Wyse boer produseer piekfyn pekanneute… met Jupidex se Andreoli Atom selfaangedrewe spuite

DSC_6978
Pekanproduksie kan lonend wees, maar dan moet die regte dinge reg gedoen word. Die kapitaaluitleg vir pekanboedery is hoog en jy moet lank wag voordat jy iets terugkry. ՚n Pekanneutboom kan agt tot tien jaar neem om volwassenheid te bereik en tot sy volle potensiaal te begin produseer. Maar wanneer dit reg gedoen word, is die opbrengs hoog en dit kan vir 100 jaar aanhou vrugte lewer.
Burger Boerdery in die Hartswaterdistrik het oor die jare heen ՚n wenresep vir pekanneutboerdery gekweek. Hulle boer met ongeveer 650 ha pekanneute, en hulle glo om winsgewend en volhoubaar met pekanneute te boer moet jy voor bly met die nuutste tegnologie, wat optimale doeltreffendheid en produktiwiteit verseker en terselfdertyd jou opbrengs verhoog. Joppie Nel is verantwoordelik vir die spuitwerk in die pekanneutboorde by Burger Boerdery.
Hy vertel: “Ons het voorheen agt sleepspuite van ՚n ander fabrikaat gehad, wat beteken het dat daar agt trekkers met agt drywers ingespan moes word en minstens vier trekkers en drywers wat die tenks met spuitstof rondry om die spuite vol te hou.”
Die Jupidex span, Izél Grobbelaar, Arthur Bezuidenhout, Christopher Laubscher, JC Blignaut en Jacques Le Roux saam met Joppie Nel en Andrew Brink van Burger Boerdery.
Burger Boerdery se uitbreiding het vereis dat hulle in ՚n korter tydperk meer spuitwerk moes afhandel. Met hulle vorige agt sleepspuite het dit te arbeidsintensief, minder doeltreffend en tydrowend geraak. Hulle het ՚n beter oplossing gesoek … en dit gevind in Jupidex se selfaangedrewe Andreoli-spuite. Joppie vertel: “Jupidex het hulle 4 000-liter Atom selfaangedrewe Andreoli-spuite hier op die plaas aan ons kom demonstreer en dit was beslis die deurslaggewende faktor wat ons oortuig het om die skuif te maak. In boerdery is tyd geld, en hierdie selfaangedrewe Andreoli-spuite was die oplossing vir al ons uitdagings.”
“Vandat hierdie drie spuite in Augustus 2021 op die plaas aangekom het, het hulle maar min stilgestaan, maar massas wonderlike werk verrig,” vertel Joppie. Die spuite word hoofsaaklik gebruik vir die toediening van blaarvoeding en kunsmis in die pekanneutboorde. Joppie vertel meer: “Die spuitseisoen begin gewoonlik in Augustus na oestyd. Ons spuit eers koper en daarna, tot Januarie, gee ons blaarvoeding vir die bome. Ons doen so 8 ha per uur met elkeen van die spuite. Twee van hulle het reeds tussen 700 en 800 uur op die klok. Jy kan teen ՚n spoed van 6 (selfs laer) tot 11 km per uur met die spuite werk; ons werk gewoonlik teen 9 km per uur.
“Met hierdie spuite bespaar ons ongelooflik baie tyd en arbeid. Ons spuit ongeveer 80 ha per dag met twee spuite, oor ՚n tydperk van ses uur,” voeg hy by. “Die spuit is baie tegnologies vriendelik en hy kalibreer homself – so as jy vinniger ry, dan spuit hy meer, en as jy stadiger ry, spuit hy minder. Een kenmerk wat vir my uitstaan van die spuit is die hidroulika. Alles aan die spuit werk hidroulies en word vanuit die kajuit beheer. Die kajuit is ook baie gerieflik, wat die operateur se lewe makliker maak. Daar is genoeg ruimte en dit is selfs toegerus met lugversorging, ՚n klankstelsel, ՚n lugverstelbare sitplek en ՚n sitplek vir ՚n passasier, sou iemand jou geselskap wil hou,” vertel Joppie tevrede.

Burger Boerdery is die trotste en tevrede eienaars van drie selfaangedrewe 4 000-liter-Atom Andreoli-die spuite wat hulle pekanneutboerdery
flink vooruit help.
Hy lig ook verder uit: “Vanuit die kajuit kan jy sien as daar ՚n sproeier verstop is en hoe vol jou tenk is. Die tenk hou 4 000 liter, waarmee ons 8 ha spuit. Nog iets wat uitstaan van hierdie spuite, is hoe hoog hulle kan spuit, wat baie voordelig is vir ons wanneer ons blaarvoeding toedien. Dit verseker dat selfs die hoogste dele van die bome bereik en bespuit word.”
“Ons is baie tevrede met die diens wat ons van die Jupidex-span ontvang. Wanneer ons ՚n probleem of ՚n vraag het, kom hulle plaas toe om dit tydig op te los. Wanneer ons onderdele benodig, spring hulle in om dit so gou as moontlik by ons uit te kry,” sluit Joppie af.

Die operateur beheer en moniteer spuite vanuit die gerief van die kajuit.
Met Jupidex se spuitoplossings aan Burger Boerdery se sy, is pekanneutboerdery toe nou nie so ’n harde neut om te kraak nie! Vir meer inligting oor die spuitoplossings wat Jupidex aan boere bied, besoek hulle webwerf by https://www.jupidex.co.za/ of skakel (+27)33-386-3574 vir meer inligting.