Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 30th January 2024

Winsgewende skaapboerdery deel 26: Oordeelkundige terminale kruisteling sit wins in jou sak

By 6 min read
1108 words

WhatsApp-Image-2021-12-03-at-10.26.04

Die F1-kruisooie (derde kudde) kan met hoëgehalte Dormerramme, met uitstekende vleisbouvorm wat ook hoogs vrugbaar is, en oor ՚n hoë genetiese potensiaal vir groei beskik, gepaar word. (Foto: Mertoun Dormers)

Slim terminale kruisteling van wolskaapooie met witwolvleisramme verbeter die winsgewendheid van wolskaapboerdery, omdat die basterkrag produksie verhoog. Oordeelkundige kruisteling word beskou as ‘n stelsel waar vir voldoende vervangingsooie voorsiening gemaak word sodat die gevaar nie bestaan dat ‘n suiwer geteelde wolskaapkudde tot niet kan gaan of die skeersel met kemp en gekleurde vesels besoedel word nie.

Vroeër is kruisteling in wolskaapkuddes ten tyde van hoë vleispryse en/of lae wolpryse gedoen, terwyl dit deesdae ‘n meer aanvaarbare en standaardpraktyk in sowel wol- as vleisskaapboerdery is. Suid-Afrikaanse skaapboere word gekonfronteer met steeds stygende insetkoste en lae produkpryse wat tot gevolg het dat hulle winsgrense kleiner en kleiner word.

In ՚n poging om ekonomies te oorleef, moet skaapboere hulle skaapboerdery se doeltreffendheid, in terme van massa vleis en wol per hektaar per jaar geproduseer, drasties verhoog deur aanpassings aan boerderypraktyke te maak. Die doel van hierdie artikel is om wolboere bewus te maak van oordeelkundige kruisteling en om werkbare voorbeelde van hoe kruisteeltkuddes getallegewys saamgestel kan word, te verduidelik.

Die toepassing van kruisteling vereis hoë bestuursinsette en die moontlikheid dat gehalte oor tyd ingeboet kan word, bestaan. Die belangrikheid van die wolvesel as ՚n verdiener van buitelandse valuta en die langtermynvooruitsigte vir die wolbedryf maak dat onoordeelkundige kruisteling ՚n onbekostigbare opsie vir die Suid-Afrikaanse wolboer is, spesifiek met verwysing na gekleurde vesels en kempbesoedeling.

Oordeelkundige kruisteling gaan as ՚n goue reël altyd met die gebruik van witwolramme gepaard en is so gestruktureer dat daar na normale wolskaapboerdery teruggekeer kan word sodra die wolprys herstel.

Kruisteeltstelsels

In die praktyk is daar normaalweg ՚n keuse tussen twee kruisteeltstelsels, naamlik ՚n tweeras- of tweepuntkruisteeltstelsel bestaande uit twee kuddes, en ՚n drieras- of driepuntkruisteeltstel sel bestaande uit drie kuddes.

Tweeraskruising waar die eerste kudde suiwer (byvoorbeeld paring van Merinoooie met Merinoramme) gehou word en die tweede kudde (byvoorbeeld paring van Merino-ooie met witwol-vleisramme) produseer terminale F1-kruislammers wat almal bemark word. Daar kan ook oorweeg word om hierdie tweede kudde gedurende ՚n ander tyd van die jaar te laat lam om byvoorbeeld arbeid en weiding beter te benut. In die ekstensiewe gebiede word Afrinoramme dikwels in kruisings met Merino-ooie gebruik. Die Afrino is ՚n hoogs vrugbare, witwolvleisskaap met ՚n baie hoë geslagsdrang (libido) wat kemp- en kleurvry is en baie goed in die droë dele van die land aangepas is.

Drieraskruising waar die eerste kudde (byvoorbeeld Merino-ooie) suiwer gehou word, die tweede kudde produseer F1-kruislammers waarvan die F1-ooilammers vir vervanging vir die F1-ooikudde gehou word terwyl al die F1-ram- of hamellammers bemark word. Die derde kudde bestaan uit F1-kruisooie wat terminale F2-lammers produseer wat almal bemark word. Waar bestuur en voervloei dit toelaat, kan die F1-ooikudde elke agt maande laat lam word. In hierdie stelsel kan die tweede kudde (byvoorbeeld Merino-ooie) met hoë gehalte (dit is hoogs vrugbare ramme met ՚n hoë groeipotensiaal en uitstekende vleisbouvorm) SA Vleismerinoramme gepaar word om F1-kruislammers te produseer. Die F1-kruisooie (derde kudde) kan met Dormerramme van hoë gehalte, met uitstekende vleisbouvorm wat ook hoogs vrugbaar is, en oor ՚n hoë genetiese potensiaal vir groei beskik, gepaar word.

