Vrystaatse grensboere ly onder doelbewuste brandstigting

Die nadraai van ‘n doelbewuste veldbrand tydens VL se besoek in 2024
Vrystaat Landbou (VL) het hul bekommernis uitgespreek oor die voortslepende probleem van veldbrande op plase langs die RSA/Lesotho-grens, wat doelbewus deur persone van Lesotho aan die brand gesteek word.
Slegs in die afgelope drie dae (14–16 Julie 2025) is sewe veldbrande binne ’n radius van 20 km in die Boesmanskop-gebied (naby Wepener en Zastron) gestig. Die skade is enorm – boere verloor kosbare weiding, vee en infrastruktuur. Maar dit gaan nie net oor ekonomiese verliese nie; dit gaan oor veiligheid en oorlewing. Grensboere staar jaarliks groot verliese, trauma en gevaar in die gesig.
“Grensboere leef daagliks met die vrees dat hul plase en families die volgende teiken gaan wees. In 2024 moes hierdie boere 57 brande in net twee maande bestry – almal glo kwaadwillig deur Basotho’s gestig,” sê dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL.
Volgens Gerard Jordaan, ‘n boer van Boesmanskop, bestaan daar onder persone van Lesotho ‘n wanpersepsie dat die velde afgebrand moet word om nuwe, groen weiding na die eerste reën te verseker. “Hulle jaag dan hul vee oor die grens om op Suid-Afrikaanse plase te kom wei – iets wat onwettig is,” verduidelik hy.
Dr Buys bevestig dat Vrystaat Landbou reeds ’n dringende versoek aan die LUR’e vir Landbou en Gemeenskapsveiligheid, die Departement van Paaie en Vervoer, die SANW en SAPD gerig het om met hul eweknieë in Lesotho te skakel ten einde bewustheid in dorpe en nedersettings aan die ander kant van die grens te skep oor die wetteloosheid en gevolge van hierdie brande.
“Boere spandeer waardevolle tyd om brande te probeer blus, eerder as om hul boerderybedrywighede voort te sit,” voeg dr Buys by.
Die probleem word verder vererger deurdat die “Working on Fire”-span in Vanstadensrus nie grensboere kan bystaan nie, aangesien die grenspad heeltemal onbegaanbaar is. Dit maak dit onmoontlik vir noodvoertuie en toerusting om die betrokke gebiede te bereik. Dr Buys sê hierdie probleem is reeds in 2024 aan twee LUR’e uitgewys tydens ‘n besoek aan die grens.
“Hierdie brande – en die groter konteks van grensmisdade – bevestig dat grensboere in die steek gelaat word deur regering en sy strukture. Hulle moet self toesien na hul veiligheid, brande bestry, paaie in stand hou en steeds kos produseer,” sê Buys.
Vrystaat Landbou doen ‘n ernstige beroep op die Minister van Openbare Werke om dringend prioriteit aan die herstel van die grenspad te gee. “Sonder toegang tot die grens kan brande onbeheerbaar raak en selfs tot lewensverlies lei,” waarsku dr Buys.
Intussen raai Dr Jack Armour, Kommersiële bestuurder van VL, alle boere aan om op hoë gereedheidsvlak te wees met die naderende veldbrandseisoen, en om aktief in te skakel by hul plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV).
Bron: VL