Vriend of vyand? Ystervark, bosvark, ratel …

67154667_2342213122521050_7673380642523971584_n
Elke plant en dier het ’n unieke plek in die legkaart van die lewe op aarde, ’n unieke rol wat net daardie plant of dier kan vervul. Vat dit weg en dan laat dit ’n leemte.
Dit geld ook wilde diere wat natuurlik op ’n plaas voorkom: Of dit nou ’n luiperd, rooikat of rooijakkals is, soos ons in die vorige drie dele van die reeks oor Vriend of Vyand gesien het.
Daar is ook ander diere wat ’n boer se lewe kan verpes, soos ystervarke wat jou waterpype stukkend knaag, bosvarke wat al wat ’n knol- en bolplant is verwoes, of ’n ratel wat net nie kan verbyhou by jou byekorf nie.
Ystervarke
Ystervarke pas aan by enige habitat wat skuiling en genoeg geskikte plante bied. Hierdie herbivore vreet hoofsaaklik wortels, knolle en bas eerder as blare of gras, maar hulle sal nie hul neus optrek vir ’n sappige waatlemoen nie.
Boere kan kwaad raak as ystervarke hul oeste of besproeiingstelsels opdons. Hul snytande hou nooit op groei nie en hulle moet gereeld iets kou om hul tande af te slyt – seker dié dat hulle gedurig aan jou PVC-waterpype knaag …
Hulle is ook formidabele grouers en grawe tonnels en slote in hul soektog na wortels, bolle en knolle om te vreet. Sodoende kan hulle plaaspaaie ondermyn wat ’n voertuig se as kan breek. Ystervarke is ’n lekker vleiskossie en word soms in draadstrikke gevang.
Buiten die stukkende waterpype, die bolle en knolle wat hulle opvreet en die bas wat hulle van boomstamme afstroop, is hul spore, mis en penne (wat hulle agterlaat) duidelike tekens van hul nagtelike besoeke.
In die proses van kos soek versprei hulle bolle en saad wat die plante help voortplant, en hul voedselreste voorsien ook ander spesies van kos.
Die beste maatreël is voorkoming – beskerm jou bolle en knolle met ’n heining. ’n Gewone draadheining moet minstens 300 mm diep onder die grond wees sodat die formidabele grawer nie onderdeur kan tonnel nie. Hou die heining in stand deur dit daagliks te inspekteer en gate te herstel.
Voorkom skade aan PVC-pype deur dit ondergronds te begrawe en met klippe toe te pak. Alternatiewelik kan dit bokant die grond op byvoorbeeld heiningpale geïnstalleer word waar ystervark se kind dit nie kan bykom nie.
Ystervarke paar vir ’n leeftyd en leef in klein familiegroepe. Hulle kan tot 16 km ver loop om kos te soek en hulle is sterk swemmers. Dit is ’n mite dat hulle die penne ‘uitskiet’, maar mense wat die penne bymekaarmaak om as aandenkings te verkoop, is ’n groeiende bedreiging vir die grootste knaagdier in Afrika.

Dit is ’n mite dat ystervarke hul penne ‘uitskiet’, maar mense wat die penne bymekaarmaak om as aandenkings te verkoop, is ’n groeiende bedreiging vir die grootste knaagdier in Afrika. (Bron: Pixabay)
Bosvarke
’n Mens kry vlakvarke met hul weglêtande en bakkebaard, erdvarke met hul skerp snoet, en dan kry ’n mens bosvarke. Hulle kom veral voor in bosryke habitatte waar genoeg water en ruie plantegroei is. Hulle is omnivore wat vleis, aas en plante vreet.
Tekens van hul teenwoordigheid is landerye wat opgedolwe word asook skade aan heinings, want net soos ystervarke en ratels is hulle ook formidabele grawers. Hulle is nie regtig roofdiere nie, maar gevalle is bekend waar hulle lammers en volstruiskuikens vang en opvreet.
Bosvarke is hoofsaaklik nagdiere. Hulle leef in gesinsgroepe bestaande uit ’n dominante sog, verskeie ander vroulike sôe en hul kleintjies. Die bere is alleenlopers wat soms klein beergroepe vorm wat die sogtroppe slegs besoek om te paar. Hulle kan aggressief raak as daar kleintjies by die trop is.
Die varke belug die grond deur dit om te woel op soek na knolle en ander plantmateriaal en diere om te vreet. Hul voedingsgedrag stel ook kos beskikbaar vir ander diere, en hulle help darem ook om saad te versprei.
Soos met ystervarke is voorsorg beter as nasorg. ’n Behoorlike heining sal die vark se spoed ’n bietjie breek. Om te voorkom dat hulle oeste verwoes, kan ’n elektriese heining, flitsende ligte, ’n radio wat aanmekaar gesels en reukafskrikmiddels ingespan word.
Afval moet verantwoordelik bestuur word, anders grou hulle dit uit, en vullishouers moet wildbestand wees. Moenie vir hulle ’n voerplek maak nie, jy pluk vir jou ’n lat.

