Categories: Resource managementPublished On: 22nd September 2017

Water: Wes-Kaapse sagtevrugteboere beplan om elke druppel te benut

By 3 min read
vrugte

water

Die huidige droogte in die Wes-Kaap en dele van die Oos-Kaap dwing sagtevrugteboere om gebeurlikheidsplanne vir die komende seisoen in werking te stel. Die plant van vrugtebome is ’n langtermynbelegging met boorde wat eers na ongeveer vyf jaar in produksie kom.

Die afgelope winterseisoen was een van die droogste winters in etlike jare, met ongekende lae damvlakke wat erge druk op die waterinfrastruktuur van Kaapstad en omliggende gebiede plaas.

Vrugteboere is van besproeiingswater afhanklik vir produksie en wag gretig op goeie lentereëns om hulle damme te vul. Hortgro, die sagtevrugtekwekersorganisasie, se boere het aangedui dat waterbeskikbaarheid van streek tot streek en selfs binne streke verskil. Sommige vrugteboere sal genoeg water vir die komende seisoen hê, terwyl ander slegs ’n fraksie van die water sal hê wat benodig word.

Hortgro het onlangs ’n besproeiingseminaar aangebied om boere toe te rus met die nodige inligting en strategieë om die impak van die droogte so goed moontlik te versag. Die toekomstige klimaatsvooruitskouings vereis dat alle nuwe boordaanplantings doeltreffend moet wees.

Tydens die seminaar is die basiese beginsels vir besproeiingsontwerp en -beplanning hersien. Die verskillende seisoenstadia wanneer bome moontlik meer of minder sensitief vir droogte is of wanneer omstandighede waterbesparing moontlik maak, is geïdentifiseer. Verskillende praktyke en tegnologieë om water te bespaar, soos deklaagbewerking, beperking van besproeiing tot die wortelstelsel en die gebruik van nette, is bespreek.

’n Omvattende droogtestrategie is deur ’n vrugteboer van Ceres voorgelê. Die strategie behels die optimale besproeiing van hoogs winsgewende boorde, beperking van watertoewysing aan minder winsgewende boorde en die verwydering van onproduktiewe boorde. Hierdie strategie word maandeliks tydens waterbegrotingsvergaderings hersien.

In ’n poging om water te bespaar, het heelwat vrugteboere hulle ouer en minder produktiewe boorde, wat hulle in elk geval binne die volgende paar jaar sou verwyder, nou reeds uitgehaal. Ander boere het weer besluit om al hulle vrugte van die bome te verwyder in ’n poging om die bome te red. Uiteindelik sal die toewysing van water ’n ekonomiese besluit wees met die mees produktiewe langtermyngewasse wat voorkeur kry bo korttermyngewasse soos uie en aartappels.

Vrugteboere is egter veerkragtig en gebruik tegnologie baie meer aktief en doeltreffend in die bestuur van hulle water, besproeiingstelsels en boorde. Water was nog altyd ’n beperkte en beperkende hulpbron in die Wes-Kaap. Boere se tegniese vaardighede om elke druppel water te laat tel, sal in die komende seisoen behoorlik getoets word.

Daar word steeds gehoop op goeie lentereën wat die situasie vinnig kan laat verander, maar soos sake nou staan – aan die einde van die primêre reënvalseisoen in die Wes-Kaap – word ’n afname in produksie, uitvoere en buitelandse verdienste verwag. Hierdie situasie sal ook ’n impak op werksgeleenthede en die sosio-ekonomiese omgewing hê. Die volle impak hiervan sal egter eers in die volgende maand-en-’n-half bepaal kan word. Die keersy van die ‘droogtemunt’ is dat vrugte se eetgehalte tydens droogtetoestande gewoonlik baie goed is met hoë suikervlakke en goeie smaak.

Bron: Hortgro

Theewaterskloofdam

Die Theewaterskloofdam se watervlak was skrikwekkend laag deur die winter.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment