Categories: Vee en Wild, VeilingsPublished On: 5th August 2025

Westbourn Bonsmaras: Waar passie en genetiese vooruitgang saamkom

By 8 min read
1649 words

Lot 1 – FJK22-015

Lot 1 - FJK22-015.

Sowat 85 kilometer buite Bloemfontein, tussen Dewetsdorp en Reddersburg, lê die plaas Dampoort, die tuiste van Westbourn Bonsmaras. Sedert 1999 is daar met oorgawe geboer op die Vrystaat vlaktes, en in 2007 is die stoet onder die naam Westbourn Bonsmaras amptelik geregistreer. Vandag staan die stoetery as die hartklop van die boerdery, met ‘n kommersiële skaapkudde en lusern onder besproeiing wat as aanvullende afdelings dien.

By Westbourn is gehalte nie net ‘n doelwit nie, dit ’n lewenswyse. Die span streef onophoudelik daarna om diere van uitstaande genetiese gehalte aan die mark te bied, nie net vir hulle eie kliënte nie, maar ook vir mede-Bonsmara-boere regoor die land.

Die boerdery lê in ’n gemengde veld waar rooigras en terpentyn floreer. Hoewel die omgewing se gemiddelde jaarlikse reënval sowat 620 mm is, het die afgelope paar seisoene uitsonderlike neerslae van tot 1100 mm gelewer. Hierdie hoë reënval het gelei tot versuring van die veld, ‘n ontwikkeling wat die gebied byna soos ’n hoëveldstreek laat optree. Dit het ’n effense daling in speengewigte tot gevolg gehad, maar terselfdertyd het die veld se dra- en produksievermoë merkbaar verbeter.

Die wintertemperature is koud – met gemiddelde minimum temperature wat wissel tussen -4 en -8 °C en uiterstes tot -12 °C. Somers is egter heerlik, met maksimum temperature wat gewoonlik tussen 30 en 34 °C wissel.

Fafa van der Westhuizen, die hoof-operasionele bestuurder (COO) van Westbourn Bonsmaras, woon voltyds op Dampoort en bestuur die stoet en al die boerderybedrywighede. Hy werk in vennootskap met André van der Westhuizen en Frank Kilbourn – ’n span wat met insig, kundigheid en toewyding die visie van Westbourn leef en uitdra.

’n Stoet wat begin het met die regte visie en fondasie

Die ontstaan van Westbourn Bonsmaras is gewortel in ’n belangrike oomblik – die uitverkoping van die oorlede Kit Thompson se stoet, wat bekendgestaan het as die FCT-lyn. Met leiding van die bekende Bonsmara-kundige Danie Bosman, het vennote André van der Westhuizen en Frank Kilbourn dié geleentheid aangegryp en die beste 25 koeie op die veiling met sorg uitgesoek en aangekoop.

Dít was die fondament waarop Westbourn Bonsmaras gebou is. Sedertdien is bulle uit hierdie lyne al op vorige produksieveilings met sukses aangebied, maar die span het nie daar gestop nie. In die afgelope paar jaar is die uitdaging van genetiese vooruitgang doelbewus aangepak, met nog strenger seleksie, beter beplanning, en ’n vasberadenheid om uitsonderlike diere vir die stoetbedryf én die kommersiële mark te teel.

Een naam. Een visie. Een kudde.

Die naam Westbourn Bonsmaras is meer as net ’n stoetnaam – dit dra die identiteit van sy stigters. ’n Kombinasie van Van der Westhuizen en Kilbourn, die vanne van vennote André van der Westhuizen en Frank Kilbourn, vorm die grondslag van die stoet wat van die begin af geanker is in gehalte, volhoubaarheid en groei.

In September 2024 het nóg ’n belangrike mylpaal plaasgevind toe Dampoort en Westbourn Bonsmaras saamgesmelt het. Albei stoete is reeds vir jare vanaf dieselfde plaas bestuur – dieselfde bulle is gebruik, dieselfde veilings gehou, en dieselfde visie gedeel. Die samesmelting was dus ’n natuurlike stap: een naam, een kudde, en een doelwit – om topgehalte Bonsmaras aan die mark te lewer. Die voormalige Dampoort-diere, met die AVW-voorvoegsel, is nou volledig geïntegreer in die Westbourn-kudde onder die FJK-voorvoegsel.

