2020 Nasionale Begrotingsrede – tyd vir daadwerklike optrede

tito mboweni
Die minister van Finansies, Tito Mboweni, staar ‘n moeilike uitdaging in die gesig wanneer hy sy Nasionale Begrotingsrede op 26 Februarie gaan lewer. Hy sal bewys moet lewer dat hy tot fiskale konsolidasie verbind is in die konteks van ‘n omgewing wat gebuk gaan onder swak ekonomiese groei, beurtkrag asook ‘n potensiële kredietafgradering deur Moody’s. Die afwering van ‘n afgradering is heel waarskynlik bo-aan sy agenda.
Verdere besonderhede oor die implementering van strategieë vir ekonomiese herlewing, byvoorbeeld die Nasionale Tesourie se ekonomiese strategie[1] en die planne soos na verwys in die President se staatsrede, sal noodsaaklik wees om beleggersvertroue te steun.
‘n Balans tussen regeringsinkomste (belastinginkomste) en-uitgawes is sentraal tot dié begroting. Haalbare planne sal in plek moet wees om die begroting te balanseer terwyl die belangrikheid van ekonomiese groei in ag geneem word. Die begroting moet ook die risiko van toenemende staatskuld aanspreek.
Agri SA hoop dat minister Mboweni die volgende elemente in sy begrotingsrede sal aanspreek:
- Droogtehulp: Doeltreffende en vinnige regstreekse hulp aan droogtegeteisterde gebiede en landbouers. Landbou-besighede kan as agente dien om hulp te verleen met die verspreiding van droogtehulp. Droogte-verligting moet tot die beskikking wees van boere in die akkerbou-, tuinbou- en diereproduksie-subsektore.
- Elektrisiteit: Elektrisiteit is ‘n sleutel produksie-inset vir die landbousektor. Boere is prysnemers, dus het stygende elektrisiteitskoste ‘n direkte impak op ons internasionale mededingendheid waar boere die verhoogde insetkoste moet absorbeer. Hervorming in die elektrisiteitsektor en mitigasie van Eskom se voorsiening-beperkings (beurtkrag) en finansiële uitdagings moet aangespreek word.
- Grondhervorming en hulp aan opkomende boere: Meer befondsing vir grondhervorming en ondersteuning vir opkomende boere is uiters noodsaaklik. ‘n Uitkomsgebaseerde benadering, gekoppel aan tegniese en mentorskap ondersteuning, kan voordelig wees.
- Biosekuriteit: Befondsing om Suid-Afrika se biosekuriteitsmaatreëls te steun en te versterk. Die uitdagings wat bek-en-klouseer bied, dien as voorbeeld van die behoefte aan meer befondsing ter versterking van hierdie maatreëls. Ons moet ook verseker dat daar voldoende kapasiteit bestaan in terme van die getal personeel met behoorlike opleiding.
- Sukkelende munisipaliteite: Planne om munisipaliteite se besigheidsmodelle te moderniseer asook om hul bestuur en dienslewering te verbeter. Sulke munisipaliteite hou negatiewe gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie as geheel.
“Landbou is ‘n sleutelsektor om ekonomiese groei te ontsluit, tesame met sekerheid en ‘n gunstiger ekonomiese omgewing,” sê Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie & Handel.
Die begrotingsrede sal voorsiening moet maak vir beslissende optrede en implementering met die oog op die herlewing van die land se ekonomie. Gegewe die belangrike rol wat die landbousektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel, verwag ons dat die begroting genoegsame voorsiening sal maak om landbou se mededingendheid te bevorder. Dit moet ook landbouers, veral in die droogtegeteisterde gebiede ondersteun, sodat die sektor kan voortgaan om gehalte voedsel vir die land te produseer en ‘n bydrae te kan maak tot werkskepping en armoedeverligting soos beoog in hoofstuk ses van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).
Bron: Agri SA