Categories: Artikels, Meganisasie, NuusPublished On: 8th December 2025

2025: Landbouhoogtepunte

By 21 min read
3920 words

Balfour Hooidag

2025 het vir Suid-Afrikaanse landbou ’n jaar van uitdagings en geleenthede gebring. Van droogtetye, siekte-uitbrekings en stygende insetkoste tot baanbrekende innovasies en rekordprestasies op veilings, het hierdie jaar gewys hoe veerkragtig en aanpasbaar die landboubedryf is.

Terselfdertyd bied die toekoms nuwe moontlikhede en positiewe tekens van groei. Ons neem jou graag saam deur ’n paar van die jaar se hoogtepunte, in ’n neutedop, wat hierdie dinamiese en inspirerende jaar vir die landboubedryf gemerk het.

Januarie

Balfour Hooidag 2025 bars uit sy nate!

Ons het die landboukalender afgeskop met die Balfour Hooidag, wat vanjaar uit sy nate gebars het met ’n rekordgetal besoekers en die meeste uitstallers nog. Sowat 1 300 besoekers het die dag bygewoon vergeleke met slegs 35 mense by die eerste Hooidag 13 jaar gelede. Vier-en-sestig uitstallers en 10 verskillende fabrikate het hooitoerusting gedemonstreer, alles van harke tot balers, snyers, balers en ander hooitoerusting.

Die Balfour Hooidag het nie net die nuwe seisoen afgeskop nie, maar het ook ’n vernuwende belangstelling in hooitoerusting- en produksie getoon.

Ermelo-Oos hou eerste suksesvolle Hooidag

Nie net het die jaarlikse Balfour Hooidag talle boere gelok nie, die Ermelo-Oos Boerevereniging het die inisiatief geneem om ’n hooidag in hulle omgewing ook te begin, en die eerste geleentheid was beslis die begin van vele meer wat wag! Met meer as 150 boere en belanghebbendes wat deur die hekke gestroom het, het die dag alle verwagtinge oortref en ՚n sterk fondament gelê vir ՚n blink toekoms.

Trotse lede van die Ermelo-Oos Boerevereniging na afloop van ’n suksesvolle eerste Ermelo Hooidag.

Kverneland se 9542-kraghark wys hoe die gras flink en vinnig gehark word.

Februarie

Kalahari Red-ram maak skoonskip

Die veiling van die South African Kalahari Red Club, wat op 22 Februarie 2025 te Fire & Wine-arena Pretoria gehou is, het uitstekende pryse opgelewer, insluitend ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord.

’n Kalahari Red-ram van Tollie Jordaan en Seuns is vir ’n uitsonderlike bedrag van R280 000 verkoop aan Buffelspruit Kalahari Reds. Die vorige rekordprys was R270 000 tydens ’n veiling wat verlede jaar deur die SA Kalahari Red Club in Pretoria aangebied is.

Maart

Case IH stel mooi, rooi Steiger 715 Quadtrac bekend

Maart 2025 sal onthou word as die maand waarin Suid-Afrika vir die eerste keer die Steiger 715 Quadtrac in aksie kon sien. Hierdie reus is nie meer net ’n trekker nie, dit is ’n bewys van vernuwende tegnologie, ongeëwenaarde werkverrigting en Case IH se verbintenis tot vooruitgang.

Die mooi, rooi Case IH Steiger 715 Quadtrac.

Hierdie kragmonster het vir die eerste keer amptelik in Maart 2025 in Suid-Afrika geland, gereed om boere se produktiwiteit en doeltreffendheid na ’n nuwe vlak te neem. Dit kan ongetwyfeld verwesenlik word vanweë die Steiger 715 Quadtrac se enorme 533 kW (715 perdekrag) en ’n piekkrag van 580 kW (778 perdekrag).

R13,5 miljoen omset tydens Ntaba Nyoni se 2025-produksieveiling

Ntaba Nyoni se agste produksieveiling is vroeg in Maart by Phala-Phala Wildlife aangebied en het weereens bewys waarom hierdie veiling ’n groot trekpleister vir Ankole- en Boran-genetika is. Die veiling het ’n indrukwekkende omset van R13,5 miljoen behaal, met ’n gemiddelde prys van R187 500 per lot.

Lot 2: NANK24-058, ’n nuwe genetiese bulkalf (E506 x E711). Prys: R550 000. Kopers: Nico Lerm en Walter Kinnear.

