Categories: Artikels, SA293-Vee-en-wild, Vee en WildPublished On: 28th June 2024

Winsgewende skaapboerdery deel 29: Voerkraalafronding van lammers

By 8 min read

CROCCS3_1024x1024

Dit is belangrik dat die skape in jou voerkraal te alle tye skoon drinkwater het. (Foto: CROC Trough Pumping Systems)

‘n Nuttige strategie om risiko in landbou te beperk is diversifikasie. In hierdie verband behoort voerkraalafronding ‘n integrale deel van ‘n skaapboerdery uit te maak om die risiko te verlaag. Winsgewende afronding van lammers verg egter kundigheid en goeie bestuur. Die skaapboer moet voortdurend uitdagings oorwin om sy onderneming winsgewend te bedryf.

Ekstensiewe skaapboerdery is van tyd tot tyd onderhewig aan weidingskaarstes weens rampof seisoendroogtes, prysskommelings in die vleismark weens die gehalte van die karkasse wat geproduseer word, asook die veranderinge in die aanvraag en/of aanbod (byvoorbeeld onbeheerde bemarking). Indien ‘n boer op ‘n hoë vleisprys wil aanspraak maak, sal hy aan verskeie aspekte aandag moet skenk.

Voerkraalafronding het ten doel om:

  • Lammers markklaar te kry in tye van weidingskaarste.
  • Kapitaalomset te versnel omdat lammers gouer bemark word.
  • Veldagteruitgang en oorbeweiding in droë tye te voorkom omdat dit veebelading verlaag en gevolglik kan veld gouer herstel na reën.
  • Druk op weidings te verlaag en weidings kans te gee om gouer te herstel en reserwes op te bou.
  • Vleisproduksie per hektaar te verhoog omdat meer teelooie aangehou kan word, want lammers word gouer van die veld verwyder.
  • Weiding te spaar en dus byvoeding te verlaag indien dieselfde getal teelooie aangehou word.
  • Waardetoevoeging te verseker deurdat gradering verbeter en swaarder karkasse geproduseer word. • Risiko te versprei, want lammers kan op verskillende tye bemark word.
  • Lammers vroeër te speen sodat ooie gouer gepaar kan word, byvoorbeeld in stelsels waar ooie elke agt maande lam. Waar lammers vroeër gespeen word, herwin ooie gouer hulle massa. Vir elke 1 kg wat ‘n ooi swaarder is met paring, styg die lampersentasie met ongeveer 1,5 tot 2,5%.
  • Om inkomste te verhoog omdat dit vertikale uitbreiding van skaapboerdery moontlik maak.
  • As ‘n aparte vertakking bedryf te word waar lammers ook ingekoop word.

Winsdrywers in ‘n voerkraal

‘n Skaapvoerkraal vereis baie meer kundigheid asook ‘n baie hoër bestuurspeil as dié van ‘n beesvoerkraal en die vlak daarvan is meer vergelykbaar met dié van ‘n melkery. Die omsettingsdoeltreffendheid van ingenome voedingstowwe (voeromsetverhouding) na vleis word deur faktore soos die gehalte van die voerkraalrantsoen, vrywillige voerinname, aanpassing, oorinplantings, medikasies, ouderdom en gehalte van die lam en vlak van voerkraalbestuur, bepaal.

Sowel die tempo waarteen lammers groei (GDT) as die doeltreffendheid waarteen hulle groei (VOV) het ‘n groot invloed op winsgewendheid omdat dit die aantal staandae in die voerkraal beïnvloed. ‘n GDT van hoër as 350 g/ lam/dag en ‘n VOV van minder as 4,5:1 word as uitstekend bestempel. Hoe hoër die GDT en hoe beter die VOV, hoe minder is die staandae en hoe minder voer word benodig tot bemarking. ‘n Kritieke fout wat dikwels in voerkrale gemaak word, is om nie toe te sien nie dat lammers volgens hulle volle genetiese groeipotensiaal groei.

‘n Deel van die ingenome voedingstowwe word vir die onderhoud van die dier self gebruik, met ander woorde hierdie voedingstowwe is nie vir groei beskikbaar nie. Vermy dus die gebruik van swak gehalte en ongebalanseerde voerkraalrantsoene met ‘n lae energie- en lae deurvloeiproteïeninhoud omdat dit die staandae in die voerkraal vermeerder. Maksimum doeltreffendheid sal bereik word indien diere soveel as moontlik energie, so vinnig as moontlik, inneem wat die VOV en groeitempo sal verbeter.