Die kudde is gebou op sterk genetiese fondamente, met Syferfontein- en Up George-bloedlyne wat die ruggraat vorm. “Ons het die afgelope paar jaar doelgerig belê in genetika van uitsonderlike gehalte om die standaard van ons kudde te verhoog,” vertel Fafa. Hierdie belegging word verder aangevuur deur ’n sterk en strategiese embrio-program – ’n volgende stap in die stoet se genetiese vooruitgang.

’n Groot hoogtepunt vir die program is die insluiting van LAR 20-385 genetika, wat onlangs vir ’n rekordprys van R2,6 miljoen op die Up George Bonsmara-produksieveiling verkoop is aan Pieter Hoogenboezem en familie van Blouberg Bonsmaras. Westbourn het egter reeds voor dié veiling met LAR 20-385 gewerk en hy vorm nou die hart van hul embrio-program. Die eerste kalwers uit hierdie program is reeds op die grond – en dit is net die begin van wat voorlê.

LAR 20-385.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor wat die toekoms vir Westbourn inhou,” sê Fafa. “Nie net is ons besig met die embrio-program nie, maar ons brei uit met meer grond, in getalle én in genetiese kapasiteit. Ons is dankbaar vir die seëninge en die momentum wat ons tans ervaar.”

Westbourn teel met ’n doel en ’n duidelike rigting

By Westbourn Bonsmaras word daar nie sommer lukraak geselekteer of geteel nie – elke dier, elke besluit en elke bloedlyn word met ’n doel benader: om funksionele, effektiewe Bonsmaras te teel wat kan aanpas regoor Suid-Afrika.

Vrugbaarheid is een van die boerdery se hoogste prioriteite. “’n Koei wat nie jaarliks ’n gesonde kalf speen nie, pas nie in ons sisteem nie,” sê Fafa.

Wat fenotipe betref, fokus hulle op diere met laer skouerhoogte en langer lywe – nie net om ’n mooier vleisprofiel te lewer nie, maar ook vir praktiese redes. “Skouerhoogte hou direk verband met onderhoudskoste,” verduidelik Fafa. “Hoe hoër die dier, hoe meer energie verg dit om hom aan die gang te hou. Ons verkies eerder diere wat onderhoud benodig, maar steeds top vleiseienskappe bied.”

Hoewel hulle baie gefokus is op aanpasbaarheid en effektiwiteit, bly vleiseienskappe- en prestasie ’n kernaspek. “Ons is betrokke in die vleisbedryf en ons wil daar bly,” meen Fafa.

Genetika bly egter die spil waarom alles draai. Westbourn Bonsmaras streef daarna om met uitsonderlike genetiese materiaal te teel, verkieslik die top 5% van wat in die Bonsmara-bedryf beskikbaar is. “As ons nie met absolute top genetika kan werk nie, los ons dit liewer. Ons wil onsself posisioneer as een van die voorste telers en stoete in die land, en dan moet jou genetiese basis klop.”

Bonsmara – die ras wat sin maak

Waarom Bonsmara? Fafa se antwoord is eenvoudig: “Waarom op 30% van die mark fokus as jy 70% daarvan voor jou kan hê?” In Suid-Afrika is sowat 70% van alle beeste Bonsmara-tipe diere, ’n ras wat diep gewortel is in die plaaslike vleisbedryf. “As jy ’n Bonsmara in die mark plaas, weet jy daar’s vraag. En uiteindelik boer ons mos om te verkoop,” sê hy reguit.

Die groot markaandeel bring natuurlik ook ’n ryker genepoel en dus méér keuses wanneer dit kom by genetiese verbetering. Maar vir Fafa is die keuse vir Bonsmara nie net prakties nie, dit is ook persoonlik. “’n Rooi bees praat maar net met ’n mens se hart,” vertel hy glimlaggend. “Ons het van die begin af verlief geraak op hulle eenvormigheid, hulle mooi tipe, hulle temperament, en hulle vermoë om aan te pas. As ek vandag weer moes kies, sou ek dieselfde pad stap. Ek sou nooit ’n ander ras kies nie.”