Lot 4: NANK20-007, ’n Bont Ankole-koei met haar kalf NANK20-027 (ICT 52″ Cumulus 3-in-1). Prys: R550 000. Koper: Lasarus Ankole.

Lot 6: Caroline (BH170424) & NBOR24-134, ’n B07‑83-dogter met ’n Jester-bulkalf. Prys: R650 000. Koper: Nowaal Mdluli.

April

R2,3-miljoen vir boerbokram, ’n wêreldrekordprys

’n Boerbokram is vir ’n wêreldrekordprys van R2,3 miljoen verkoop. Die ram, met die naam Next Level (762-22-1427), is deur VEA Studbreeders van Bonnievale in ’n private transaksie aangekoop van die Lukas en Abraham Burger Stud in Griekwastad, Suid-Afrika.

Hierdie uitsonderlike boerbokram, wat tydens die SA Boerbok-wêreldskou in Bloemfontein as die agttand-wêreldkampioen gekroon is, het ’n nuwe rekord gevestig vir die hoogste prys wat nog vir ’n boerbokram betaal is, en het die vorige rekord van R850 000 vir die ram Porsche in 2022 oortref.

Die boerbokram Next Level wat vanjaar vir ’n bedrag van R2,3 miljoen verkoop is, ’n wêreldrekordprys.

Mei

NAMPO-park buite Bothaville het van 13 tot 16 Mei 2025 weer sy staal gewys. Met ’n rekordgetal van 87 191 besoekers en meer as 900 uitstallers het die 57ste NAMPO-oesdag nie net sy status as die grootste graangerigte landbouskou in Suider-Afrika bevestig nie, dit het ook gewys hoekom dié bedryf die land aaneenlopend bou.

Die beskrywende tema “Global Agriculture, Locally!” het presies vasgevang wat op die terrein gebeur het. Internasionale tegnologie en plaaslike vasbyt het hande gevat om praktiese oplossings vir Suid-Afrikaanse boere te bied.

NAMPO Bothaville bly ’n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse landboukalender.

Junie

Die grootste trekker in Afrika sit voet aan wal!

Een van die hoogtepunte van 2025 vir Suid-Afrikaanse boere was die indrukwekkende demonstrasiedag op 19 Junie by Aser Nel Boerdery tussen Hoopstad en Wesselsbron, aangebied deur Senwes in samewerking met John Deere. Die ster van die dag was die splinternuwe John Deere 9RX 830, ’n vier-rusperband-trekker wat krag en topprestasie kombineer met die nuutste landbou-tegnologie.

Hierdie trekker is vir die eerste keer tydens NAMPO Bothaville 2025 aan die publiek bekend gestel en kon nou vir die eerste keer gedurende die demonstrasiedag in aksie gesien word. Die 9RX 830 stuur ’n duidelike boodskap aan moderne Suid-Afrikaanse boere: tegnologie is nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid vir volhoubaarheid, produktiwiteit en wins.

Die John Deere 9RX830 is die grootste trekker in Afrika en weeg 38 ton, kan tussen 610 kW en 680 kW krag op die grond neersit, en sleep reuse werktuie met min moeite deur die landerye.

Die wenners van die 2025 Decanter-wynkompetisie is in Junie vanjaar aangewys. Knorhoek Cabernet Sauvignon 2021 het onder die top-50 beste op die skou van die 22ste Decanter-wêreldwynpryse (DWWA) gepronk. Dit is die enigste plaaslike wyn wat die lys gehaal het. Suid-Afrika het die sesde meeste medaljes ontvang waarvan 192 brons, 246 silwer, 45 goud, drie platinum en een beste op die skou (Knorhoek).

Platinummedaljes:

  • Hasher Family Batrachella Pinotage 2022
  • Backsberg Patriarch Cabernet Franc 2022
  • Groot Constantia Estate Grand Constance 2020

Julie

Bonsmara-bul verkoop vir R4-miljoen

Die welbekende Bonsmarastoet Up George Bonsmaras, het weereens hulle plek aan die voorpunt van die bedryf bewys in hul jaarlikse produksieveiling wat op Vrydag, 4 Julie 2025 op hulle plaas aangebied is.

’n Uitsonderlike bul is op die dag vir ’n indrukwekkende R4 miljoen verkoop aan Bertus en Fouché Blignaut van Sebadja Bonsmaras – ’n rekordprys wat nie net die koppe laat draai het nie, maar ook die gehalte van genetika by albei stoete bevestig het.

