Wat is nuut? Landboutegnologienuus vanoor die wêreld

Agriculture-technology
(Foto deur wbcsd.org)
EMotive vra skarefinansiering vir elektriese alleterreinwerktuigdraer
Emotive, ՚n Britse maatskappy, span skarefinansiering in om hulle prototipe elektriese werktuigdraer, wat geen uitlaatgasse vrystel nie, tot die voorproduksiestadium te voer, gereed vir demonstrasies en produksie in lisensie.
Die draer, bekend as die Scarab, kan met voorste en agterste driepunstelsels en kragaftakkers toegerus word en ՚n vrag van 4 tot 6 ton dra.
Dit word as ՚n ekovriendelike alternatief vir Mercedes Benz se Unimog beskryf en is nuttig in ՚n wye reeks toepassings, insluitende landbou en bosbou.
Die elektriese samestelling van die kragoordragstelsel sluit in gevorderde wringkragbeheer, slim kragverspreiding, telematika en die moontlikheid van outonome beheer.
Al die wiele word elektries aangedryf en die voertuig kan vir twee-, vier- of seswielaandrywing saamgestel word.
՚n Wye reeks kragweergawes gaan beskikbaar wees, maar die piekkrag
van die basisvoertuig sal 668 kW wees. Krag word deur ՚n batterystel voorsien.
Die besonderhede is nog nie vrygestel nie, maar Stephen Vale van profi, ՚n landboutegnologietydskrif, spekuleer dat die opsies ՚n waterstofaangedrewe brandstofsel sal insluit om die werkstyd te verleng en om batterye te herlaai.
Dit word voorsien dat handelsvennote die tegnologie sal gebruik om hulle eie e-voertuie onder hulle eie handelsname te vervaardig.
Skarefinansierders sal aandele ontvang en kans gegee word om die Scarab op ՚n Land Rover-ondervindingbaan te bestuur en te sien waartoe hy in staat is. (Bron: profi)

LEMKEN lei koolstofboerderynavorsingsprojek
LEMKEN het saam met Leibniz-sentrum vir Landboulandskapnavorsing (ZALF) die konsep van ՚n koolstofboerderyploeg ontwikkel.
Die ZALF-navorsing oor opbrengs en die klimaatuitwerking van gedeeltelike diepbewerking word befonds deur die Duitse Federale Ministerie van Voedsel en Landbou.
LEMKEN gebruik hierdie navorsing om ՚n werktuig te ontwerp vir die koolstofverryking van bewerkbare grond.
Die ploeg is bedoel vir gebruik om verdigting op te breek en die grond te verryk.
Die werktuig het dele wat die grond op verskillende dieptes ploeg om holtes onder die bewerkingsvlak in elke voor te skep, wat dan met humusryk bogrond gevul word.
Ontledings van proewe wat ZALF gedoen het, wys dat meer as die helfte van die humus wat op hierdie manier geplaas is, behou word om die langtermynberging van CO2 in die grond te verseker.
Die laer grondlae met min humus wat in die proses geploeg word, word met die bogrond vermeng en vorm binne ՚n paar jaar nuwe humusryke bogrond namate die plante koolstof in die grond plaas.
Alles in ag genome, neem die humusinhoud van grond wat op hierdie manier bewerk word toe, en die grondvrugbaarheid verhoog.
Terselfdertyd skep hierdie volhoubare grondverbetering ՚n nuwe sakemodel in die vorm van koolstofboerdery.
Om verdigte grond op te breek en terselfdertyd humusryke grond in holtes te plaas, laat die plantwortels dieper in die grondvlakke groei om die water en voedingstowwe wat daar geberg word te bereik. Dié benadering kan opbrengs in die eerste jaar met tot vyf persent opstoot.
Hierdie bevinding is reeds in die 1960s en die 1980s gemaak en dit is bevestig deur onlangse veldtoetse deur ZALF. Die bewerking kan na vyf of tien jaar dwars oor die aanvanklike bewerking toegepas word.
Die nuwe ploeg sal teen die middel van 2024 in die handel beskikbaar wees. (Bron: LEMKEN)

Kubota kondig nuwe reeks aan
Kubota het sy vlagskip-MGX-reeks met die nuwe M6U-reeks vervang. Die U staan vir ‘utility’, wat beteken dat hierdie gedugte reeks nóg nuttiger as sy voorgangers is.
Vyf modelle is beskikbaar. Twee van hulle het ՚n kort asafstand en gebruik die 3,8-liter Kubota-enjin. Die M6-101U lewer 77,6 kW en die M6-111U 83 kW.
Die drie modelle met die lang asafstand (2,68 m) is die M6-121U, M6-131U en M6-141U, en hulle lewer respektiewelik 92 kW, 99 kW en 106 kW, met maksimum wringkrag van 503 Nm, 544 Nm en 586 Nm.
Al vyf modelle het semi-kragoorskakeling met agt kragoorskakelings en drie meganiese strekke (24×24). As ՚n bykomende kruiperstrek gekies word, word die aantal strekke vermeerder tot 32×32. Outo-oorskakeling is by elke reeks ingesluit.
Die kortasafstandmodelle se hysers lig 5 ton en die langasafstandmodelle s’n 6,1 ton. Al die modelle het kragaftakkers van 540/1 000 opm.
Die nuwe modelle het talle ander opsies soos ՚n voorste driepunthyser wat 2,6 ton kan optel, ՚n voorste kragaftakker van 1 000 opm, voorasvering, twee bykomende hidrouliese aftappunte en ՚n sondak vir gebruikers wat die trekker met ՚n voorlaaier wil toerus. (Bron: profi)

John Deere stel ten volle selfbesturende trekker bekend
John Deere het sy eerste ten volle selfbesturende trekker by die Verbruikerselektroniese skou (CES 2022) in Las Vegas bekendgestel.
Die 8R-model is gebruik en dit is steeds toegerus vir ՚n operateur, maar al waarvoor die selfbestuurontwikkeling ՚n operateur nodig het, is om dit land toe en terug skuur toe te bestuur.
Ses pare stereokameras kyk 360 grade om versperrings op te spoor en afstande te bereken. Die beelde gaan deur ՚n senuweenetwerk wat elke beeldelement binne nagenoeg 100 millisekondes klassifiseer en bepaal of die trekker moet voortwerk of stilhou. As daar iets op die land is waaroor die trekker onseker is, stop hy en roep die afstandbeheergebruiker.
Die selfbestuurtrekker kontroleer ook deurgaans sy posisie teenoor ՚n geogrens om seker te maak hy werk waar hy veronderstel is om te werk met 2,5 cm akkuraatheid.
Die trekker se status kan van ՚n afstandtoestel gemoniteer word. Die toepassing bied ՚n intydse video, beelde en inligting, en afstandbeheer van die trekker se spoed en werkdiepte.
Met die toepassing word die brandstofvlak ook nagegaan, en dit wys hoeveel van die land bewerk is en hoeveel nog oorbly.
Tans is die tegnologie vir die 8R410 beskikbaar saam met ՚n spesiale John Deere-beitelploeg.
՚n Beperkte aantal van die trekkers sal vanjaar aan Noord-Amerikaanse klante gelewer word. (Bron: John Deere)


John Deere
Stuur asseblief jou tegnologienuus aan annemarie@proagri.co.za.