Categories: Artikels, Vee en rassePublished On: 27th February 2023

Winsgewende skaapboerdery deel 17: Suksesvolle binding beperk lamvrektes

By 5 min read
926 words

1024×683

Lamoorlewing is grootliks afhanklik van ՚n uitsluitlike band wat kort na geboorte tussen die ooi en lammers gevorm word. Pasgebore lammers moet die geleentheid gegun word om die eerste dag na geboorte onbeperk te suip, want dit sal die band tussen die ooi en lam versterk.

Suksesvolle binding tussen ՚n ooi en haar lam is ՚n voorvereiste vir hoë lamoorlewing wat meehelp om lamvrektes tot ՚n minimum te beperk. Die oorlewing van lammers is afhanklik van die suksesvolle interaksie van die ooi en haar lam kort na geboorte.

Die twee belangrikste aspekte wat ՚n rol speel om suksesvolle binding te bewerkstellig is:

  • Bies
  • Afsondering

Voldoende en tydige biesinname

Die beskikbaarheid van voldoende bies vir pasgebore lammers onmiddellik na geboorte is van deurslaggewende belang vir lamoorlewing. In ՚n ooitrop waar die meeste ooie min bies het, sal ՚n groot persentasie van die ooie eers ՚n paar uur na geboorte van hulle lammers begin om bies te produseer, wat hulle lammers se kanse om te oorleef drasties verlaag. Hierdie toestand dui op ՚n voedingsprobleem, daarom is voeding ook een van die belangrikste aspekte wat ՚n rol speel in voldoende biesproduksie.

Ongeveer 80% van die fetusgroei vind gedurende die laaste twee maande van dragtigheid plaas, wat ՚n betekenisvolle toename in die voedingsbehoeftes van die laatdragtige ooie tot gevolg het.

Plasenta-ontwikkeling en biesproduksie

Ondervoeding voor dag 100 van dragtigheid kan bies- en melkproduksie nadelig beïnvloed weens die betrokkenheid van die plasenta in melkklierontwikkeling.

Die grootte van die plasenta bepaal grootliks die grootte van die uier en gevolglik ook bies- en melkproduksie. Die plasenta produseer hormone wat noodsaaklik is vir die instandhouding van dragtigheid asook die ontwikkeling van die uier en gevolglik die hoeveelheid melk beskikbaar met lam. Hierdie hormone speel ook ՚n belangrike rol in moeders-eienskappe omdat dit verantwoordelik is vir die vorming van die band tussen die ooi en die lam, onmiddellik na lam.

Uierontwikkeling en biesproduksie het ՚n groot ooreenstemming. Ooie wat reeds met die geboorte van hulle lammers vloeibare en voldoende bies het, se lammers suip gouer na geboorte, wat die vorming van ՚n sterk band tussen ooi en lam verseker.

Belangrikheid van voldoende bies

Die tydige inname van voldoende bies binne die eerste drie tot vier uur na geboorte, is van lewensbelang vir lamoorlewing. Onvoldoende biesinname kan tot lamvrektes lei weens verkluiming of hitte-uitputting en ontwatering, lae weerstand teen siektes of ooie wat hulle lammers weggooi.

Dit is belangrik dat lammers reeds na ՚n uur begin suip. Die voldoende voorsiening van bies gedurende die eerste paar uur na geboorte voorsien die lammers van energie, vog en teenliggaampies wat lewensbelangrik is vir oorlewing.

Wanneer ՚n lam begin suip, word die hormoon oksitosien deur die ooi vrygestel om die melk af te skei. Oksitosien verwek moederlike gedrag en instink wat dan die binding van die ooi se kant laat plaasvind. Die vermoë van ՚n lam om sy ma te herken, word deur die teenwoordigheid van bies in die lam se pens aangehelp.

Dit wil voorkom of die inname van biesmelk ՚n meganiese stimulering veroorsaak deurdat die maag opswel, wat waarskynlik senuwees prikkel waardeur die lam dan ՚n band met die ooi ontwikkel. Dit wil voorkom of die hittegevoel-stimuli (byvoorbeeld lek en nabyheid van die moeder) die eerste twee tot drie uur na die geboorte van die lam, tesame met genoegsame biesmelk noodsaaklik is vir ՚n voorkeurverhouding tussen ma en lam. Dit sal ՚n sterk en volledige binding bewerkstellig.

Afsondering van die ooi en haar pasgebore lam

՚n Ooi met haar pasgebore lammers moet van die res van die trop afgesonder word om suksesvol te kan bind en daarom moet inmenging van ander ooie en/of mense voorkom word.

Lamhokke dwing hierdie afsondering af en sal dus binding en gevolglik lamoorlewing bevorder.

Ooie met meerlinge moet vir minstens ses uur naby die geboorteplek bly om skeiding van een van die tweelinglammers te verminder.

Vermy toestande of faktore wat veroorsaak dat die ooi gou na lam van haar lamplek padgee omdat dit lamvrektes in die hand werk.

Veelading en tropgrootte

Veelading en trop-grootte het ՚n besliste invloed op die oorlewing van lammers.

Die hoofoorsaak van skeiding is inmenging deur ooie wat besig is om te lam of wat pas gelam het. Hierdie inmenging raak ՚n beduidende faktor waar meer as tien ooie met meerlingfetusse en meer as agttien ooie met enkelingfetusse per hektaar gedurende lamtyd in een trop aangehou word.

Lamstelsels

Verskeie lamstelsels kan gebruik word. Dit sluit in ekstensiewe lam (in die veld), rondskuif, klein kampies, klein troppe en lamhokke.

Indien een van die eerste vier lamstelsels gebruik word, moet die bestuurspraktyke die ooie toelaat om ongestoord minstens ses uur op die geboorteplek te bly.

Lamhokke word al jare gebruik en elke boer pas dit anders toe. Dit is hoogs aan te beveel dat ooie met tweelinge en ooie wat vir die eerste keer lam, in lamhokke geplaas word. Ooie met lammers behoort vir minstens twee dae, maar verkieslik drie dae in die lamhokke gehou te word, want dit duur tussen 48 en 60 uur vir die lam en ooi om volledig te bind.

Samevatting

Die vorming van ՚n suksesvolle ooi-/lam-verbinding hang daarvan af of die lam se eerste suippogings binne die eerste ses uur na geboorte suksesvol was en of die lam gedurende hierdie tydperk voldoende bies ingeneem het.

ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0