Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 5th April 2024

Winsgewende skaapboerdery deel 27: Benut jou oesreste

By 5 min read
1058 words

Sheep_Crop-residues_PM-696×465

Foto: AgriOrbit

Oesreste is ՚n waardevolle voedingsbron vir herkouers. Met die uitdagings wat boere in die gesig staar, moet grond, weiding, vee en oesreste ten volle benut word om winsgewendheid te verseker. Die natuurlike weiding in die oostelike dele van Suid-Afrika bestaan uit suurgras wat baie goeie voedingswaarde in die somer bied, maar marginaal tot laag in die winter is.

Die afronding van speenlammers op weimielies met ՚n lek kan aansienlike waarde tot jou mielies byvoeg. Oesreste van kontantgewasse soos mielies, graansorghum, sonneblom en sojabone maak ՚n belangrike deel van die voervloeiprogram van veeboerdery in die saaigebiede uit. Oesreste as weidingsbron kan as goedkoop beskou word. In die geval waar insetkoste van die graanproduksie verhaal word, kan reste as byna gratis gesien word.

Landerye met ՚n hoë opbrengspotensiaal sal gewoonlik oor ՚n hoër drakrag beskik in vergelyking met landerye van laer opbrengspotensiaal. As oesreste reg bestuur word en die regte byvoeding gegee word, kan dit ՚n betekenisvolle bydrae tot die totale voervloeibeplanning lewer. Diere moet oesreste direk na stroop benut om die beste waarde vanuit die reste te verkry, terwyl suurpens deurlopend gemoniteer moet word.

Om die volle potensiaal van oesreste en weimielies te benut, moet onderstaande bestuursfaktore in ag geneem word:

Drakrag van oesreste

Oesreste het oor die algemeen baie hoë drakrag, maar die veelading moenie die drakrag van oesreste oorskry nie. Drakrag word bepaal deur die tipe gewas, graanopbrengs en die hoeveelheid reste of materiaal geproduseer.

Voedingswaarde en algemene probleme op oesreste

Die energie-inhoud van pasgestroopte graanlande kan baie hoog wees afhangend van die hoeveelheid graan wat op die grond beland. Die hoeveelheid graan op ՚n pasgestroopte mielieland wissel van 100 tot 300 kg mielies/ha en die op ՚n kleingraanstoppelland van 60 tot 250 kg kleingraan/ha. Skape wat nie op graan aangepas is nie kan suurpens (asidose) ontwikkel en selfs daarvan vrek. Die pH (suurheidsgraad) van die rumen van ՚n normale skaap is ongeveer 6,5 tot 6,8. Indien die pH tot 5 en laer daal, vermeerder die melkproduserende bakterieë tot ongeveer 30% van die totale bakterieinhoud in die rumen.

Vrektes weens skok, ontwatering en hartversaking kom voor en diere wat suurpens oorleef neem baie lank om te herstel. Skape met diarree op oesreste loop ook die gevaar van brommeraanvalle. ՚n Verdere probleem met oesreste is dat die proteïeninhoud te laag is vir diere met ՚n hoë voedingsbehoefte soos ooie met lammers en jong groeiende diere. Tekorte aan kalsium, magnesium, sink en koper kom redelik algemeen op oesreste voor, wat die prestasie van diere negatief kan beïnvloed, sodat ՚n lekaanvulling nodig is. Die voedingswaarde van oesreste neem mettertyd af soos die graanpitte minder word en ook weens die selektiewe weigewoontes van diere, wat tot gevolg het dat hulle die mees voedsame materiaal uitkies.

Gevare en oplossings

Siektes wat algemeen voorkom tydens die benutting van oesreste, is koksidiose, bloednier en pasteurella. Die toestande is spanningsverwant, omdat diere blootgestel is aan koue nagte tesame met hoë koolhidraatdiëte op mielie-oesreste asook hoë stikstofdiëte veral op sojaboonoesreste. Haarwurmbesmetting kan ook ՚n probleem wees. Diere kan geënt en doseer word om siektetoestande te voorkom.

Lekinname op oesreste

Baie min lek word aanvanklik met die wei van oesreste ingeneem, maar namate ՚n gestroopte land uitgevreet raak, neem die lekinname toe. Wanneer diere weer na ՚n pasgestroopte deel verskuif, neem lekinname drasties af.

Bestuursmaatreëls om suurpens te beperk

Aanpassingsprosedures

Om maksimum resultate op oesreste te verkry, is suksesvolle aanpassing om suurpens te voorkom ՚n vereiste. Een van twee aanpassingsmetodes kan gevolg word. Die beste metode is om vooraf daagliks mielies of mieliekoppe in die veld te voer en hulle geleidelik gewoond te maak aan die reste. Beperkte weityd plus ՚n aanvullende lek is ՚n alternatiewe aanpassings metode.

Tyd van die dag

Dit is beter om diere aanvanklik in die middag op die land te jaag, want dan is hulle nie so honger nie.

Bestuur diere in voorkeurtroppe

Diere met die hoogste voedingsbehoefte soos lammerooie en speenlammers moet altyd voorkeur op pasgestroopte lande kry. Dit is baie belangrik om hierdie diere betyds, eerder te vroeg as te laat, van lande te verwissel. Graan moet nog sigbaar op die lande wees wanneer die voorkeurtrop na die volgende land verskuif word. Daar is gevind dat slegs twee dae sonder graan genoeg is om weer suurpens in ՚n nuwe kamp te veroorsaak.

Plasing van lekbakke en moniteer inname

Lekbakke moet naby waterkrippe geplaas word. Waterinname op droë oesreste is hoog. Nadat water ingeneem is, vreet hulle lek en gaan dan weer wei. Om voldoende waterinname te verseker, moet krippe daagliks skoongemaak word. Maak ook seker dat daar genoeg lekbakke en vreetspasie is. Lekinname kan bevorder word deur meer gereeld lek te voer omdat diere vars lek verkies. Die risiko van suurpens kan ook aansienlik verminder word as bogenoemde bestuursmaatreëls gevolg word en die landelek tydens die aanpassingsperiode sowel as tydens die beweiding van oesreste of weimielies gebruik word.

Samevatting

Oesreste is ՚n uitstekende voedingsbron vir die oorwintering van vee in die somersaaigebiede asook die oorsomering van vee in die winterreëngebied. Die regte aanvulling en bestuur moet egter toegepas word om die potensiaal daarvan optimaal te benut. As oesreste korrek bestuur word en die regte byvoeding gegee word, kan dit ՚n betekenisvolle bydrae tot totale voervloeibeplanning lewer. Diere moet oesreste direk na stroop benut om die beste waarde vanuit die reste te verkry, terwyl suurpens deurlopend gemoniteer word.

Soos alreeds genoem is suurpens (asidose) die grootste probleem wat voorkom by beweiding van oesreste.

Dit kan voorkom word deur:

  • Nie diere wat honger is op oesreste te jaag nie.
  • Pas diere geleidelik aan op oesreste. Dit kan gedoen word deur eerstens graan aan skape te voer op die veld, sewe dae voor hulle lande toe gaan. Op die eerste dag kan daar met 100 g per dier per dag begin word en geleidelik vermeerder word tot dag sewe. Alternatiewelik kan weidingstyd op oesreste beperk word. Begin met 30 min op dag een en verleng tot ad lib weiding op dag sewe.
  • Tesame met die oesreste moet ՚n aanvulling gebruik word wat ՚n middel bevat om suurpens te voorkom.

ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr. Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het. Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0