens is klein so jy kon nie baie bemarking doen nie,” onthou Johan.

’n Familiebesigheid

Nico is in 2010 oorlede en Johan het die besigheid ten volle oorgekoop en oorgeneem sodat hy saam met sy kinders kon voortbou op ORV se nalatenskap. “Ek het al baie gewonder, as my broer moet sien waar ons vandag is, wat sal sy reaksie wees? Toe hy oorlede is, was ons maar nog relatief klein,” dink Johan terug.

In 2015 het hulle net buite Prieska in die Noord-Kaap ’n nuwe, moderne voeraanleg begin oprig en in 2016 het die aanleg begin produseer. Vandag verskaf hulle voer aan boere regoor Suid-Afrika en selfs in omliggende Afrika-lande.

“Die groter fabriek het vir ons nog meer vlerke gegee, want ons kon die mark so bietjie uitbrei. Die ou fabriek was klein, so jy was so versigtig om ’n mark aan te vat en dan kan jy nie voorsien nie, waar ons nou eintlik baie kapasiteit het om nuwe markte te ontgin,” verduidelik Johan.

Johan se seun, ook Johan, was baie betrokke by die ontwerp van die fabriek asook die tegnologie wat ingebring is. Soos die fabriek en die besigheid gegroei het, het hulle nog masjiene ook bygevoeg by die fabriek. “Ek moet sê, hy het nogal ’n visie gehad. Mens dink altyd hierdie is groot genoeg en dan gebeur iets en dan is dit nie groot genoeg nie en dan sit jy vas.”

ORV word deur ses lede van die familie bestuur en Rocco de Villiers is die maatskappy se logistieke bestuurder. Hy vertel dat hulle self besproeiingsboere is en die lusern en mielies wat hulle produseer, word dan in die veevoerfabriek gebruik.

“Ons het ’n redelike ekstensiewe produklys wat gefokus is op herkouers soos skape en beeste en dan het hulle ook ’n volstruisreeks wat reeds goed gevestig is.”

Hy vertel dat ORV se proefkraal ’n groot voordeel vir hulle is, want die produkte wat hulle vervaardig word self deur hulle beproef en gebruik in hul eie boerdery. “Ons het ’n merino-kudde waarmee ons kommersieel asook ekstensief in die Prieska distrik boer,” vertel hy.

Net die beste tegnologie

Johan Botha (junior) vertel dat hulle net die nuutste tegnologie en Europese standaarde in die fabriek wou inbring, maar tog ’n Suid-Afrikaanse komponent ook hê en daarom het hulle die twee bymekaar gebring.

“Meeste van ons toerusting word plaaslik vervaardig, maar ons beheerstelsel, wat die brein van die fabriek is, is ’n Europese stelsel wat ons die gerustheid gee dat ons produk altyd konsekwent is en op dieselfde manier gemeng word. Op hierdie manier kan ons maklik nasporing doen indien nodig,” verduidelik hy. Die veevoerformulasies vir ORV word deur ’n voedingkundige inhuis gedoen en dan maak hulle ook gebruik van konsultante om te verseker dat hulle net die beste voerformulasies het wat beskikbaar is.

Hulle is so seker van hul voer dat hulle dit self op hul eie veeplase gebruik asook in hul proefkraal. “Ons probeer om ons proefkraal so ekonomies as moontlik te maak. Die idee met ons proefkraal is om voer te produseer wat vir ons kliënte die meeste geld in hulle sakke sal sit. Dit beteken nie noodwendig altyd die hoogste produksie nie, maar ons wil waarde toevoeg vir ons kliënte. Ons gebruik ons proefkraal om nuwe voere te beproef en nuwe produkte te probeer sodat ons vir boere waarde kan toevoeg op hulle plase,” sê Johan.

ORV se veevoeraanleg kan 20 ton voer per uur produseer en hulle kan tot 400 sakke per uur afsak. “Ons het die slaankrag om jou te kan help.”

Beproef en probeer

ORV het 12 proefkrale waar hulle vier of drie rantsoene op een tyd kan beproef. Elke proefkraal het sy eie silo wat op ’n skaal gemonteer is en elke kraal se lammer word ‘ge-tag’ sodat die kraal se inname gemeet kan word. “Ons koop lammers in of ons gebruik ons eie lammers vir die proef, dan deel ons hulle ewekansig in elke kraal in, want ons wil die voer proef en nie die lammers nie,” vertel Johan (senior).

Hulle maak gebruik van BKB se DSS-program vir hul proewe en gebruik ook DSS ekstensief in hulle boerdery. BKB kan dan ’n volledige verslag aan ORV lewer wanneer die proef deurgehardloop is. Hulle meet die inname, groei en winsgewendheid van die voer in die proefkraal.

“Ons kyk na rantsoene, so ons gebruik verskillende rantsoene en verskillende insluitings en dan kyk ons waar die ‘sweet spot’ is. Dit is nie noodwendig altyd dat ’n rantsoen met ’n hoë energie-inhoud die beste gaan doen nie.”

Die inligting wat uit die proefkraal versamel word, stuur hulle weer terug na die voeraanleg waar hulle veranderinge aan hul formulasies kan maak om te verseker dat hulle voer die beste resultate lewer.

Wat hou die toekoms in vir ORV?

Vir Johan het baie dinge verander sedert hy en sy broer die boerdery en besigheid gestig het.

“Ek het nou agter geraak met die tegnologie. By die ou fabriek was dit ’n groen knoppie en rooi knoppie, so jy het maar net gestop en start. Nou is dit rekenaars wat alles beheer.”

Die groot rede hoekom hulle soveel moeite in hul voer insit, vertel Johan, is omdat dit duur is om jou diere te voer. So wanneer jy hulle voer, moet jy seker wees dat hulle net die beste kry sodat hulle vir jou die beste resultate kan lewer.

Wanneer hy terugdink aan die afgelope 40 jaar, was die opening van die nuwe fabriek vir hom beslis ’n hoogtepunt, maar wat hom regtig trots maak is dat sy kinders hierdie suksesvolle besigheid saam met hom behartig en elkeen sy eie unieke stempel op die besigheid afdruk.

“My droom is om plek te maak vir die res van die familie, om vir die kleinkinders ook spasie te skep sodat dié wat belangstel ook eendag by die besigheid kan aansluit.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0