Vlakte Bonsmara Studiegroep verkoop duurste bul nòg op Doornpan

vlaktehooffoto
Op Vrydag, 17 Oktober 2025, het die Vlakte Bonsmara Studiegroep geskiedenis gemaak op Doornpan naby Roedtan, tydens hulle 16de bulveiling. Hierdie dag sal beslis as een van die groep se hoogtepunte onthou word, met ’n veiling wat nuwe mylpale bereik het en die gehalte van die Vlakte Bonsmara-genetika duidelik onderstreep het.
Met ’n uitsonderlike aanbieding van topgehalte Bonsmara-bulle en vroulike diere het kopers van regoor die land opgedaag om deel te wees van hierdie besondere gebeurtenis. Die atmosfeer was gelaai met opgewondenheid en trots.
Die 16de bulveiling kan gekenmerk word deur uitstekende pryse, groot belangstelling van kopers, wat dit die mees suksesvolle veiling in die geskiedenis op Doornpan tot dusver gemaak het. Van die eerste lot tot by die laaste het verkopers uitsonderlike pryse behaal, van stoetbulle tot kommersiële diere.
Die Vlakte Bonsmara Studiegroep maak geen kompromie wanneer dit kom by streng seleksie nie – vir hulle is net die beste goed genoeg, en dit was duidelik sigbaar tydens vanjaar se bulveiling. Die telers is beloon met besonderse goeie pryse van lojale, terugkerende kopers wat die gehalte van hulle genetika en topgehate diere baie hoog ag.
Die duurste bul verkoop vir R800 000 aan Blouberg Bonsmaras wat die duurste bul nog tot hede verkoop is op Doornpan, binne die Vlakte Bonsmara-groep. 61 Bulle verkoop teen ‘n gemiddeld van R138 361,00.
- 25 Bulle verkoop vir tussen R40 000 en R70 000
- 26 Bulle verkoop vir tussen R75 000 en R200 000
- 10 Bulle verkoop vir meer as R200 000
Hoogtepunte van die dag:

Die duurste bul, lot 14 van Tian Kruger Boerdery verkoop vir R800 000 aan Blouberg Bonsmaras. Kyk die video hier.

Die tweede duurste bul van die dag, lot 4 van LFR Bonsmaras verkoop vir R750 000 ook aan Blouberg Bonsmaras. Kyk die video hier.

Die duurste koei en kalf, lot 74 van LFR Bonsmaras verkoop vir R170 000 aan Nicholas Chapman.

Die duurste dragtige vers, lot 83 van LFR Bonsmaras verkoop vir R220 000 aan Sebadja Bonsmaras. Kyk die video hier.
Die verkopers van die Vlakte-groep kyk met groot dankbaarheid terug op ’n besonder suksesvolle veiling en bedank elke koper vir hul vertroue in die groep, asook elke persoon wat bygedra het tot die sukses van hierdie merkwaardige dag.
Die groep sien met groot opgewondenheid uit na hulle komende vetvee-veiling, wat op 3 Desember op Doornpan plaasvind, en nooi almal uit om saam te kom na ’n dag waar die krale weer vol Supers en C-grade gaan staan!