Vrystaat Jongooiklub-sukses weergalm deur die Vrystaat Vlaktes

IMG_0132
Die Vrystaat Jongooiklub het op 6 Desember die jaar op ’n jubelende noot afgesluit.
Dié afsluitingsdag vir die boere was saamgestel uit talle uitstallers, borge, skaaptelers en lede van die publiek wat by die Smithfield Gholfklub saamgesmelt het om die harde werk en ywer van die Jongooiklub deur die jaar te vier.
“Vanjaar was ’n groot jaar vir die Jongooiklub en die dag het alle verwagtinge oorskry,” verklaar Pieter Brink trots, soos hy na die skape en mense loer wat onder die OVK-tent vergader.

Pieter Brink, een van die stigterslede en bedrewe organiseerders van die dag verwelkom almal by die Smithfield Gholfklub.
Die Vrystaat Jongooiklub het almal uit hul nate bederf met die samestelling en organisasie van hiérdie dag.
Mense het van heinde en verre gekom om hierdie funksie te kom geniet en die inisiatief van die klub te ondersteun. Vanaf Ladybrand, Vrede, Edenburg en selfs Aliwal Noord het mense saamgetrek om die dag te geniet. Daar was bekende gesigte in die skaap- en wolbedryf, asook nuwelinge wat uit pure nuuskierigheid die dag bygewoon het. Na die afloop daarvan het almal nie net ’n bietjie wyser nie, maar ook as nuwe kennisse daar weggestap.
Die Vrystaatse Jongooiklub proewe van 2023
Aan die stuur van die 2023 proewe was Rudi van Zyl van plaas Sandfontein, in die Trompsberg omgewing. Die evaluasie kategorieë val onder groei, wolwaarde en reproduksie. Daar word vir elke kategorie ’n eerste, tweede en derde plek prys uitgedeel, alhoewel daar in die klub se tradisie geen onderskeid getref word tussen die deelnemers nie. Almal stap weg as ’n wenner met ’n handruk, glimlag en ’n prys.

Alhoewel daar jaarliks ’n prysuitdeling is, stap elke deelnemer weg as ’n wenner, wanneer die proewe ’n sukses is.
2023 was ’n jaar met vele ekonomiese uitdagings, maar opgee was nooit in die dinamiese jong manne se woordeskat nie. Daarom kan hulle trots wees op die vele deurbrake wat daar was.
“Elkeen se bydrae en insette word met respek in ag geneem en die bande wat voortvloei deur die lede van die Vrystaat Jongooiklub, slaan deur tot in elke boerdery”, vertel Pieter.
Hulle bewys hulself jaarliks met hul diverse denkwyse, want net soos enige lekker skaappotjie, is skaapboerdery ook saamgestel uit die regte hoeveelheid van elke element. Elke bestandeel is belangrik ter voorbereiding van die perfekte dis. Met skape teel, lei die regte hoeveelheid van elke boer se tegnieke, kruisteling en bestuursstyl saam tot die ontwikkeling van die perfekte ras. Dit dra beurtelings weer by tot die algehele sukses van skaapboerdery.

Prag ramme is tydens die dag uitgestal.
Die Vrystaat Jongooiklub bedank elkeen wat die dag bygewoon het vir die opoffering en die vriendelike gemoed waarmee hulle geariveer het.
Elke toegewyde borg wat saam met die Jongooiklub hande gevat het om die dag moontlik te maak, word spesiaal bedank. Dit is:
- Telwierde Voere
- Quantro Wools
- AgriWebb
- Smartstock
- Elanco
- KomTag
- Virbac
- OVK
- BKB
- Waterpunt Krippe
- Weideman Livestock Pellets
- Link Merinos
“Ons grootste dank aan al ons borge. Die sukses van hierdie dag sou nie sonder julle waardevolle ondersteuning en bydrae gebeur het nie. Dankie ook aan elke uitstaller, bywoner en betrokke party by hierdie geleentheid. Nogmaals veels geluk aan die klub met alle prestasies wat oor hierdie jaar se proewe behaal is.”