Vrystaat Landbou 2025 Jongboer van die Jaar finaliste

man-1866559_1920reg
Vrystaat Landbou het op Donderdag, 10 April, sy 2025 Jongboer van die Jaar finaliste tydens die organisasie se Jongboer-konferensie in Bloemfontein bekendgestel. Die beoordeling van kandidate het reeds op 26 en 27 Februarie plaasgevind, toe die beoordelingspaneel, bestaande uit verskeie kundiges, elke kandidaat op sy plaas besoek het.
Die finaliste is:
- DJ Meades van Petrusburg
- Junior Ferreira van Bethlehem
- JW Dercksen en Morné Kleynhans, beide van Hertzogville
- Tienie Prinsloo van Hoopstad
DJ Meades (33) boer reeds die afgelope 12 jaar op hul plaas in die Petrusburg area. Hy is ’n groenteboer en vertel trots van sy groeiende pekanneut kwekery wat hy self gevestig het. DJ glo daarin om geleenthede aan te gryp waar hy werknemers kan oplei, aangesien dit op die langduur ook sy boerdery bevoordeel. DJ is lid van Perdeberg boerevereniging en is ook betrokke by plaaslike veiligheid deur gereeld aan patrollies deel te neem en te help met die instandhouding van paaie.
- DJ Meades
- Junior Ferreira
Junior Ferreira (34) boer die afgelope 14 jaar in die Bethlehem-distrik. Hy het 9 jaar saam met sy pa geboer. Na sy pa se afsterwe, het hy die grond geërf en boer nou reeds 5 jaar alleen. Hy streef daarna om meer bewarings- sowel as regeneratiewe boerderypraktyke op sy plaas toe te pas. Sy langtermyn visie is om meer omgewings vriendelik te boer, nader aan die natuur, om sodoende beter grond agter te laat vir die volgende generasie. Junior is reeds 12 jaar lid van Sonop boerevereniging, lid van Graan SA en dien ook die afgelope jaar as voorsitter van Bethlehem Veediefstal inligting sentrum.
JW Dercksen (28) van Hertzogville-distrik boer die afgelope 4 jaar saam met sy pa, nadat hy ’n paar jaar in Amerika gewerk het. JW meen dit is belangrik om uit foute te leer wat gemaak is en om nie agter te raak wat moderne praktyke betref nie. Sy langtermyn visie vir die familieboerdery is om maksimum opbrengs op die minimum hektare te behaal. Hy is trots op die implemente wat self op die plaas gebou en herstel word, aangesien dit nie geld nie maar ook tyd spaar. JW skroom nie om hand by te sit waar dit nodig is nie. Hy is lid van Agri Hertzogville, die buurtwag patrollie en ook die brandvereniging in die omgewing.
- JW Dercksen
- Morné Kleynhans
- Tienie Prinsloo
Morné Kleynhans (28) boer ook die afgelope 4 jaar voltyds saam met sy pa in die Hertzogville-distrik. Hy is hoofsaaklik verantwoordelik vir die tegnologiese deel van hul presisie boerdery en meen dat die toevoeging van tegnologie beslis potensiaal ontsluit het met die kontrolering van bewerking. Hy skroom egter nie om ook raad te vra van ouer boere nie, want “daar is wysheid in die grysheid”. Dit is vir hom belangrik om ‘n goeie nalatenskap te los.
Morné is betrokke in sy gemeenskap deur sy lidmaatskap by Agri Hertzogville. Hy is ook deel van die brandvereniging en plaasveiligheid in die omgewing.
Tienie Prinsloo (36) boer reeds 15 jaar in Hoopstad en dien saam met sy pa as direkteur in die maatskappy.
Sy pekanneutboorde is sy trots. Hy in 2023 8 600 pekanneutbome bygeplant en in 2024 voeg hy nog 7 500 bome by. Hy vertel ook trots van die Beefmaster stoet en suikerbone wat hy tot die boerdery toegevoeg het. Tienie is passievol daaroor om ’n verskil in sy gemeenskap te maak. Hy is tans voorsitter van Hoopstad Landbou genootskap, lid van Graan SA en is ’n direkteur van Hoopstad Sport Academy.
Prof Pieter Fourie, sameroeper van die provinsiale beoordelingspaneel, meen die jongboere se passie, trots en entoesiasme is aansteeklik.
“Die jong boere maak mens hoopvol en opgewonde oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika!”
Die wenner van Vrystaat Landbou se 2025 Jongboer van die Jaar, word op 6 Augustus 2025 aangekondig en dring outomaties deur na die nasionale AgriSA/ ToyotaSA kompetisie wat later vanjaar plaasvind.
Bron: Vrystaat Landbou




