Wildboer van die Jaar 2025: Volhoubare benutting die sleutel tot sukses

chris 2
Chris Burger van Marula Game op Steenbokpan naby Lephalale in Limpopo is in Oktober aangewys as Wildbedryf SA (WRSA) se Wildboer van die Jaar van 2025.
Hy het Tisha Steyn meer vertel van sy lewenspad wat hom uiteindelik tot hier gebring het. Chris is getroud met Maryke en hulle het twee kinders, Olivia (7) en Izak (5).
Chris het in Alberton grootgeword en hy het by die Laerskool Jan Celliers en die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg skoolgegaan. Sy pa het die plaas op Steenbokpan in 1997 gekoop, en ná skool in 2004 is hy plaas toe om met die boerdery te gaan help.
Marula Game het kort daarna ontstaan. “Uit die staanspoor was die doel om meer volhoubaar te boer om onafhanklik te wees,” sê Chris. “Die oorspronklike plaas van 1 100 ha was die basis waarop die buffelboerdery gebou is. Intussen is vyf ander plase bekom, wat die totale oppervlak op 10 000 ha te staan bring.
“In 2019 is die 100 ha-ebesproeiingsgrond op Brits aangekoop, waar lusern verbou word en wildkorrels gemaak word wat ons as aanvulling gebruik om van die wild in die winter te voer.”
Klein begin
Die plaas het redelik wild op gehad toe die Burgers dit gekoop het, maar mettertyd is nog spesies bygevoeg namate hulle dit kon bekostig. “Ek onthou baie goed toe ons ons eerste nuwe wild gekoop het met my pa se bonus – ons was so opgewonde!
“Maar dit was nie ’n halfuur na hulle afgelaai is nie, toe breek hulle deur die draad en weg is hulle! Ons het probeer om hulle met ’n helikopter terug te jaag, maar dit het net nog geld gekos …”
Chris se pa het reeds destyds doelgerig met wild begin teel nadat hy besef het dat jag die beste bokke uitdun, wat uiteindelik veroorsaak dat die genetika verswak weens negatiewe seleksie.
Hulle fokus veral op klassieke wild op Steenbokpan, waaronder buffels, koedoes, elande, gemsbokke, bastergemsbokke, swartwitpense, blouwildebeeste, springbokke en rooibokke waarmee hulle intensief en ekstensief boer.
Verskeie kleurvariante kom ook op Steenbokpan voor, soos rooigemsbokke, goue gemsbokke, goue wildebeeste, koningwildebeeste, swartrooibokke, witrooibokke, bont (dapple) rooibokke en saalrugrooibokke waarop hulle intensief fokus. Vandag is daar naas die hoofspesies wild ook sowat 15 ander spesies.