Lot 8, LAR 21-45 verkoop vir R4 miljoen rand aan Sebadja Bonsmaras in hul 27ste produksieveiling.

Val-boeredag: 30 jaar sterk

Die Val-Boeredag het hierdie jaar hul 30ste bestaansjaar gevier. Die boeredag is vir die eerste keer in 1995 deur die Waterval Boerevereniging by Val, ’n geskiedkundige gehuggie halfpad tussen Balfour en Standerton, aangebied.

Tydens die eerste boeredag was daar agt uitstallers en sowat 30 besoekers. Vanjaar, 30 jaar later, het die aarde behoorlik gedreun op dieselfde terrein met 252 uitstallers en ’n geskatte 6 000 besoekers wat saamgekom het om die grootste, blinkste en beste trekkers en toerusting in die landboumark te sien.

30ste Val Boeredag lok talle besoekers, toeskouers en boere.

Begroting bring nuwe landbou-hoop

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het op 8 Julie vanjaar die Landboubegroting vir 2025/’26 in die parlement voorgelê en ’n visie van groei en modernisering vir die sektor uitgestippel.

Die begroting fokus op vennootskappe, marktoegang, biosekerheid, rampgereedheid en voedsel- en voedingsekerheid.

Sleutelintervensies sluit in die finalisering van ’n nuwe makrostruktuur en die vaartbelyning van digitale stelsels om integrasie van 18% tot 30% teen 2030 te verhoog. ’n Biosekerheidsraad van 50 dieregesondheidstegnici is gestig om uitbrekings te bestuur en bek-en-klouseer te beperk, terwyl Onderstepoort se kapasiteit versterk word.

Verder word ’n nasionale voedsel-en-voedingsekerheidsplan geïmplementeer, en ’n opgegradeerde marktoegangstrategie beoog nuwe geleenthede in Asië en die Midde-Ooste. Politieke hervormings sluit wetwysigings, ’n digitale landbouplatform en ’n produsent-ondersteuningsportaal in.

Met uitvoere wat reeds R258 miljard beloop, wil Steenhuisen landbou as ’n dryfkrag vir ekonomiese ontwikkeling en volhoubare groei vestig.

Minister van landbou, John Steenhuisen.

Sewe Ster Bonsmaras open opleidingsentrum

Op 17 Julie 2025 het Sewe Ster Bonsmaras ’n groot mylpaal bereik met die opening van hul nuwe opleidingsentrum op Plaas Rietfontein naby Hartbeesfontein.

Die sentrum is geskep om boere in Noordwes toe te rus met kennis, tegniese ondersteuning en ’n plek vir samewerking. Dit bied ’n tuiste vir boeredae, opleidingsessies, vergaderings en inligtingsdae, ’n waardevolle toevoeging wat lankal in die streek benodig is.

Arlington Boeredag: Kennis en vernuf

Die Agri Arlington Boeredag het op 23 Julie 2025 buite Arlington in die Vrystaat plaasgevind en, ondanks 25 mm reën die vorige nag, het dit ’n groot opkoms en entoesiasme gelok.

Boere, verskaffers en landboukundiges het saamgekom om die nuutste tegnologie en toerusting te verken.

Die dag was meer as net ’n uitstalling – dit het ’n platform vir kennisdeling, samewerking en inspirasie gebied, met sterk klem op praktiese waarde en plaaslike toepasbaarheid.

Benewens die indrukwekkende demonstrasies was daar ook gesellige kos- en koffiestalletjies wat warmte en gemeenskapsgees aan die geleentheid verleen het.

SA Preserveerkampioenskappe lok skares

Op 23 Julie 2025 is ’n nuwe era vir plaaslike preserveerprodukte ingelui met die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe by Eensgezind buite Durbanville.

Met 456 inskrywings van 66 vervaardigers – dubbel die verwagte getal – het die geleentheid nasionale erkenning aan hoëgehalte gepreserveerde produkte gegee.

’n Paneel van 38 kenners, insluitend sjefs, kosskrywers, handelseksperte en afgevaardigdes van die Vroue-Landbouvereniging, het die produkte deur ’n blinde proeproses beoordeel.

