Categories: HulpbronbestuurPublished On: 25th July 2022

Vrystaatse vrou vat tamaties verder

By 7 min read
1348 words

anja 5 1

Timeless Tomatoes se handelsmerk is landwyd bekend.

deur Tisha Steyn

Anja Fourie boer sedert 2004 met tamaties by Bethulie in die Suid-Vrystaat. Sy is die alleeneienaar van Timeless Tomatoes wat vars tamaties droog en verwerk in verskillende soorte sous, pesto, blatjang en konfyt.

Die 45-jarige ma van twee seuns boer saam met haar man, Frans, op die plaas Driefontein sowat 26 km buite die dorp in die Burgersdorp-distrik. Frans hanteer die vars tamaties, terwyl Anja op die verwerking fokus. Die leerkurwe was maar steil, sê sy.

“Toe ek met tamaties begin boer het, het ek regtig niks van groente geweet nie, al het ek op ՚n plaas sowat 60 km van hier af grootgeword. My pa, Harm Grobbelaar, het tot met sy aftrede met vee geboer en boerdery is in my bloed.

“My ma, Letitia, het vir my die idee gegee om net soos in die oudae die tamaties te begin droog.”

՚n Vriendin wat komkommers in ՚n tonnel gekweek het, het die tamatiesaadjie in haar kop geplant. Die belangrikste oorweging was dat sy graag ՚n bydrae tot die plaas wou maak en in 2004 het sy haar eerste saailinge in ՚n tonneltjie, waarin sy voorheen blomme gekweek het, aangeplant.

Tamaties word in skywe gesny en op droograkke in die son gedroog.

Uitdagings

Omdat sy niks van tamaties geweet het nie, moes sy wyd navorsing doen en by kundiges kers opsteek. Aanvanklik was Frans nie by die boerdery betrokke nie, maar namate dit gegroei het, het hy naas sy veeboerdery ook begin om die vars tamaties te hanteer. Omdat die klimaat nie werklik vir tamaties geskik is nie, moes hulle baie proewe doen om die geskikte kultivar vir die omgewingstoestande te vind.

“Hierdie is nie die ideale klimaat vir tamaties nie en ons probeer die onwaarskynlike hier doen.” Vandag plant hulle die kutivar Dureen van Sakata, ՚n tamatie met ՚n lang raklewe.

”Die tamatie het ՚n klein aanhegtingspunt en bars nie so maklik nie. ՚n Lang raklewe is belangrik omdat die markte in ՚n straal van 200 tot 400 km van die plaas af is.” Die tonnels, met ՚n totale oppervlak van twee hektaar, is bedek met wit skadunet met 40% deurlaatbaarheid. Die skadunet beskerm die plantjies teen son en hael, maar het nie ՚n invloed op die lengte van die seisoen nie. Drupbesproeiing word gebruik.

Anja saam met haar suster Hilna Jansen waar sy die toekenning van
ABSA ontvang.

“Aanvanklik het ek ՚n plaagbeheerprogram slaafs gevolg. Deesdae hou ons die plante en die weersomstandighede dop en spuit daarvolgens, ons spuit nie meer alles voor die voet dood nie.” Omdat die klimaat nie ideaal is vir tamatieboerdery nie, hou hulle by ՚n kleiner skaal en voeg waarde toe deur verwerking. “Weens ryp kan ons nie soos ZZ2 in Limpopo en groot produsente in Mpumalanga en in die Oos-Kaap dwarsdeur die jaar plant nie. Ons produksie is maar ՚n druppel in die land se tamatie-emmer.”

Die plantseisoen begin in Oktober, anders ryp die saailinge dood. Die saad word by Kwaggafontein Kwekery by Bloemfontein geplant en tien weke later word die saailinge in die tonnels uitgeplant. Nog nege weke later begin hulle oes en teen einde Desember, begin Januarie, is Driefontein se eerste tamaties markgereed – twee weke nadat Bloemfontein se tamaties op die mark kom. Die seisoen hou aan tot einde April of middel Mei wanneer dit weer begin ryp. “Frans en my pa lewer in die seisoen self die tamaties drie tot ses keer per week by varsproduktemarkte in Bloemfontein, Gqebera (Port Elizabeth), Oos-Londen en Kimberley af,” sê Anja.

Songedroogde tamaties is ‘n gesogte produk.

Waardetoevoeging

 Dit is juis die seisoenale uitdagings wat Anja genoop het om ՚n ander plan te maak met die tamatie-oes. “In ՚n stadium het ek net tweedegraad-tamaties geoes as dit reën, want tamaties bars as dit te nat raak. Teen die einde van die seisoen is die tamaties kleiner en dan behaal dit glad nie ՚n goeie prys op die mark nie,” vertel sy.

