Winsgewende skaapboerdery deel 22: Hoe hoër die voedingspeil, hoe hoër die reproduksietempo

Ille de France
Baie boere vra die vraag of voeding ‘n invloed het op die reproduksietempo van ooie, en die antwoord is sonder twyfel ja! Meer as 70% van ‘n ooikudde se reproduksietempo word deur voeding bepaal.
Waar ‘n skaapvertakking ‘n teelkudde insluit, is die winsgewendheid grootliks afhanklik van die handhawing van ‘n optimale reproduksietempo, dit wil sê ‘n reproduksietempo wat so ‘n groot opbrengs as moontlik vir die insette lewer.
Onvoldoende voeding van lakterende ooie gedurende die eerste twee maande na lam, wat meer as 10% liggaamsmassaverlies tot gevolg het, is waarskynlik een van die belangrikste redes vir ‘n lae lampersentasie onder Suid-Afrikaanse skaapkuddes.
Dit blyk dat goeie voeding gedurende laktasie ‘n oordrageffek het wat die daaropvolgende lampersentasie verhoog.
Wat is die invloed van voedingspeil gedurende vroeë laktasie op die daaropvolgende lampersentasie en waarom gee onvoldoende laktasie aanleiding tot ‘n laer reproduksietempo?
Die maksimum potensiële lampersentasie van ‘n kudde ooie is afhanklik
van die aantal eiselle (ova) wat geovuleer word en vervolgens bevrug word. Dit neem ongeveer vyf tot se maande vandat ‘n follikel (eisel) in die eierstokke (ovaria) begin groei en ontwikkel totdat dit gereed is vir ovulasie en bevrugting deur die ram se spermsel.
Indien ‘n ooi dus op ‘n lae voedingspeil is wanneer die follikels begin ontwikkel (180 dae voor paring, met ander woorde die eerste twee maande na lam), kan die ovulasietempo en gevolglik lampersentasie in die daaropvolgende lamseisoen negatief beïnvloed word.
Onvoldoende voeding gedurende laktasie is heel dikwels die rede hoekom ooie ‘n swak besetting het en minder tweelinge kry, alhoewel hulle met paring in ‘n uitstekende kondisie was.
Die ovulasietempo van ‘n spesifieke ras of genetiese lyn (binne ‘n ras) word uitsluitlik deur faktore bepaal wat tot die paringstyd geld. In hierdie verband is die dieet waaraan die ooie blootgestel word ‘n belangrike faktor, in die besonder gedurende die tydperk tussen die speen van die vorige lammeroes en paring.
Is hoëgehalte groen weiding voldoende vir maksimum biesproduksie?
Sowat 30% van ooie met tweelinge en 10% ooie met enkelinge produseer nie voldoende bies op groenhawerweiding nie, terwyl 5% van die ooie een uur na geboorte geen melk gehad het nie.
Plaaslike navorsing toon dat die meeste groen weiding ‘n ‘n primêre energie- en ‘n sekondêre deurvloeiproteientekort vir lakterende ooie inhou, omdat ongeveer 70 tot 85% van die proteïen in groen weiding in die grootpens van die skaap afgebreek word.
Groen weiding alleen is dus nie voldoende om in die lakterende ooi se hoë voedingsbehoefte te voorsien nie en indien byvoeding nie voorsien word nie, sal hulle te veel massa verloor wat die daaropvolgende lampersentasie nadelig sal beïnvloed.
Kruipvoeding is ook ‘n belangrike element indien die maksimum groeipotensiaal van die lammers ontsluit wil word. Tweelinglammers se melkinname is ongeveer 70% van die van enkelinge en hulle moet daarom kruipvoeding ontvang om hulle groeitempo op dieselfde vlak as die van enkelinge te kry.
Watter byvoeding gee die beste biologiese en ekonomiese resultaat?
Om ‘n hoë speenmassa te verseker, asook ‘n hoë lampersentasie met die daaropvolgende lamseisoen, moet ‘n deurvloeiproteiengebaseerde lekmengsel teen 400 tot 500 g/ooi/dag aan lakterende ooie gevoer word.
Indien voldoende hoë-gehalte groen weiding nie beskikbaar is nie, moet daar in plaas van ‘n lek, ‘n volledige lammerooirantsoen gevoer word.
Weens die uiters doeltreffende voeromsetting van die jong lam, moet alles moontlik gedoen word om te verseker dat die lam volgens sy maksimum genetiese potensiaal groei.
In hierdie verband is die voorsiening van ‘n kruipvoer ad lib aan sogende lammers vanaf ouderdom tien dae tot ongeveer twee weke na speen, ononderhandelbaar vir winsgewende skaapproduksie,
Lakterende ooie moet droë ruvoer op sappige groenweiding gevoer word, of hulle moet ‘n aangrensende kamp met droë veld bewei om voldoende inname van doeltreffende vesel te verseker.
Wenke
Ooie wat tweelinge soog, moet in aparte kampe gehou word en teen hoër peile gevoer word, omdat hulle 20 tot 40% meer melk produseer as die wat enkelinge soog.
Om te verseker dat teelooie oor die genetiese vermoë vir meerlingovulasies beskik, moet slegs teelramme gebruik word wie se moeders minstens twee maal meer lammers gespeen het as kere wat sy gelam het.
ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het. Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.
