Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 19th December 2022

Winsgewende skaapboerdery deel 15: Laatdragtigheid: Maak-of-breek vir elke skaapboer

By 7 min read
1266 words

Voorbereiding-2

Om die beste uit jou ooie te kry, is dit nodig om hulle voedingspeil voortdurend hoog te hou. Voeding en lampersentasie loop hand aan hand.

Die maak-of-breek tyd in ooibestuur is laatdragtigheid, het wyle dr Jasper Coetsee, ’n bekende skaapvoedingkundige, altyd gesê. Dit is egter ook die maak-of-breek tyd wat roofdierbestuur betref.

Jy wil nie tydens die lamseisoen met ’n roofdierprobleem sit nie.  Begin dus tydens laatdragtigheid reeds die lamkampe vir ongediertes nagaan en tref voorsorg deur gate onder heinings toe te pak. Moet dit nie tot lamtyd uitstel nie, want dan het die ooie jou volle aandag nodig. Om ՚n suksesvolle lamtyd te verseker, is die uitvoering van sekere kritieke take reeds gedurende laatdragtigheid van kardinale belang. In die verband is die balansering van laatdragtige ooie se voedingstofinname vanuit weiding, deur die voorsiening van aanvullende lekke wat die tekorte (byvoorbeeld deurvloeiproteïne, energie en spoorelemente) aanvul, noodsaaklik om lamoorlewing en -groei te verhoog.

Swaardragtige ooie. (Foto: Klipkoppies dorperstoet)

Ooivoeding in laatdragtigheid

Laatdragtigheid (vierde en vyfde maand van dragtigheid) is een van die belangrikste stadiums in die reproduksiesiklus. Ooie verloor maklik kondisie tydens laatdragtigheid omdat ongeveer 70% van die ongebore lam gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontwikkel en die ooi se buik vol lê. Sy het dan minder plek om voldoende ruvoer in te neem, veral as die gehalte van die ruvoer laag is. Om te verhoed dat laatdragtige ooie kondisie verloor, behoort dié met enkelfetusse 150 tot 250 g/dag in massa toe te neem, en ooie met meerlingfetusse 250 tot 350 g/dag. Aangesien swak gehalte weiding laag in energie en laag verteerbaar is, moet die laatdragtige ooi groot hoeveelhede daarvan inneem om in haar hoë behoeftes te voorsien. In hierdie omstandighede is dit fisies nie moontlik nie en gevolglik ondervind die ooi ՚n groot energietekort.

Sulke groot voedingstekorte verlaag geboortemassa en beperk uierontwikkeling en biesproduksie, wat op sy beurt lamvrektes verhoog en lamgroei beperk. In die praktyk is dit feitlik onmoontlik en meestal ook onekonomies om hierdie voedingsvlakke deur voedingsaanvulling te bereik. Daar kan in ՚n sekere mate op lekaanvullings bespaar word deur die ooi toe te laat om van haar liggaamsenergie (vet) te gebruik. Estradiool, ’n hormoon wat deur die plasenta afgeskei word, berei die ooi se uier vir laktasie voor. Sodra die ooi gelam het, stop die afskeiding van estradiool. Daarom is dit belangrik om uierontwikkeling vóór lamtyd maksimaal te ontgin deur ’n lek wat ryk aan deurvloeiproteïen is aan die ooie te voorsien. Deur bogenoemde toe te pas, kan die skaapboer lewenskragtige lammers van tussen 3,5 en 5,5 kg verwag, en ooie se uiers sal ook voldoende ontwikkel wees vir maksimum bies- en melkproduksie. Dit verseker ook die optimale ontwikkeling van wolfollikels vir leeftydwolproduksie.

Kondisietelling gedurende laatdragtigheid

Ooie moet in ’n goeie kondisie lam (3,5 kondisietelling). Evalueer die ooie weekliks in die laaste ses tot agt weke van dragtigheid. Sodra die kuddegemiddeld onder ’n kondisietelling van 3 beweeg, moet daar opgetree word. Gee ook vroegtydig aandag aan daardie ooi wat ’n kondisietelling van 2,5 en laer het, anders gaan sy nie haar lam grootmaak nie.

Indien die ooi in die regte liggaamskondisie met paring (3,5 kondisietelling) was en die ooi ՚n maksimum 0,5 KP gedurende middragtigheid verloor het, is dit aanvaarbaar en toelaatbaar dat sy nog ՚n 0,5 KP gedurende laatdragtigheid kan verloor. Indien ՚n ooi se liggaamsvetreserwes verder uitgeput word, sal dit lei tot ՚n lae geboortemassa en afname in lewenskragtigheid van lammers met geboorte, vertraging in die aanvang (en laer) biesproduksie, swak moederseienskappe en onvol-doende vetreserwes om maksimum melkproduksie in vroeë laktasie te verseker.

Belangrikheid van hoë geboortemassa

Lae geboortemassa is een van die hoofoorsake van lamvrektes weens die onvermoë van klein lammers om voldoende melk in te neem. Klein lammers met geboorte is ook meer vatbaar vir vrektes gedurende baie koue of baie warm toestande. Die ideale geboortemassa wat maksimum lamoorlewing sal verseker is, 4,5 tot 5,5 kg.

