Wanneer en hoe moet ek my kalwers onthoring?

onthorining
deur Cornelis Rautenbach, Nonnie Tuli-stoet
Een vorm van ontwapening wat sin het, is die verwydering van beeste se horings.
Nadele van diere met horings:
- Diere met horings beseer mekaar
- Diere met horings domineer ander by lek- en voerkrippe sodat elkeen nie sy regmatige deel kry nie
- Diere met horings bemoeilik en vertraag die proses wanneer daar met hulle gewerk word.
Daarom is die voordele van onthoringde beeste, veral op ‛n jong ouderdom, van ekonomiese waarde. Nog beter is natuurlike poenskopdiere wat geen arbeid benodig nie. Koeie wat hulle sout werd is, behoort ongediertes weg te hou sonder horings, veral soos die Tuli wat mekaar kan bystaan en baie kuddegebonde is. Soos ek nog steeds ondervind, slaap kalwers binne en koeie buite en dit vertoon die Tuli se besonderse beskermingsinstink. Die beste tyd om kalwers te onthoring is vanaf ses weke tot en met drie maande ouderdom. Hoe jonger jou kalf is wanneer aan hom gewerk word, hoe minder spanning sal daar wees. Die ideale ouderdom verskil ook tussen rasse wat sterker of ligter horings gaan hê.
Nog ’n voordeel van jonk onthoring is dat die tydsduur wat aan die kalf bestee word, baie korter is, wat die werk vlotter laat verloop en ook die spanning verminder. Kies die regte onthoringbout. Vermy onthoringboute waarvan die vlam beïnvloed word deur wind of wat mondstukke het wat maklik verstop. Gebruik eerder onthoringboute wat deur ’n goeie gastoestel verhit word (’n blou vlam en nie ’n rooi vlam). Sorg dat die onthoringbout warm genoeg is. Gebruik minstens twee onthoringboute om altyd ’n rooiwarm een gereed te hê. As die kalf nog baie jonk is en die horingknoppies word nie afgeknip nie, doen een bout albei horinkies; dan brand jy elkeen vir ongeveer 4 tot 5 sekondes. Sodra die horinkie 1 cm lank is, begin die knoppie hard word. Die vinnigste en beste manier is dan om dit af te knip met ’n onthoringtang of ’n hoekskêr. Dit kan bloei, veral sou die horinkie 2 cm uitgegroei wees.
Wat belangrik is, is om die vel om die horingtroontjie weg te brand. Dit moet wees soos ’n slootjie om die horinkie, met ander woorde nadat die bloed gestol het, moet daar nog voortgegaan word met die brandproses. (Hierdie proses neem so 30 sekondes). Deur die onthoringsproses word die bloedvloei wat die horing se groei stimuleer, afgesny. Sou daar eers gewag word tot en met speenouderdom, neem dit 1 minuut per horing en die kans is goed dat dit weer sal uitgroei. By natuurlike poenskopkalwers gaan die kop ’n ronde vorm hê, met geen knoppies sigbaar of voelbaar nie. Los knoppies kan ook voorkom, wat dan eindig met ’n los horing op groter beeste, of die horing kan sterker word afhangende van hoe los die knoppie oorspronklik was. Die beste sou wees om los knoppies te brand om beserings van die los horings te voorkom.
Groot beeste
Indien die kalwers oorgeslaan was, sal dit raadsaam wees om groot beeste gedurende die wintermaande te onthoring. Die beste is om ’n kabel te gebruik. Met die vinnige gebruik daarvan bloei die horing feitlik niks nie. Die groot lem of skêr veroorsaak te veel bloeding. Dit is belangrik om die gate toe te stop met watte wat in Stockholmteer gedoop is. Jong beeste se horings kan weer uitgroei, want die bloedvloei kan nie soos met kalwers afgesny word nie. Die beste is dan om eerder te wag tot op 4 tot 5 jaar wanneer die diere klaar uitgegroei het, aangesien die onthoring van jong diere hulle groei baie nadelig kan beïnvloed.
Neem ook kennis dat Rau se brandmerkoonde, brandysters, onthoringboute, nekklampe en neusplate om kalwers te speen reeds vir 20 jaar in die mark is en dat verskuifbare hekke ook nou beskikbaar is. Cornelis Rautenbach kan vir meer navrae hieroor gekontak word by 082-371-4390.
Met erkenning aan die Tuli-joernaal 2016