Die kampioenskappe, aangebied deur Agri-Expo, het meer as 100 klasse gedek – van konfyt, marmelade en blatjang tot piekels, pesto’s en ander kreatiewe skeppings – met die vereiste dat alle inskrywings reeds publiek beskikbaar moes wees.

Die wenners van die kampioenskappe is:

SA Perseveerproduk van die jaar: Compagniesdrift Makataan Chunks

Blatjang: Montagu Foods Shoprite Housebrand/Ritebrand Peach Fruit Chutney

Groente in sous: Creative Cuisine Pantry Curried Baby Onions

Ingelegde groente: Jumping Jackal Delicacies Pickled Jalapeño Whole

Ingelegde vrugte: Kloovenburg Olives, Black Olives in Blackberry Dressing

Jellies: Domein Doornkraal Plum Jelly

Konfyt: Uit-die-bottel Quince Jam

Marmelade: Hemelhuijs Kumquat Conserve

Pesto: Pesto Princess Sundried Tomato Pesto

Relish: Miami Boere Relish, Sweet Tomato

Tapenade: Willow Creek Olive Tapenade with Black Olives, Anchovies & Capers

Vrugte in stroop: Compagniesdrift Makataan Chunks

Inheemse plante kry landboustatus

Op 21 Julie 2025 is ’n historiese besluit geneem toe inheemse gewasse en medisinale plante amptelik as landbouprodukte verklaar is ingevolge die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte. John Steenhuisen het die insluiting goedgekeur, wat ’n sektor met ’n beraamde waarde van R12 miljard per jaar formeel erken.

Hierdie stap volg op jarelange versoeke van rolspelers in die landbousektor en maak die deur oop vir groter ekonomiese deelname, beleggings en ondersteuning. Die erkenning gaan egter verder as landbou alleen – dit herstel die ekonomiese, kulturele en geestelike waarde van tradisionele plante wat lankal deel van Suid-Afrikaners se leefstyl is.

Die besluit gee nie net ’n ekonomiese hupstoot nie, maar bevestig dat die wortels van die verlede nou die saad van die toekoms word.

Suid-Afrika het ʼn skatkis van inheemse plante, soos die duisende Kaapse fynbosspesies. Die bekendste voorbeeld hiervan is die koningsprotea, ons land se nasionale blom, met die botaniese naam Protea cynaroides.

Augustus

KragDag 2025: Selfstandigheid in aksie

KragDag 2025 is van 7 tot 9 Augustus op Diamantvallei Landgoed buite Pretoria aangebied en het besoekers van regoor die land gelok.

Onder die tema “Bou ’n nalatenskap” het die ekspo gefokus op praktiese idees en tegnologie wat gesinne, boere en entrepreneurs bemagtig om selfstandig en volhoubaar te leef.

Met ’n verskeidenheid uitstallings, demonstrasies en gesprekke het KragDag bewys dat dit meer is as ’n handelskou – dit is ’n leerskool en netwerkgeleentheid waar oplossings vir beurtkrag, watertekorte en ander uitdagings gedeel word.

Die tema het deurgaans weerklank gevind en deelnemers het huis toe gegaan met nuwe idees én ’n sterker besef dat selfstandigheid ’n belegging in die toekoms is.

KragDag het sy posisie bevestig as ’n onmisbare platform vir volhoubare groei en gemeenskapskrag in Suid-Afrika.

KragDag 2025.

Vivo Boerebemarkingsdag 2025 breek rekords

Die Vivo Boerebemarkingsdag 2025, wat van 22 tot 23 Augustus aangebied is deur CVO Skool Vivo, het weereens sy status as Limpopo se grootste landbou-ekspo bevestig.

Met sowat 5 000 besoekers, onder wie kinders wat die geleentheid gratis kan bywoon, het die geleentheid ’n belangrike ontmoetingspunt vir boere, entrepreneurs, gesinne en die plaaslike gemeenskap geword.

Meer as 100 landbou-uitstallers het tegnologie, tegniek en bemarkingsgeleenthede uitgelig, terwyl die gewilde MammaMall met 66 uitstallers en 16 kosstalletjies plaaslike produkte en disse aangebied het.

Vanjaar is geskiedenis gemaak met die grootste aartappelsakkie-uitstalling in Suid-Afrika, asook die eerste en grootste boerekep-uitstalling nog.

Vivo Boerebemarkingsdag 2025. Die boeredag groei jaarliks van krag tot krag en is nou Limpopo se grootste landbou-ekspo.