Belangrikheid van voldoende uierontwikkeling

Hoewel betekenisvolle uiergroei al vanaf ongeveer vyf weke voor lam plaasvind, vind die meeste groei tydens die laaste drie weke plaas. In die geval van ooie met tweelingfetusse vind ongeveer 25% meer uiergroei plaas as by die met enkelingfetusse. Die belang van voldoende uierontwikkeling word beklemtoon deur die feit dat daar ՚n hoë verwantskap is tussen uiergrootte en hoeveelheid melk geproduseer.

Belangrikheid van voldoende biesproduksie

Ondervoeding gedurende laatdragtigheid het ՚n drastiese verlaging in biesproduksie tot gevolg en veroorsaak ook dat dit nie onmiddellik na geboorte vrygestel word nie. Lammers benodig 210 ml biesmelk per kg liggaamsmassa in die eerste agttien uur na geboorte as energiebron om te oorleef, voldoende immuniteit teen siektes op te bou en om voldoende vog aan die lam te voorsien om ontwatering te verhoed. Deurvloeiproteïen is die voedingstof wat die grootste invloed op die biesproduksie van die ooi het.

Belangrikheid van deurvloei-proteïen

Die belangrikheid van deurvloeiproteïen as ՚n bron van noodsaaklike aminosure om geboortemassa, uierontwikkeling, biesproduksie, vloeibaarheid van die bies, melkproduksie, lamoorlewing, vroeë lamgroei, wolproduksie en -gehalte te verbeter asook weidingsinname te stimuleer, is goed bekend. Bykomende deurvloeiproteien verhoog die immuunweerstand van laatdragtige ooie wat die impak van parasietbesmetting, veral tydens tye van spanning, op die produktiwiteit van die ooie verminder. Daar is ՚n dramatiese verhoging in die deurvloeiproteïenbehoeftes van die ooi gedurende die laaste drie weke voor lam weens die vinnige groei van die ongebore lammers, uierontwikkeling en biesproduksie.

Belangrikheid van voldoende en korrekte byvoeding, vitamiene en spoorelemente

Die voedingstowwe waaraan daar gereeld ՚n tekort is, is deurvloeiproteïen, energie en sekere spoorelemente en vitamiene. Tekorte aan sekere spoorelemente asook vitamien A en E kan lampersentasie, speenmassa en immuniteit van ooie op verskeie maniere nadelig beïnvloed.

Hierdie tekorte veroorsaak onder meer afname in fetusgroei, lae geboortemassa, doodgebore lammers, lammers swak met geboorte, lamvrektes, vassit van nageboortes, lae weerstand teen siektes, swak lamgroei, lae speenmassa, asemhalingsiektes, vrotpootjie en afname in eetlus. Dit is belangrik dat voedingstowwe wat ingeneem word, gebalanseerd is en aan die behoeftes van laatdragtige ooie voorsien.

Aanvullings op droë weiding

Die meeste navorsing toon dat die verskaffing van hoëdeurvloeiproteïenlekke aan ooie op droë weiding diereprestasie verbeter. Die voorsiening van deurvloeiproteienlekke aan laatdragtige en lakterende ooie op droë koringstoppelweiding en droë suurgrasveld het die speenpersentasie met 12 tot 18% en die massa lam gespeen per ooi gepaar met 4 tot 5,1 kg verhoog. Afhangend van die hoeveelheid weiding beskikbaar en die kondisie van die ooie, behoort lekke vanaf ongeveer vier tot ses weke voor lam verskafte word. Ooie wat skraal is, moet reeds agt tot tien weke voor lam lekke kry. Indien onvoldoende weiding beskikbaar is, moet ekstra hooi bykomend tot die lekaanvulling aan laatdragtige ooie verskaf word.

Aanvulling op groen weiding

Die aanvulling van deurvloeiproteïenlekke aan laatdragtige ooie op groen weiding sal voordelig wees in gevalle waar ooie nie hulle voorgeskrewe liggaamsmassatoename handhaaf nie.

Ter opsomming

Die voorsiening van deurvloeiproteienlekke, wat die tekorte en wanbalanse in die weiding in terme van deurvloeiproteïen, energie en minerale balanseer, aan laatdragtige ooie is noodsaaklik om ՚n suksesvolle lamseisoen, asook hoë speen persentasie en speenmassa te verseker. Terselfdertyd moet ՚n doeltreffende gesondheidsbeheer- en doseerprogram gevolg word.

՚n Swaar interneparasietbesmetting kan onder meer tot gevolg hê dat ooie en lammers ՚n swakker weerstand opbou wanneer hulle teen siektes ingeënt word. Voldoende voorsiening van koel en skoon drinkwater gedurende laat dragtigeid is belangrik, veral gedurende die warmer tye van die jaar. Dit word ook aanbeveel dat ooie vanaf vyf weke voor lam met rus gelaat word.

Alle bedrywighede soos inent, doseer, mikskeer ensovoorts moet vyf weke of langer voor lam uitgevoer word.

ProAgri is dankbaar dat ‘n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0