Hy het ook groot lof vir die organisasie en ondersteuning binne die Bonsmara-bedryf. Van rekordhouding tot seleksieprosesse, van die kantore tot die raad – alles funksioneer glad en professioneel. “Dis ’n ekosisteem wat werk,” sê Fafa. “Bonsmaras is nie net die pasaangeërs nie, dit is ’n ras en ’n gemeenskap waarvan ons trots is om deel te wees.”

’n Droom wat waar geword het

In 2024 is Fafa verkies as ’n senior keurder vir Bonsmara SA – ’n mylpaal wat hy met opregte dankbaarheid en trots beskryf. “Van die dag af wat ek met Bonsmaras begin boer het, was dit een van my grootste drome om eendag ’n senior keurder te word,” vertel hy. “Ek het altyd opgekyk na die senior keurders wat by ons plaas gekom het, ek het letterlik aan hulle lippe gehang vir elke greintjie kennis en ervaring wat hulle gedeel het.”

Vandag is dit Fafa wat daardie hoed dra – en hoewel dit vir hom steeds onwerklik voel, is dit ’n rol wat hy met erns en integriteit vervul. Hy het reeds verskeie keurings landswyd afgehandel, en beskryf dit as ’n voorreg om op ander Bonsmara-plase te kan staan en die ras te dien namens Bonsmara SA.

“Jy moet jou eie kudde se hoed by die huis los, en die Bonsmara-hoed opsit wanneer jy gaan keur,” sê hy. “Dit is nie jou eie teeldoelwitte wat tel nie – dis die ras s’n. Dit gaan daaroor om eties, eerlik en objektief op te tree, sodat ons almal saam die ras vorentoe vat.”

Om deel te wees van die keurders van Bonsmara SA het vir Fafa ’n nuwe waardering gebring vir die groter Bonsmara-gemeenskap. “Dit is vir my ’n ongelooflike ervaring om ander telers, hulle plase en hulle benaderings te leer ken. Dit laat jou besef hoe ryk en veelsydig die Bonsmara-bedryf werklik is. Dit is ’n groot eer, en ek dra daardie verantwoordelikheid met trots.”

Inligtingsdag: Kom kyk self

Westbourn Bonsmaras nooi alle Bonsmara-telers, kommersiële boere en voornemende kopers hartlik uit na hulle bulbesigtigingsdag op die plaas Dampoort, in die Dewetsdorp-distrik. Dit is die ideale geleentheid om die indrukwekkende groep bulle wat op die komende produksieveiling aangebied gaan word van nader te bekyk – en te bespreek.

  • Plaas Dampoort, Dewetsdorp
  • 13 Augustus 2025
  • Vanaf 14:00 tot laatmiddag
  • Boereworsrolle en verversings sal bedien word!
  • RSVP by Fafa by 071 6000 792

Produksieveiling: 28 Augustus 2025

Westbourn Bonsmaras se produksieveiling vind plaas op 28 Augustus 2025 om 11:00 op die plaas Dampoort. Hierdie is jou kans om van die beste genetika wat die Bonsmara-bedryf tans is te bekom. Diere wat met insig, streng seleksie en ’n visie vir die toekoms geteel is. Of jy nou op soek is na ’n nuwe stoetbul, top vroulike diere, of net ’n passie het vir rooi beeste – hierdie is ’n veiling wat jy nie wil misloop nie. Vir meer inligting, volg  Westbourn Bonsmara se Facebookblad of kontak vir Fafa direk by 071-600-0792.

Op die veiling sal nie net indrukwekkende bulle aangebied word nie, maar ook ’n klompie besonderse vroulike diere – geteel uit van die mees gesogte en beproefde bloedlyne wat tans in die Bonsmara-bedryf beskikbaar is. Hier is ’n voorsmakie van wat wag:

AVW18-37 en haar bulkalf.

Hier is ’n paar van die top bul-lotte wat beslis gemerk kan word:

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0