Om ‘n hoogs winsgewende voerkraal te bedryf, word ‘n volgehoue hoë bestuursvlak vereis. In hierdie verband is die volgende gesegde baie waar: dit is die voerkraalbestuurder se oë wat die diere vet maak!

Die ideale voerkraallam moet aan die volgende vereistes voldoen:

  • ‘n Gesonde lam, want ‘n swak boepenslam presteer nie. Moenie siek lammers in ‘n voerkraal afrond nie. Verkoop met speen die swakste derde lammers en rond die res in ‘n voerkraal af — ‘n swak lam kan nie reg gevoer word nie.
  • ‘n Jong (< 4 maande), goed uitgegroeide lam met ‘n dun vetlaag en ‘n groot karkas (28 tot 32 kg).
  • ‘n Lam met ‘n hoë genetiese groeipotensiaal met ‘n uitstekende voeromsetverhouding.
  • ‘n Kruislam wat weens basterkrag ‘n baie hoë GDT met ‘n uitstekende VOV het.
  • Gee voorkeur aan lammers wat kruipvoeding ontvang het of wat gewoond is aan byvoeding. Waar lammers kruipvoer gevoer word, kan hulle met welslae reeds op ‘n vroeë ouderdom, (so vroeg as 63 dae, mits hulle minstens 25 kg weeg) gespeen word en hoogs winsgewend in ‘n voerkraal afgerond word.
  • Lammers presteer beter in voerkrale as ou ooie omdat hulle ‘n baie beter voeromsetting het.

Suksesvolle aanpassing in jou voerkraal kan só geskied:

  • Gebruik lynkrippe met voldoende vreetspasie (25 tot 30 cm/lam ─ hulle moet verkieslik almal gelyktydig kan vreet).
  • Voer vir die eerste 10 tot 14 dae bykomend eenkant ‘n goeie gehalte ruvoer (byvoorbeeld ongemaalde lusernhooi) ad lib om suksesvolle aanpassing te verseker.
  • Die bykomende lusernhooibyvoeding kan na ongeveer 10 tot 14 dae gestaak word. Die fisiese voorkoms van die mis moet as aanduiding dien of lusernhooibyvoeding gestaak kan word. As die mis pap is, moet langer met lusernhooibyvoeding voortgegaan word.
  • Hoe meer dikwels vars voer gevoer word, hoë hoër is die dier se voerinname en hoe vinniger gaan hy groei. Tot 1 kg voer per kg massatoename word met hoëfrekwensievoeding bespaar, waardeur die voeromsetting verbeter en die wins verhoog word. Vars voer moet minstens twee keer per dag gevoer word. Gedurende die warm maande is dit veral wenslik om vroegoggend ongeveer 30% en laatnamiddag ongeveer 70% van die voerkraalrantsoen te voer. Die diere neem min of geen voer op die warmste deel van die dag in. Dit is egter belangrik dat die diere hulle totale daaglikse rantsoen binne die verloop van 24 uur inneem.
  • ‘n Alternatiewe aanpassingsmetode is om die lammers eers in die weidingskampe geleidelik op die voerkraalrantsoen aan te pas waardeur die spanning ook verminder word.
  • Lammers wat lakseer, moet uit die voerkraal verwyder en behandel word. Hulle moet verkieslik in ‘n “hospitaalkraal” geplaas word en weer van voor af stadiger en oor ‘n langer tydperk aangepas word. Indien maagwerk as gevolg van suurpens is, doseer met 20 tot 30 g koeksoda per lam.
  • Skaamvreters kan uitgeken word aan die hongerholtes agter die ribbes onder die rugstring. Hulle moet ook verwyder word en dalk saamgegroepeer word en van voor af stadig aangepas word.

