Vrystaat boere maak beeste vet met Limagrain se raaigras-kultivar

IMG_5994
Gert Stoltz en Fanie Yssel staan in die koekskyf raaigras wat reeds 30 dae lank groei.
In Bothaville is daar geen geheime resep vir spekvet en gesonde beeste nie, dit is bloot ‘n goeie raaigras kultivar en slim boerdery praktyke. Boere in die streek se diere wei op Limagrain se raaigras, en die resultate is indrukwekkend.
Fanie Yssel van Limagrain se tegniese-span vertel dat die maatskappy al ses jaar lank uitstekende resultate met raaigras onder besproeiing in die streek behaal. Die gras groei vinnig, is hoogs verteerbaar en gee beeste die proteïen wat hulle nodig het om vinnig gewig aan te sit.
Krugerskraal se kalwers kry ’n voorsprong
Op die plaas Krugerskraal het Gert Stoltz besluit om sy kalwers op raaigras af te rond voordat hulle voerkraal toe gaan. Drie jaar gelede het hy en Limagrain saam gesit om ’n plan te beraam: Gert wou sy voerkraalkoste verminder deur die diere reeds op die veld sterker te maak.
Gert se gemiddelde drakrag deur die winter en somer is sowat 35 kalwers per hektaar raaigras, maar by een van sy spilpunte is die koekskywe sowat ‘n hektaar groot en dan het Gert net oor die 400 kalwers op daai hektaar per dag. Hulle kry daagliks 2 kg afrondingsmengsel en genoeg droë materiaal. Saam met die voedingstof inname op die raaigras is die gemiddelde daaglikse toename (GDT) ‘n merkwaardige 1,3 kg per kalf per dag.
“Die vleis wat die kalwers op die raaigras aansit is drie keer meer as wat ons met mielies onder besproeiing regkry,” sê Gert. Hy begin die kalwers voer vanaf 195 kg en na drie maande weeg hulle gemiddeld 295 kg. Wanneer hulle voerkraal toe gaan, presteer hulle bo verwagting.

Gelukkige, gesonde, vet diere op Gert Stoltz se plaas danksy Limagrain raaigras.
Die wetenskap agter die gras
Limagrain werk nou saam met boere om die regte raaigrasmengsels te kies. Hulle plant 50 kg per hektaar, afhangend van die seisoen en grondtoestande. Westerwold, Bandito 2 en Rockstar is van die gewilde kultivars, elk met unieke eienskappe soos breë blare, hoë verteerbaarheid en uitstekende smaaklikheid.
Die doel is om die gras vinnig af te wei, dan weer kunsmis te gee. Na bemesting wag boere 21 dae om nitraatvergiftiging te voorkom. Gert werk op ’n 30 dae rotasie en sy skyf is net onder ’n hektaar groot, die 30 kalwers wat daar wei vreet dit binne ’n dag.
Fanie beklemtoon die belangrikheid van ad lib droë materiaal saam met raaigras omdat dit die beeste help om die volle voedingswaarde van die raaigras te benut.
Sommige boere stuur selfs hulle beeste glad nie voerkraal toe nie. “’n Maer koei tel ongelooflik vinnig gewig op raaigras op, want sy hoef nie raam te maak nie, sy word net vet. Binne drie maande is sy slaggereed,” sê Fanie.
Wat waterverbruik betref, gebruik raaigras minder water as mielies of koring, al moet dit meer gereeld natgemaak word. By Gert se boerdery mik hulle vir 30 mm per week, maar dit hang af van die boer se grondtipe.
“Ons het nie besef beeste onder raaigrasbesproeiing gaan so ontplof nie,” sê Fanie. “Ons verkoop nou meer as dubbel die hoeveelheid raaigras in die binneland as tevore.”

Die verskil tussen ‘n raaigras koekskyf wat kaal gevreet is en een wat 30 dae lank groei.
Bogemiddelde Brahmane
Net ’n entjie verder in die pad af wei JW Wilkens se pragtige Brahman-stoet op raaigras. Hy plant aan in Junie en gebruik dieselfde land teen November weer vir mielies. Sy 1,6 hektaar koekskywe huisves tot 130 diere.
“Ons gebruik diploïede en tetraploïede Westerwold-gras vir ’n sterk bedekking wat die voetdruk kan hanteer,” verduidelik Fanie.
JW sê hy sien ’n duidelike verskil in die kalwers se speengewigte en in die koeie se melkproduksie. “Ek sal nie sonder raaigras deur die winter kom nie, selfs met -7°C groei dit steeds mooi.”

Danksy die raaigras kan JW Wilkens sy kalwers langer aan die koeie laat drink.
Indien jy belangstel om raaigras op jou plaas te gebruik, besoek gerus Limagrain se webtuiste by www.lgseeds.co.za. Hulle span staan gereed om jou te help met die regte mengsel vir jou grond en boerderydoelwitte.

JW Wilkens gebruik Limagrain se raaigras deur die winter maande om sy stoet vet te voer.