FNB Sauvignon Blanc Top 10 en nuwe aromawiel

Die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie het vanjaar 20 finaliste uit vier oesjare aangekondig, wat die veelsydigheid en verouderingspotensiaal van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc beklemtoon.

’n Splinternuwe aromawiel – die eerste van sy soort in die land – is ook bekend gestel.

’n Paneel kenners onder leiding van dr. Carien Coetzee het die finaliste uit 167 inskrywings van 98 produsente gekies.

In sy 19de jaar bevestig die kompetisie, aangebied deur Sauvignon Blanc SA, sy gesogte status. Die finaliste het beide koel en warmer streke verteenwoordig.

Hierdie jaar se Top 10-wenners:

  • Ataraxia Sauvignon Blanc 2025 (Kaapse Suidkus)
  • Cederberg Wines Ghost Corner Wild Ferment Sauvignon Blanc 2024 (Elim, Kaap Agulhas)
  • Delaire Graff Coastal Cuvée Sauvignon Blanc 2025 (kusstreek)
  • Groote Post Sauvignon Blanc 2025 (Darling)
  • Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2023 (Wes-Kaap)
  • Maastricht Sauvignon Blanc 2025 (Durbanville)
  • Merwida Sauvignon Blanc 2025 (Breedekloof)
  • Rietvallei John B Sauvignon Blanc 2025 (Robertson)
  • Steenberg Barrel Fermented Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Constantia)
  • Vrede en Lust Artisan Range Blanc Fumé 2021 (gehout) (Wes-Kaap)

LA Rhone Holden Helix hou uitsonderlike Limousin-veiling

Bulle: 62 van 62 verkoop teen ’n gemiddeld van R222 500.

Hoogste prys: R2,8 miljoen vir Cockpit LR21-79, verkoop aan Leadwood Limousins. Ander uitsonderlike verlope sluit in: Dixon LR22-146 verkoop vir R1,8 miljoen aan Hartland Farm en Admiral LR19-38 verkoop vir R1 miljoen aan HSNV Group.

Cockpit LR21-79 verkoop vir R2,8 miljoen.

Koeie en kalwers: 46 van 46 verkoop teen ’n gemiddeld van R248 700. Hoogste prys: R1,4 miljoen vir Delaney LR22-128, verkoop aan HSNV Group. Ander uitsonderlike verkope: Zetha LR18-32 verkoop vir R900 000 aan Mutanda Farms, Buzukie LR20-95 en Dasha LR22-127 verkoop elk vir R600 000 aan onderskeidelik Ibrahim Abba en BB5 Boerdery.

Delaney LR22-128 verkoop vir R1,4 miljoen.

Dragtige verse: 16 van 16 verkoop teen ’n gemiddelde van R153 000. Hoogste prys: R550 000 vir Eclipse LR23-56, verkoop aan Leadwood Limousins. Ander uitsonderlike verkope: Elixir LR23-54 verkoop vir R400 000 aan Barmousin Landgoed, Estina LR23-21 verkoop vir R280 000 aan Mutanda Farms.

Eclipse LR23-56 verkoop vir R550 000.

Oop verse: 21 van 21 verkoop teen ’n gemiddelde van R137 200. Hoogste prys: R1 miljoen vir Fairy LR246, verkoop aan Mutanda Farms. Fresia LR24-62 verkoop vir R220 000 aan HSNV Group.

Embrios: 10 van 10 verkoop teen R60 000 elk, aan BB5 Boerdery.

September

NAMPO Kaap 2025

NAMPO Kaap 2025 toon rekordopkoms

Die sesde NAMPO Kaap-ekspo wat van 10 tot 13 September 2025 by Bredasdorp Park plaasgevind het, het ’n rekordopkoms van 49 326 besoekers gelok en sy posisie as die Wes-Kaap se toonaangewende landbouplatform bevestig.

Sedert die eerste ekspo in 2018 met 16 000 besoekers, toon die geleentheid bestendige groei en het vanjaar die 45 894 belangstellendes van 2024 ver oortref. Uitstallers het sterk besigheid en waardevolle gesprekke gerapporteer.

Benewens die landboufokus het die ekspo ’n groot impak op die plaaslike ekonomie gehad, met vol bespreekte gastehuise, besige restaurante en seisoenale werksgeleenthede.