Voerkraalfgeriewe

  • Maak voorsiening vir voldoende vloeroppervlakte (minimum 2,5 m²/lam, maar 5 tot 8 m²/lam word as ideaal beskou, veral in natter toestande).
  • Vir goeie dreinering om vrotpootjie en siektes te beperk, moet die voerkraal verkieslik ‘n helling van 2 tot 6% hê. ‘n Helling van minder as 2% het tot gevolg dat die reënwater nie wegloop nie terwyl ‘n helling van meer as 6% verspoeling tot gevolg het. Die helling moet weg van die woonhuis wees en die voerkraal moet so geleë wees dat die heersende winde die stank weg van die huis waai. Die vloeroppervlakte moet vir ‘n gedeelte van die dag in direkte sonlig te wees om krale droog te hou en die opbou van bakteriese besmetting te beperk. Om dit te verseker, moet die skaduwee in ‘n noord-suidrigting opgerig word.

Sonlig is die goedkoopste ontsmettingsmiddel. Indien die vloeroppervlakte as gevolg van urine nat bly, breek die ureum in die urine na ammoniak af. Ammoniak irriteer die asemhalingskanale wat weer die groeiprestasie benadeel weens swak eetlus as gevolg van ‘n voortdurende gehoes en dit kan selfs tot longontsteking lei.

  • Voorsien voldoende skaduwee (0,5 – 1,0 m²/lam) gedurende warm weer en beskutting teen koue, nat winderige weer. Dit is niks ongewoons nie dat die GDT gedurende ongure weer met 30 tot 50% kan daal nie. As gevolg van hoë voerinnames moet voerkraaldiere van baie hitte ontslae raak wat ontstaan weens die metaboliese prosesse in die liggaam.
  • Om maksimum voerinname te verseker, veral waar meer kere per dag gevoer word, is die ideaal 25 tot 30 cm vreetspasie per lam of nog beter, voldoende vreetspasie sodat alle lammers gelyktydig kan vreet.
  • Voldoende skoon en koel drinkwater moet te alle tye beskikbaar wees. Plaas die waterkrip aan die teenoorgestelde kant van die voerkrip. Waterbakke moet minstens twee tot drie keer per dag of elke keer wanneer die diere gevoer word, baie deeglik skoongemaak word. ‘n Skaap drink nie vuil water nie en ‘n dors skaap vreet sleg met ‘n gevolglike swak voeromsetting.
  • Voerkraaldiere moet minstens twee maal per dag vir probleme en siektes (ooginfeksies, laksering, koksidiose, chlamidia-besmetting wat diere se knie- en hakskeengewrigte laat opswel; sweerklou of vrotpootjie, ensovoorts) geïnspekteer word en dit moet dadelik reggestel of behandel word. Onthou: dit is die voerkraalbestuurder se oë wat die diere vet maak!
  • Voerkraalmis moet as kunsmis vir gewasse in saaiboerderye of vir tuine bemark word omdat dit ‘n uitstekende bykomende inkomstebron is.

Samevatting

Die tipe en gehalte lam wat gevoer word, asook die tipe en gehalte van die voerkraalrantsoen, is sleutelfaktore in die bepaling van winsgewendheid. Die gebruik van sogenaamde “goedkoop” rantsoene wat ‘n hoë persentasie laegraadse ruvoer, graanneweprodukte en afvalprodukte bevat, is dikwels verantwoordelik vir lae groeitempo en swak voeromsetting wat voerkraalwins ernstig knou. Om steeds wins te maak in tye van hoë graanpryse word aanbeveel dat ‘n hoë gehalte gebalanseerde rantsoen gebruik word en dat slegs goeie gehalte lammers, wat in voerkrale presteer, afgerond word. Ondanks die hoë graanpryse kan die afronding van ‘n skraal nie-markkaarlam (A0) om sy graad na ‘n A2 te verbeter, egter steeds geregverdig word deurdat sy vleiswaarde verhoog word.

Bestuurspraktyke, veral dié wat te doen het met voedingsbestuur, gesondheidsbeheer en toesig, asook doeltreffende geriewe speel ook ‘n sleutelrol in die welslae van ‘n skaapvoerkraal. Optimum produksie en maksimum winsgewendheid word bereik deur ‘n kombinasie van verbeterde genetiese potensiaal, toepassing van sleutelbestuurspraktyke en inname van gebalanseerde voedingstowwe. Die primêre winsdrywer in ‘n voerkraal is die VOV (kg voer ingeneem/kg liggaamsmassatoename).

ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr. Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ‘n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0