Hoewel bosvarke nie regtig roofdiere is nie, is gevalle bekend waar hulle lammers en volstruiskuikens vang en opvreet. (Bron: Cape Leopard Trust https://capeleopard.org.za/news-media/news/story/camera-trapping-in-the-little-karoo-striped-horses-leopard-tortoises-and-spotted-cats/
Ratels
Ratels kan ook groot skade aanrig. Hulle kom in ’n wye verskeidenheid habitatte voor buiten ware woestyngebiede en laagland-reënwoude.
Hulle vreet ’n verskeidenheid kos: van knaagdiere, klein voëltjies, reptiele, skerpioene, spinnekoppe, duisendpote en ander ongewerwelde diere in. Hulle vreet ook plantwortels, bolle, bessies en vrugte en hul manier van grawe stel ook kos vir ander dierespesies beskikbaar.
Hulle het ’n voorliefde vir byelarwes, en in sekere gebiede in die Wes-Kaap val hulle ook lewende hawe aan. Hul wetenskaplike naam is nie verniet Mellivora capensis nie, wat heuningvreter beteken.
Buiten pluimvee en lammers, val hulle ook volwasse skape aan. Hulle gebruik hul lang kloue om die dier vas te hou en te begin vreet aan die gesig of skouer terwyl die dier nog lewendig is – en só verinneweer hulle die dier wat gewoonlik van kant gemaak moet word.
’n Definitiewe teken van die sterke ratel se teenwoordigheid is beskadigde byekorwe. Die probleem kan opgelos word deur byekorwe in ’n staalraamwerk op stewige staanders van minstens 900 mm hoog te plaas sodat die ratel dit nie kan bykom nie.
Stewige heinings en flitsende ligte wat deur beweging geaktiveer word, kan ratels snags van kleinvee en hoenderhokke weghou.
Ratels is meestal alleenlopers, maar ’n ma en haar kleintjies kan tot 18 maande lank saam wees. Mannetjies weeg gemiddeld tussen 9 en 14 kg, terwyl die wyfies tussen 5 en 10 g weeg. Die mannetjies het ’n groot loopgebied; hulle is dikwels die slagoffers van slagysters of gif wat vir roofdiere uitgesit word.
Ondersteun die Badger Friendly Initiative deur slegs heuning van ratel-vriendelike bronne te koop.

Buiten pluimvee en lammers, val ratels ook volwasse skape aan. (Bron: Cape Leopard Trust https://capeleopard.org.za/news-media/news/story/camera-trapping-in-the-little-karoo-striped-horses-leopard-tortoises-and-spotted-cats/
Handleiding
CapeNature en die Cape Leopard Trust het onlangs ’n handleiding die lig laat sien wat Wes-Kaapse boere kan help om die uitdagings die hoof te bied. Die handleiding verduidelik in Afrikaans en Engels hoe wilde diere wat as ’n probleem beskou word, op ’n nie-dodelike, proaktiewe manier bestuur kan word deur konflik te verminder of te vermy, en hoe om te identifiseer watter roofdier verantwoordelik was vir ’n vangs, maar ook watter waardevolle rol elke dier in die ekologie speel.
Laai die Gids vir Grondeienaars hier af: Landowners-Guide-Human-Wildlife-Conflict-Afrikaans.pdf