“Ek het die tamaties begin droog eerder as om dit net weg te gooi of niks daarvoor op die mark te kry nie.” Sy het in haar kombuis konfyt en blatjang begin kook, tot die kombuis te klein geraak het. Sy het ook tamaties wat in skywe gesny is op drie siwwe in die son begin droog. Uiteindelik het hulle ՚n gebou op Bethulie gekoop waar sy die tamaties verwerk het. Die gebou is later verkoop en hulle het ՚n verwerkingsaanleg op die plaas gebou.

In die nuwe droogaanleg word die tamatieskywe op 48 nette op rakke uitgepak en wanneer dit lekker sonnig is, uitgeskuif om buite natuurlik droog te word. In 2017 het sy by SEDA befondsing vir klein sakeondernemings gekry waarmee sy verwerkingstoerusting kon koop vir die verwerking van die tamaties in haar groeiende reeks tydlose tamatieprodukte. “Die voordeel van waardetoevoeging is dat jy die prys van jou produk bepaal. As jy vars tamaties aan die mark lewer, berus die prys op vraag en aanbod, en jy moet maar die prys aanvaar wat jy kry.”

‘n Tamatieplant moet opgelei word om goed te dra.

Arbeid

Arbeid is ՚n uitdaging. “Ons probeer vir plaaslike mense van Bethulie en Ventersdorp werk skep. Mense kry subsidies by die staat en alhoewel daar ՚n tekort aan werk is, sukkel ՚n mens om werkers te kry. Hulle is dikwels ook nie toegewyd nie en opgeleide mense los sommer maklik hulle werk.” Buite seisoen is ses tot agt mans en vroue wat op die plaas woon in diens, terwyl tien tot agttien mense in die seisoen van werk voorsien word. Dit sluit werkers in wat pluk, pak, verwerk en vars produkte in die nedersettings verkoop.

Die pasgeplukte tamaties word in kratte geplaas en na die pakskuur
geneem.

Bemarking

Anja bemark self haar verwerkte produkte op sosiale media en dit word deur koeriers landwyd versprei. Sy verskaf landswyd aan deli’s, koffiewinkels en sommige Spar-supermarkte. Anja het verskeie toekennings verwerf, insluitend toppresteerder in finansiële bestuur in die ABSA Accelerator Programme, asook algehele wenner in die vroue-kategorie van die program en die eerste prys in die program se Shark Tank vir beste sakeaanbieding. In 2022 het haar Timeless Tomatoes Hollards se Big Ad-kompetisie gewen wat vir haar televisie-, radio- en ander mediablootstelling gegee het.

“Die toekennings het baie vir my selfvertroue beteken, want ek kon sien dat ander mense ook glo in wat ek doen; dit het bevestig dat ek op die regte pad is!”

Blatjang en pesto is twee van die produkte van die gewilde Timeless
Tomatoes-produkte.

Manswêreld

Ondanks die toekennings is daar tog mense wat dink boerdery is nie ՚n vrou se plek nie. “Boerdery is maar ՚n manswêreld en daar is mense wat dink vroue kan nie boer nie. Ek het nog nooit bedreig gevoel nie. Ons is in Suid-Afrika al verby die stadium dat ons bedreig hoef te voel. Ek en my man is ՚n span. Hy is my beste maat en met sy geloof in my kan ek enigiets doen.”

Haar man en die Here is haar ankers. “Die Here het ՚n tamatie oor my pad gebring. As dit nie vir Hom was nie, sou ek nie so ver gekom het nie. Ek het gewonder wat ek die onderneming moet noem, en die Here het vir my die naam gegee: Ek het een oggend opgestaan met die naam Timeless Tomatoes in my kop … “Hy sorg vir alles, ek moet net die werk doen. Ek wil ՚n lewende getuie wees van hoe God my help ondanks al die ops en afs – hoe Hy mense oor my pad stuur wanneer daar ՚n probleem is, soos siektes in die tonnels …

Die verwerkingsaanleg op die plaas voldoen aan al
die bedryfsvereistes.

“Ek voel naby die Skepper as ek met die grond werk. Dis vir my ՚n wonderwerk hoe ՚n klein plantjie groei en ՚n gesonde tamatie produseer – hoe mooi en perfek dit is. As ek ՚n tamatie in my hand hou, besef ek die grootsheid van die skepping. “Ek bedank graag my man en kinders, ouers en vriende, sommer almal wat ՚n aandeel in my sukses gehad het. Maar alle eer aan God!”

Kontak Anja Fourie by 073-361- 7906 of info@timelesstomatoes.com of besoek die webtuiste by http://timelesstomatoes.com/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0