Die gemeenskapsgees is versterk deur gesinsvriendelike hoogtepunte soos die Boerboel-kampioenskappe, die Merino Classic- en pensteek-uitstallings, wat tradisie en kultuur by die tegnologievertoning gevoeg het.

NAMPO Kaap is nie net ’n landbou-ekspo nie, maar ook ’n gemeenskapsfees wat innovasie, tradisie en plaaslike ekonomiese groei saambring.

Mahindra stel AgriWys bekend

Mahindra Tractors het tydens NAMPO Kaap 2025 hul nuwe telematika-platform, AgriWys, bekend gestel – ’n digitale oplossing wat boere intyds met hul trekkers en implemente verbind.

Die stelsel bied GPS-opsporing, enjin- en spoedmonitering, daaglikse ritregisters, kostebestuur en waarskuwings teen brandstofdiefstal of verkeerde gebruik.

Met die krag van 4G-GPS-tegnologie help AgriWys produsente om prestasies te ontleed, onderhoud proaktief te bestuur en winsgewendheid te verhoog. Mahindra beklemtoon dat hulle nie net trekkers bou nie, maar ook volhoubare, tegnologie-gedrewe oplossings bied wat boere bemagtig om onafhankliker en meer doeltreffend te boer.

Vier rekordpryse behaal tydens Nasionale Beef Shorthorn-veiling

Nog een van die hoogtepunte van 2025 was die Nasionale Beef Shorthorn-veiling wat op 19 September by die Bloemskougronde gehou is, aangebied deur Vleissentraal Bloemfontein. Die veiling was besonder uitsonderlik, met vier nuwe Suid-Afrikaanse rekordpryse vir die Shorthorn-ras op een dag.

Johan Strydom het lot 14, ’n bul, vir ’n rekordprys van R80 000 aan Pieter Botha verkoop. Neil Dry het ’n 3-in-1-koei met bulkalf vir R50 000, ’n dragtige vers vir R35 000, en ’n oop vers vir R34 000 verkoop, almal ook rekordpryse.

Hierdie veiling het duidelik getoon dat gehalte Shorthorn‑diere steeds van hoë waarde is en dat die Suid-Afrikaanse veilingmark steeds sterk presteer.

Lot 14, ’n Beef Shorthorn-bul, verkoop vir ’n rekordprys van R80 000 tydens die Nasionale Beef Shorthorn-veiling.

Vlnr: Ian Grobler – afslaer Vleisentraal, Jessica en Johan Strydom (Strydberg Beef Shorthorn), Paul van Biljon Vleissentraal en Niel Dry (Nieman Beef Shorthorn).

Dormer-ram verkoop vir R400 000

Hatari Dormers se Platinum Dormerveiling van 2025, wat op 20 September by Plaas-Content in Bainsvlei, Bloemfontein, plaasgevind het, het bewys waarom Hatari Farming steeds ’n vooraanstaande naam in die Dormer-mark is. Die onbetwiste ster van die dag was Lot 3, T 23 376 “Grizzly”, ’n stoetram van 2 Broers Dormers. Hierdie ram het vir R400 000 aan Nova Barletta Dormers van Clocolan verkoop, ’n uitstekende prys vir ’n Dormerram en ’n bewys van die hoë standaard wat die groep se diere kenmerk.

Die duurste ram, Lot 3, T 23 376 “Grizzly” verkoop vir R400 000 aan Nova Barletta Dormers. Vlnr: Henri Naudé (BKB) , Pieter Jordaan , Lodie van Reenen (koper), dr. Carel Scholtz (koper), Marius Eksteen, Tjaart Steenekamp (verkoper) Jovaan Cloete (BKB-afslaer), Abraham Steyn, Jan Eksteen en Steyn Steenekamp.

Oktober

Groei vir Goud 2025: Rekordopbrengste

Die Groei vir Goud-toekennings 2025 het weereens Suid-Afrika se topgraanprodusente vereer vir hul uitsonderlike opbrengste, innovasie en bydrae tot voedselsekuriteit. Hierdie jaar was histories, met ’n oplewing van nuwe nasionale rekords in mielie-, koring- en sojaboonkategorieë, wat die kundigheid en aanpasbaarheid van produsente beklemtoon, selfs te midde van klimaatuitdagings.

Rekordprestasies:

  • Koring: Nuwe rekordopbrengste in die noordelike en suidelike besproeiingskategorieë.
  • Mielies: Rekords in al ses streekkategorieë, gedryf deur presisieboerdery en gevorderde genetika.
  • Sojabone: Drie nuwe rekords in besproeiings- en droëlandgebiede.

