Categories: NuusPublished On: 3rd July 2025

Voëlgriep: Astral neem leiding met inenting

By 3 min read
666 words

poultry production

Astral Foods is die eerste pluimveeprodusent in Suid-Afrika wat ‘n permit gekry het om hoenders by een van sy pluimveeplase in Gauteng teen die H5-voëlgriepvirus in te ent. (Bron: https://www.linkedin.com/pulse/start-successful-broiler-chicken-production-business-ramatsui/)

Die eerste inentings teen voëlgriep in Suid-Afrika is pas van stapel gestuur.

Landbouminister John Steenhuisen het op 1 Julie aangekondig dat  ‘n inentingspermit aan Astral Foods Bpk uitgereik is om 200 000 braaihoenders by een van hulle hoenderplase in Gauteng voorkomend teen die hoog patogene avian influenza (HPAI) in te ent.

Die aantal hoenders verteenwoordig sowat 5% van Astral se hoenderbedryf wat ‘n beraamde R35 miljoen werd is.

Steenhuisen het die stap verwelkom en gesê die verlening van die permit spruit voort uit samewerking tussen die staat en die hoenderbedryf om voedselsekerheid en die lewensbestaan van duisende Suid-Afrikaners te verseker.

Hy beklemtoon dat die entingsprogram ‘n noodsaaklike stap is om die hoenders se immuniteit te versterk en die risiko van uitbrekings te beperk. Dit sal hopelik voorkom dat miljoene voëls soos tydens die uitbreking in 2023 van kant gemaak moet word, wat voorsieningsprobleme vir produsente en verbruikers skep.

Astral neem leiding

Astral het bevestig dat die permit na 18 maande se intensiewe onderhandelings met die staat uiteindelik uitgereik is en dat hulle kan begin om hulle braaihoender-teelvoorraad teen HPAI in  te ent.

Goedkeuring om met inenting te begin is onderworpe aan streng voorwaardes van die staat se 2023-riglyne.

Die voorwaardes sluit in:

  • Dit mag slegs met ‘n voorskrif vir die gebruik van ‘n pluimvee-veearts bekom word en die dieregesondheidsmaatskappy wat dit voorsien, mag net ‘n beheerde hoeveelheid beskikbaar stel.
  • Die berging en sekuriteit van die entstofvoorraad deur die hoenderprodusent word ook beheer en sal deur die Landboudepartement geoudit word.
  • Pluimvee wat ingeënt is moet ook onder streng sekerheidsmaatreëls aangehou word en word onderwerp aan ekstensiewe weeklikse en maandelikse toesig met die gebruik van molekulêre diagnostiese tegnieke om vas te stel watter veranderinge die huidige virusstam ondergaan. ‘n Span staat- en privaat veeartse sal die monitering doen.
  • Dit is ook noodsaaklik dat die nageslag  van die geënte pluimvee-teelvoorraad volkome naspeurbaar moet wees.

Entstof vir H5, nie H7

Die entstof, wat op die internasionale mark beskikbaar is, teiken die H5-virusstam wat word reeds suksesvol in ander lande gebruik. Astral het beklemtoon dat die entstof nie die H7-virusstam teiken wat in 2023 so ‘n verwoestende uitwerking in die bedryf gehad het nie, maar op H5 wat tans in Suid-Afrika en elders in die wêreld in omloop is. ‘n Plaaslik-vervaardigde entstof teen H7 wag vir finale registrasie.

Volgens dr Obed Lukhele, Astral hoof vir tegniese aangeleenthede, sê die enting sal verseker dat die hoenders binne drie weke immuniteit ontwikkel. Al kan die entstof nie voorkom dat die hoenders besmet raak nie, sal die produsent hopelik nie massiewe verliese ly soos wanneer al die hoenders uitgeslag moet word nie.

Die entstof help die hoenders herstel sodat produksie kan hervat; die gevolge van besmetting is dus minder ernstig is as by hoenders wat nie ingeënt is nie.

Inenting voorkom ook die verspreiding van die virus in die omgewing.

Verantwoordelike pluimveeproduksie

Gary Arnold, Astral se hoof uitvoerende beampte, sê die inenting is ‘n mylpaal in die onderneming se toewyding tot biosekerheid en die beskerming van dieregesondheid en welstand, wat Astral se volhoubaarheid verseker.

Hy sê Astral se program verskaf vir die Landboudepartement ‘n werkende voorbeeld van die entingstrategie: “Ons bedank die Departement vir al hulle harde werk om hierdie uiteinde te bereik wat van soveel belang vir die bedryf is.

Hy sê gegewe die wêreldwye toename in voëlgriep is hierdie inenting ‘n belangrike stap om voedselsekerheid en werksgeleenthede in die land te beskerm. “Ons beskou die toestemming om met enting voort te gaan as groot stap in die stryd teen voëlgriep en dit bevestig opnuut Astral se leierskap in verantwoordelike pluimveeproduksie.”

Kontakbesonderhede

Kontak Gary Arnold by 012- 667-5468

Bronverwysings

Astral granted permission to vaccinate poultry breeding stock against bird flu. Astral Mediaverklaring (30 Junie 2025). https://www.astralfoods.com/assets/Documents/News/SENS/2025/Astral%20Foods%20Limited%20-%20Vaccination%20license%20approved%20-%2030%20June%202025.pdf

Department of Agriculture issues first permit to vaccinate against avian influenza. Landboudepartement Mediaverklaring 12 Julie 2025). https://mail.google.com/mail/u/0/#inbox/FMfcgzQbfxhlFXWqkLVWbvXVztLrNTDv?projector=1&messagePartId=0.1

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0