Categories: NuusPublished On: 9th September 2025

20 Finaliste en eerste aromawiel vier veelsydigheid in FNB top Sauvignon Blanc SA 10-kompetisie

By 3 min read
623 words

SA Top 20 Sauvignon Blanc HR

Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc wys vanjaar sy veelsydigheid én verouderingspotensiaal met twintig finaliste uit vier oesjare wat vir die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie aangekondig is. ’n Splinternuwe Sauvignon Blanc-aromawiel – die eerste van sy soort vir Suid-Afrika – is ook bekendgestel.

‘n Paneel kenners onder leiding van dr. Carien Coetzee, ervare Sauvignon Blanc-beoordelaar, het die top 20-finaliste uit 167 inskrywings van 98 produsente aangewys. Dit is die 19de jaar van dié gesogte kompetisie, aangebied deur Sauvignon Blanc SA met hoofborg FNB en platinumvennoot Ever Solutions.

“Die paneel het die noukeurige gebruik van hout, die balans van groener style se vrugtekompleksiteit, asook die volronde karakter van die 2025-wyne geloof,” sê Coetzee. “Die 2024-gehoute wyne het uitgestaan, en produsente se vernuf om met komplekse style te eksperimenteer, is geloof.”

Die finaliste kom uit beide koel en warmer streke regoor die land. Groote Post Vineyards in Darling spog met drie wyne in die top 20, insluitend twee oesjare van dieselfde wyn – ’n besonderse prestasie.

Die 20 finaliste (alfabeties):

  • Ataraxia Sauvignon Blanc 2025 (Kaapse Suidkus)
  • Cederberg Ghost Corner Wild Ferment Sauvignon Blanc 2024 (gehout) (Elim, Kaap Agulhas)
  • Delaire Graff Coastal Cuvée Sauvignon Blanc 2025 (Kusstreek)
  • Diemersdal Sauvignon Blanc Reserve 2025 (Durbanville, Kaapstad)
  • Durbanville Hills Collectors Reserve The Cape Mist Sauvignon Blanc 2024 (gehout) (Durbanville, Kaapstad)
  • Eikendal Sauvignon Blanc 2025 (Elgin)
  • Groote Post Sauvignon Blanc 2025 (Wes-Kaap)
  • Groote Post Seasalter 2024 (gehout) (Wes-Kaap)
  • Groote Post Seasalter 2025 (gehout) (Wes-Kaap)
  • Groot Phesantekraal Sauvignon Blanc 2025 (Durbanville, Kaapstad)
  • Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Wes-Kaap)
  • KWV Cathedral Cellar Sauvignon Blanc 2023 (Wes-Kaap)
  • Langverwacht Sauvignon Blanc 2025 (Robertson)
  • Maastricht Sauvignon Blanc 2025 (Durbanville, Kaapstad)
  • Merwida Sauvignon Blanc 2025 (Breedekloof)
  • Paardenkloof Springtide Sauvignon Blanc 2024 (Botrivier, Walkerbaai)
  • Rietvallei John B Sauvignon Blanc 2025 (Robertson)
  • Steenberg Barrel Fermented Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Constantia, Kaapstad)
  • Tokara Reserve Collection Elgin Sauvignon Blanc 2024 (Elgin)
  • Vrede en Lust Artisan Range Blanc Fumé 2021 (gehout) (Elgin)

Saam met Coetzee het kenners soos dr. Winifred Bowman (Kaapse Wynmeester en internasionale beoordelaar), Praisy Dlamini (wynmaker en HUB van Adama Wines en HER Wine Collection), wynmakers Morgan Steyn (De Grendel) en Juandré Bruwer (Diemersdal), asook gasbeoordelaars Liezl Richards (Kaapse Wynmeester en uitvoerbestuurder by Gabriëlskloof) en Lauren Segers-Jewell (Wine Cellar), op die paneel gedien.

Vanjaar het Sauvignon Blanc SA met die Franse maatskappy Winespace saamgewerk om, met die steun van Tonnellerie Sylvain as borg, sy TASTEE-platform te benut – ’n stelsel wat intydse puntetoekenning vergemaklik en selfs KI gebruik om vir sekere wyne professionele smaakprofiele saam te stel.

NAARTJIE, FYNBOS EN BOEGOE KRY PLEK OP SA SE EERSTE AROMAWIEL VIR SA SAUVIGNON BLANC

Nog ’n hoogtepunt is die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste Sauvignon Blanc-aromawiel, ontwikkel deur navorsers van Universiteit Stellenbosch se Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut (SAGWRI) en Sauvignon Blanc SA, in samewerking met South Africa Wine en ander plaaslike en internasionale kenners.

Die wiel is saamgestel uit die sensoriese evaluering van 60 wyne deur 54 plaaslike kenners, aangevul deur internasionale beoordelaars van die Concours Mondial de Bruxelles (CMB). Dit verfyn meer as 200 beskrywings as 72 kerngeure – van wêreldstandaarde tot tipies Suid-Afrikaanse aromas soos naartjie, fynbos en boegoe.

Coetzee sê die aromawiel was ’n waardevolle hulpmiddel tydens die beoordeling: “Die beoordelaars het dit as ’n rigtinggewende raamwerk ervaar om die uiteenlopende wyne te beskryf, wat ‘n basis skep vir verdere verfyning deur Winespace.”

Volgens Elunda Basson, voorsitter van Sauvignon Blanc SA, is die wiel ’n mylpaal: “Dit vang die kultivar se aromatiese identiteit vas. Wynmakers, bemarkers en Sauvignon Blanc-liefhebbers kan dit gebruik om die uiteenlopende style van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc te verken – en dit is gratis beskikbaar op ons webwerf by sauvignonblanc.com.”

BELANGRIKE DATUMS

Die Top 10-wenners word op Woensdag 15 Oktober 2025 by die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-toekenningsgeleentheid aangekondig. Die uitslae sal ook op sauvignonblanc.com en sosiale platforms verskyn.

Die jaarlikse Sauvignon Blanc SA-Seminaar en Algemene Jaarvergadering vind op Woensdag 12 November 2025 by Hazendal Wynlandgoed plaas.

Uitgereik deur: Sauvignon Blanc South Africa

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0