Die toekennings, nou in hul sesde jaar, het ’n baken van erkenning en vooruitgang geword.

Graanboer van die Jaar 2025

Hansie Viljoen van Leeudoringstad is aangewys as Graan SA/Syngenta se Graanboer van die Jaar 2025. Saam met sy vrou, Wilmarie, en hul drie seuns, bedryf hy Viljoen Boerdery in die Noordwes, waar presisieboerdery-tegnologie, grondgesondheid en ’n sterk besigheidsin sy sukses dryf.

Sy boerdery is ’n toonbeeld van volhoubare diversifikasie, met mielies, sojabone en ander gewasse, terwyl sy mensgedrewe bestuursfilosofie en belegging in vaardighede en tegnologie ’n wenresep skep.

Hansie beklemtoon dat ware sukses nie net in opbrengs lê nie, maar in die gesondheid van die grond wat vir toekomstige geslagte agtergelaat word.

Hy het die toekenning aan sy gesin en span opgedra en beklemtoon dat boerdery berus op tydsberekening, spanwerk en vertroue, en dat hy trots is om deel te wees van ’n sektor wat groei, aanpas en die nasie voed.

Hansie Viljoen se benadering tot boerdery kombineer innovasie, volhoubaarheid en generasienalatenskap – ’n ware voorbeeld van moderne graanboerdery.

Hansie Viljoen, Graanboer van die Jaar vir 2025.

Prestige Agriwerker 2025: Shannon Robertson

Shannon Robertson (25) is aangewys as die 2025 Wes-Kaapse Prestige Agriwerker tydens ’n glansgeleentheid op die Eureka-landgoed in Durbanville. Sy dien as assistentbestuurder van die lewende hawe-afdeling op Boschendal naby Franschhoek en is uit 1 393 inskrywings as wenner gekies.

Shannon, wat in Kuilsrivier grootgeword het en haar skoolloopbaan by die Laerskool en Hoërskool De Kuilen voltooi het, beskryf haarself as ’n buite-kind wat baie tyd saam met haar grootouers deurgebring het. Haar familiegeskiedenis weerspieël ’n sterk landbou-erfenis – haar oupa, Jaftha van de Rheede, het sy skoolloopbaan opgegee om die gesin te ondersteun deur groente- en aarbeiboerdery.

Die Prestige Agriwerker-kompetisie, wat in 2002 ontstaan het as die Plaaswerker van die Jaar-kompetisie, het intussen ’n gesogte jaarlikse instelling geword wat plaaswerkers regoor die Wes-Kaap erken vir hul bydrae tot die landboubedryf.

Shannon se toekenning vier nie net haar energie en toewyding nie, maar ook die belangrike rol van plaaswerkers in die Wes-Kaapse landbou.

Prestige Agriwerker 2025, Shannon Robertson.

November

AgriSA Jongboer van die Jaar

Francois Rossouw, die vierde geslag wat op die familieplaas Mooigezicht Estates in De Doorns in die Hexriviervallei met tafeldruiwe boer, is vroeër vanjaar as die Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar aangewys.

Agri SA het Francois geluk gewens met die toekenning as Agri SA se Jongboer van die Jaar. “Francois se leiding by Mooigezicht Estates, sy tegnologiegedrewe benadering tot water en voeding, en sy fokus op mense-ontwikkeling maak hom ’n ware kampioen van die Hexriviervallei. Sy visie dra by tot ’n mededingende, volhoubare tafeldruifbedryf.”

Francois Rossouw, Agri SA Jongboer van die Jaar vir 2025.

LNR Meester-suiwelboerwenners 2025

Die Landbou Navorsingsraad (LNR) het op 13 November 2025 die wenners van die Nasionale Meester-suiwelboer-toekennings by Lanzerac in Stellenbosch aangekondig.

Hierdie gesogte kompetisie, ’n hoogtepunt op die landboukalender, gee erkenning aan Suid-Afrika se topsuiwelboere vir uitstekende prestasie en genetiese teelgehalte.