Kleurvariasie en genetiese gehalte is kernboublokke van Steenbokpan se wildbedryf.
Buffelboerdery soos min
Chris en sy pa spesialiseer in buffels, waarmee hulle intensief boer. “Ons het in 2001 ons eerste buffels gekoop, so volgende jaar boer ons al 25 jaar lank daarmee. Ek het grootgeword met buffels en vandag is dit een van my grootste vreugdes om met hulle te kan werk en te teel,” sê Chris. Ons is baie bevoorreg in Suid-Afrika om met wild te kan boer, want waar anders in die wêreld kan jy met ’n buffel boer?”
Toe hulle destyds met buffels begin boer het, “was ’n buffel net ’n buffel, goeie genetika was nog nie ’n prioriteit nie, ons enigste doelwit was om hulle aan die lewe en skoon te hou”.
In ’n stadium het hulle begin besef dat die mark aan die verander is en beweeg na genetika en horinglengte. “Ons het ons diere verkoop en van voor af begin met die beste genetika wat ons in die hande kon kry – en dit is die grondslag waarop ons steeds vandag voortbou.”
Chris het ses buffeltroppe met talle teelbulle wat spog met horings van 50”+. Onder hulle is Tshokwane, Komati, Levubu, Numbi en Letaba, wat die Burgers by Hein Muller gekoop het sowel as Rex wat Chris geteel het.
“Ek is opgewonde oor die toekoms van die buffels: Ek het vanjaar buffelverse verkoop wat onder vier jaar reeds oor die 35” meet en dragtig gesertifiseer is. Ons het ook diere vir volgende jaar se veilings geïdentifiseer wat reeds op ’n jong ouderdom die 36”-merk verbysteek. Die doelwit is om 50 bulle per jaar jaggereed te hê.”
Chris meen dit is nie finansieel lewensvatbaar om groot herbivore soos buffels te voer nie. “Net die Here kan buffels voer … Ons strategie is om meer weiding te bekom soos wat die troppe groei. Volhoubare weidingsbestuur is die hoeksteen van ’n wildboerdery.” Wins uit die buffelverkope word gebruik om die grond uit te brei vir nog buffelkoeie.
- Die meet van horinglengte is ՚n belangrike deel van hul seleksieproses vir topgenetika.
- ‘n Stil herinnering aan ՚n duur Sondagoggend.
Rooibokke te kies en k(l)eur
Toe hulle intensief met groot rooibokke begin teel, moes hulle baie teëspoed trotseer. “Verskeie groot ramme het gevrek en meer as 70 ooie is deur wildehonde gevang – dit is genoeg om enige boer se moed te breek.” Tog het hulle deurgedruk en mettertyd die afdeling uitgebrei met swart-, saalrug-, wit- en bont (dapple) rooibokke.
Koedoe-skade
Ongelukkig het Chris ook skade met sy groot koedoes gehad.. “Een Sondagoggend toe ek en my vrou deur die kampe ry, kry ons twee teelbulle dood teen die draad – ’n jong bul het ’n ou bul doodgesteek en toe raak die jonge verstrengel in die elektriese heining en skok homself dood. Hulle (horings) hang nou albei langs mekaar in ons lapa …”
Gemsbokke … onder meer
Gemsbokke vaar baie goed op Steenbokpan – waarskynlik vanweë die feit dat die Burgers al dekades lank top genetika uitsoek – en van die beste genetika aankoop om hul gemsbokteelprojek te verbeter. “Vandag het ons naas gewone gemsbokke ook goue en rooigemsbokke – en dit is een van ons gunsteling spesies op die plaas,” sê Chris. “Ons is ook baie trots op die toekoms van die swartwitpense en bastergemsbokke op die plaas.”
Wildebeeste van formaat
Buiten gewone wildebeeste kom goue en koningwildebeeste ook op Steenbokpan voor. Onder die gewone wildebeeste staan Beyers uit, ’n Victor-seun van Bona Bona met ’n horinglengte wat net ’n raps minder as 33” meet, en wat by koeie van 22”+ loop. Die Burgers se koningwildebeeste sluit ’n bul van Kruger van Zyl met ’n horinglengte van 29,5” in.
“Ook het ons goue wildebeeste, onder meer ’n Enkulu-seun van Bona Bona wat ook net kort van 33” meet, hy loop by goue wildebeeskoeie van 22”+. Die koeie kom van die York-familie wat bekend is vir hulle goue wildebeeste.”
Volhoubare jag
Drieduisend van die totale 10 000 ha op Steenbokpan word benut vir jag. “ ’n Volhoubare jagonderneming moet diere van hoë gehalte aan kliënte lewer, die dat ons intensief op een van die plase begin wild teel het. Die kalwers word gespeen en uitgegroei en die bestes word gebruik om teeldiere te vervang of op ’n veiling aan mede-wildboere verkoop – en die res gaan na ons eie jagplase toe.”
Die Burgers het die afgelope 15 jaar op uitsonderlike genetika gefokus en wild by van die top telers in die land gekoop. Chris is oortuig daarvan dat telers mekaar onomwonde moet ondersteun.

Uitmuntende horinglengtes: van ’n 29.5” koningbul tot byna 33” goue lyne.
Elke spesie is belangrik
Chris meen elke spesie het ’n plek in die wildbedryf. “Daar sal altyd ’n aanvraag wees. Mense regoor die wêreld is bereid om geld te betaal om bokke te jag; solank as wat daar ’n eindverbruiker is, sal die bokke se waardes hou en sal dit die moeite werd wees om met hulle te boer.”
Eksklusiewe ervaring
Op Steenbokpan fokus die Burgers op die buitelandse mark en verkies hulle om Amerikaanse jagters te verwelkom.
“Hulle waardes stem ooreen met ons s’n en ons kan hulle beter verstaan as byvoorbeeld Spaanse jagters.”
Chris meen die wild- en toerismebedryf skep geleenthede in landelike gebiede waar die opleiding- en vaardigheidsvlakke laag en die werkloosheidsyfer hoog is. “Dit is ’n bron van buitelandse inkomste vir die land en ons meen die natuur en toerisme kan nooit deur kunsmatige intelligensie of tegnologie vervang word nie.”
’n Spanpoging
Maar wat beteken hierdie toekenning vir hom? “Toe ek hoor wie die beoordelaars is en besef die beste telers gaan my boerdery kom evalueer, was ek vreesbevange. Maar toe besef ek hulle gaan my nie vergelyk nie, net beoordeel op wat ek self doen.
“As mens geëer word vir wat jy elke dag doen en nie omdat dit jou werk is nie, maar jou lewe en die harde werk van ligdag tot donkernag doen wat niemand sien nie, maak dit dit net nog meer besonders. Maar dit is ’n spanpoging en niks sal moontlik wees sonder my vrou, kinders, ouers en span nie.”
‘God gee vir ons reën’
“Wildboerdery rehabiliteer die grond, wat inpas by ons beleid om die veld en wild volhoubaar te benut. God gee vir ons reën en die gras groei. As jy dit volhoubaar benut en herbenut, kan die siklus volhoubaar voortgesit word,” sê Chris.

