Witkruisarend vang nie lammers nie
Die witkruisarend (Aquila verreauxii), white-crested eagle in Engels, is ‘n groot swart roofvoël met ‘n kenmerkende wit V-vorm op die rug en wit vere op die kruis. Die wyfie is groter (tot 7 kg) as die mannetjie (tot 4,2 kg). Die vlerkspan is van 186 cm tot 222 cm.
Volgens die Predasiebestuursforum van die Noord-Kaap word die roofvoël ter wêreld dikwels foutiewelik daarvan beskuldig dat hy lammers doodmaak, maar dit is nie waar nie.
Volgens Niël Viljoen van Vee en Predasiebestuur is die witkruisarend, al is hy die sesde grootste arend ter wêreld, nie sterk genoeg om ‘n skaap- of boklam wat ouer as drie weke is te vang nie.
Hulle gunstelingprooi is in elke geval kleinwild soos dassies, maar hulle vreet ook hase, rietrotte, voëls en reptiele. Indien daar genoeg kleinwild en veral dassies op die plaas is wat hulle as kos kan gebruik, sal hulle nie sommer ‘n lam vang nie.
Die arend is dus baie voordelig vir die meeste boere omdat ‘n broeipaar arende en hulle kuikens tot 350 dassies per jaar vreet, wat help om dassiegetalle te beheer.
Dassies ding mee met skape vir veld en 350 dassies vreet omtrent dieselfde hoeveelheid gras as wat 22 gesonde skape in ‘n jaar sou eet.
Witkruisarende doen ook plaagbeheer. Omdat hulle opportunistiese voeders is, vreet hulle met tye ‘n groot klomp termiete, sprinkane en knaagdiere wat die boer andersins skade kon berokken het.
Bewyse
Witkruisarende aas soms op lammers wat doodgebore is of wat reeds deur ander predatore doodgemaak is.
Tekens dat ‘n arend ‘n lam gevreet het, maar nie noodwendig doodgemaak het nie sluit in:
- bondels pels of wol is uitgepluk;
- die vleis tussen die beentjies is uitgepik en die karkas is skoongevreet. Soms is die punte van ribbes afgebreek;
- die lam het kloumerke teen die kop of die nek en bene in die borug is vergruis weens die druk van die kloue;
- daar is onreëlmatig gespasieerde gaatjies in die vel en op die kopbeen;
- onder die vel rondom hierdie gaatjies is kwaai kneusing en bloeding wat deur die kloue se greep veroorsaak is; en
- die lang senings is nog aan die bene.
Tekens dat die lam voor of na geboorte dood is sluit in:
- daar is nog membraandoppies aan die hoewe wat wys die diere het nie geloop of gespartel nie en is dus doodgebore;
- as die longe ‘n dieprooi kleur is wys dit dat die diertjie nog nooit asem gehaal het nie;
- die lewer voel hard en is nie pienk en sponserig nie;
- daar is nie bloedklonte aan die einde van die naelstring nie;
- ‘n lam wat tydens geboorte swaargekry het, is goudgeel gevlek met mekonium en is moontlik dood tydens die geboorteproses of kort daarna;
- ‘n siek of verhongerde lam se vet is rooibruin en jellierig; en
- Daar is nie melk of kos in die melkpensie nie.
Dit is belangrik om die regte roofdier te bepaal wat vir die lam se dood verantwoordelik is. Verkeerde identifikasie kan lei tot meer skade omdat die korrekte metodes vir predasiebeheer toegepas moet word om die regte jagter te vang.
Dit is ook belangrik om te onthou dat alle diere en voëls ‘n plek in die ekologie het en elkeen het ‘n rol om te speel om die balans te handhaaf. As die ekologie versteur is, sal dit lei tot ‘n afname in kleinwildgetalle en dus ‘n afname in byvoorbeeld dassies, wat die witkruisarend se natuurlike gunstelingprooi is. Kleinwild is immers die primêre bron van voedsel vir die meeste roofdiere.
Meer oor die witkruisarend
Witkruisarende paar lewenslank en kan tot drie dekades lank aanhou broei. Hulle broei in die winterseisoen. Die paar bou saam ‘n groot nes op ‘n kranslys. Kort voor broeityd voer hulle die nes met sagte groen takkies uit.
Die wyfie lê een tot drie eiers wat sy na 43 tot 46 dae uitbroei. Sy voer die kuikens met prooi wat die mannetjie nes toe bring.
Die oudste oorlewende kuiken pik teen die vyfde dag na uitbroei die jonger kuiken(s) dood. Hy/sy bly 84 tot 99 dae in die nes en is tot op ses maande van die ouers afhanklik. Dit neem die jong volwasse arend tot vier jaar om ‘n volwasse veredos te kry. Soms skop die mannetjie die opgeskote kuiken uit die nes.
As toestande gunstig is, kan die paar twee broeisiklusse in ‘n seisoen voltooi. Soms bou hulle ‘n addisionele nes naby die hoofnes en wissel die twee neste met mekaar af.
Kontakbesonderhede
Niel Viljoen, 082 3818 227 / email: nielviljoen@gmail.com
Bonita Francis, Tel no (041) 3655030 / 082 413 6416 / email: nwga@nwga.co.za
Bronverwysings
Viljoen, N. (2024) Report: Livestock & Predation Management 2008 – 2023. https://pmfsa.co.za/wp-content/uploads/2024/04/Niel-Viljoen-the-predation-factor-2008-2023.pdf
Wanpersepsies oor die witkruisarend Rooivleisprodusente-vereniging (RPO). https://rpo.co.za/wanperspepsies-oor-die-witkruisarend-misperceptions-about-the-white-crested-eagle/
Witkruisarend. https://af.wikipedia.org/wiki/Witkruisarend \