Sowel die tweede kudde as die F1- kudde (die derde kudde) moet apart laat lam word en die kruislammers moet òf met geboorte òf met stertsny op so ՚n manier gemerk word dat hulle van die suiwer lammers onderskei kan word. Dit word gedoen om te verseker dat die kruislammers nie per ongeluk as teelmateriaal in die suiwer kudde opgeneem word nie.

Die gevare van onoordeelkundige kruisteling:

  • Te veel ooie kan vir kruisteling aangewend word, wat tot ՚n tekort aan vervangingsooie lei, asook vertraging van seleksievordering in die suiwer kudde.
  • Kruisgeteelde ooie word in gevalle van swak bestuur aangewend om getalle van die suiwer kudde aan te vul.
  • Verdere teling met kruisgeteelde ooie geskied onplanmatig.
  • Ramme wat kemp afgee of wat gekleurde vesels produseer, moet in geen omstandighede gebruik word nie om die besoedeling van wol te voorkom.

Voordele van kruisteling

  • Een van die voordele van oordeelkundige kruisteling is dat dit die risiko in ՚n mate tussen die wolen vleisprodukte versprei, sonder dat die wolproduksie van die suiwer kudde benadeel word.
  • As gevolg van basterkrag (heterose) presteer die nageslag (kruislammers), wat uit ՚n kruising van twee verskillende rasse gebore is, normaalweg beter as die gemiddelde waarde van die betrokke eienskap van die twee ouers. Die eienskappe wat die meeste met kruisteling bevoordeel word, is die sogenaamde fiksheideienskappe soos reproduksie, lewenskragtigheid, melkproduksie en weerstand teen siektes. Die hoër melkproduksie is gedeeltelik as gevolg van die hoër suipfrekwensie van die aktiewer kruislam.
  • Kruislammers bereik nie net gouer markgereedheid nie, maar gradeer ook beter en kan meestal in dieselfde produksieseisoen bemark word.

Verdere voordele van ‘n drieraskruisteeltstelsel:

  • F1-kruisooie presteer weens basterkrag beter as die suiwer ooie in die tweeraskruisteeltstelsel.
  • Ongeveer twee-derdes van die totale kudde kan steeds uitstekende wol produseer.
  • Ongeveer twee-derdes van die totale kudde kan uitstekende slaglammers produseer.
  • Indien die F1-kruisooie in ՚n agtmaandelamstelsel ingeskakel word, is daar meer lammers en wol om meer gereeld te bemark, wat die kontantvloei van die skaapvertakking verbeter.
  • Met hierdie stelsel voldoen die skaapboer aan al die opsies wat hy kan volg om meer geld te verdien, naamlik rasverandering, hoër speenpersentasie, hoër wol- en vleisproduksie, asook kruisteling.
  • Met die herstel van die wolbedryf kan sonder enige rompslomp weer teruggeskakel word na suiwer kuddeteling. Die F1-kruisooie kan dan na ՚n stelsel waar suiwer ooie met ՚n vleisram gepaar en waar alle nageslag bemark word, orgeskakel word.

Samevatting

Deur die oordeelkundige kruising van ՚n gedeelte van ՚n Merino-ooikudde met witwolvleisramme kan die totale lamvleisproduksie van die Merinokudde oor die korttermyn merkbaar verbeter word, sonder dat die wolproduksie van die suiwer Merino-moederooie enigsins benadeel word. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan beter lamoorlewing en vinniger groei by kruislammers met ՚n gevolglike korter produksiesiklus. Die doelwit in sowel die suiwer as die kruisteeltkudde(s) moet altyd wees om ՚n hoë reproduksietempo asook maksimum vleisproduksie per hektaar te handhaaf.

Gevolglik moet alle ooie wat oorslaan en alle ooie wat lam, maar nie ՚n lam speen nie, asook alle ooie wat swak, klein en boepenslammers speen, uitgeskot word. Dit is belangrik om daarop te let dat goeie kruislammers slegs vanaf goeie moeders en vaars afkomstig is, met ander woorde, kruisteling kan nie vergoed vir swak ouers of swak bestuur of voeding nie.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0