Die 2025 wenners:

  • Grootskaal Meester-suiwelboer: JK Basson Family Trust (Darling, Wes-Kaap)
  • Mediumskaal Meester-suiwelboer: Van Niekerk Boerdery BK (Caledon, Wes-Kaap)
  • Kleinskaal Meester-suiwelboer: Letsolo PT Dairy (Sebokeng, Gauteng)
  • Korrektiewe Dienste Meester-suiwelboer (nuwe kategorie): Goedemoed Correctional Services (Aliwal-Noord, Oos-Kaap)
  • Beste somatiese seltelling: Packwood Farm (Knysna, Wes-Kaap) – 170 000 selle/ml
  • Beste tussenkalfperiode: JK Basson Family Trust (Darling, Wes-Kaap) – 375 dae
  • Eretoekenning: Boy Blanckenberg (Klipheuwel, Durbanville) vir sy leierskap en lewenslange bydrae tot die suiwelbedryf.

Die wenners van die 2025 LNR Nasionale Meester-suiwelboer-toekennings, van links, dr. Litha Magingxa, president en uitvoerende hoof van die LNR, LNR se Nasionale Mediumskaal Meester-suiwelboer van die Jaar Wimpie van Niekerk (Van Niekerk Boerdery BK), Nasionale Kleinskaal Meester-suiwelboer van die Jaar Christiaan Tsolo (Letsolo PT Dairy), Nasionale Grootskaal Meester-suiwelboer van die Jaar asook LNR se nasionale kudde met die beste tussenkalfperiode JK Basson (JK Basson Family Trust), nasionale kudde met die beste somatiese seltelling Heinrich Hurter (Packwood Farm) en prof. Norman Maiwashe, LNR-hoofbestuurder: diereproduksie. Foto: A Gorman Photography.

Nasionale Angora-ramveiling

Nog ’n hoogtepunt van 2025 was die Nasionale Angora-ramveiling, aangebied deur die House of Fibre, wat op 13 November by die pragtige Botanics Sports Grounds in Graaff-Reinet plaasgevind het.

Die hoogtepunt van die dag was die hoogste prys vir ’n ram. Benjohan Snijman van Vleikuil Angora Stoet in Rietbron het hierdie besondere ram vir R100 000 by Jordi van Hasselt van Hasselt Farming in Prince‑Albert gekoop. Die hoogste pen ooie is verkoop aan Willem Retief (De Bad Angora Stoet), Hanover teen R8 500 per ooi van Grootfontein Students Angora Stud, Middelburg.

Rekord sitrus-uitvoere

Nog ’n hoogtepunt in November was die rekordgetalle behaal in die sitrusbedryf. John Steenhuisen het sy opregte gelukwense aan die bedryf uitgespreek na die aankondiging van ’n rekord-uitvoerseisoen, waarin 203,4 miljoen 15 kg‑bokse sitrus na wêreldmarkte gestuur is. Dit verteenwoordig ’n 22%-toename teenoor 2024 en oortref nie net aanvanklike skattings nie, maar ook langtermyn-groeiprojekte.

Suid-Afrika is tans die tweede grootste sitrusprodusent ter wêreld, net agter Spanje. Sowat tweederdes van die sitrusproduksie word as vars vrugte uitgevoer, wat 95% van die totale sitrusinkomste per jaar genereer en beduidende werkgeleenthede in die landbou ondersteun.

Biohoutskoolprojek herstel Noord-Kaap-weiding

’n Baanbreker-biohoutskoolprojek van Terraligna, ’n filiaal van Kickstart Capital, bied nuwe hoop vir boere in die dor Hantam-streek van die Noord-Kaap.

Die inisiatief fokus op die uitroei van die indringerspesie Prosopis (“mesquite”), wat reeds groot skade aan plaasgrond veroorsaak het.

Fase Een, wat teen einde 2025 begin, beoog om 3 000 ha op te ruim, met ’n einddoel van 23 000 ha en die produksie van sowat 10 000 ton biohoutskool.

Twee bio-steenkool-oonde sal binnekort in die streek geïnstalleer word, met verdere eenhede wat bygevoeg sal word soos die projek uitbrei.

Bio-houtskoolprojek.

Desember

RPO bek-en-klou-inenting

Begin Desember 2025 het die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) die aankondiging deur die minister van landbou verwelkom dat die hele land teen bek-en-klouseer ingeënt sal word. Die grootste probleem met bek-en-klouseer vir primêre ekstensiewe veeboere is nie die siekte self nie, maar die ekonomiese gevolge wat daarmee gepaardgaan.


Hoogste Tuli-pryse vir 2025.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1