VL verwelkom aanstelling van plaasmoorde ondersoekspan in VS

(7)
Vrystaat Landbou (VL) het sy dank teenoor die Hennenman Boereverening, die gemeenskap van Hennenman en omliggende dorpe en die publiek uitgespreek vir hul ondersteuning tydens die protesaksie teen plaasmoorde in Hennenman op Maandag 16 November.
Die organisasie is oortuig dat die wyse waarop die protes aksie verloop het, vertroue en steun werf vir die plaasmoorde-veldtog, in aggenome die enorme hoeveelheid steun wat VL vanaf die publiek ontvang. Die verdagtes het verkies om nie om borgtog aansoek te doen nie en bly in aanhouding. VL verwelkom ook die aanstelling van ‘n span kundiges om plaasmoorde en –aanvalle in die Vrystaat te ondersoek. Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, het groot lof vir die boerevereniging en gemeenskap van Hennenman vir die wyse waarop die protes aksie hanteer is.
“Daar was geen voorvalle van geweld nie, die terrein is skoon nagelaat en almal het vreedsaam verdaag. Die orde reëlings deur die boerevereniging het vlot verloop en VL is trots op die geleentheid,” het Esterhuyse na afloop van die dag gesê. ‘n Versoekskrif wat deur VL opgestel is en waarin versoek word dat geen borg aan die verdagtes toegestaan word nie, is Maandag aan die staatsaanklaer oorhandig.
Danksy die druk deur VL en die landbougemeenskap, het die verdagtes verkies om nie om borg aansoek te doen nie. VL verwelkom die verwikkeling, veral in die lig daarvan dat die beskuldigdes reeds met ander misdade in die omgewing verbind word. Die organisasie verwelkom ook die aanstelling van ‘n span kundiges wat plaasmoorde en –aanvalle in die Vrystaat moet ondersoek. VL het n petisie geloots waarby die publiek genooi word om te ondersten wat gekant is teen borg aan plaasmoord beskuldigdes.
Om VL te ondersteun met die petisie kan ‘n persoon eenvoudig sy naam SMS na 37846/R1 (b’s & v’s geld). Bennie de Klerk, vise-voorsitter van Hennenman Boerevereniging, het aan VL genoem dat die Hills-moorde weer die kwessie van jou eie veiligheid en paraatheid op die voorgrond geplaas het.
“Ons het besef dat ons weer met ander oë na ons eie veiligheid situasie moet kyk. Daarom is die plaaswag in gesprek met die buurtwag om te kyk hoe ons kan saamwerk om die landelike gebied hier by ons beter te beveilig,” het de Klerk gesê.
Esterhuyse ondersteun die gedagte en is van mening dat dit tyd geword het dat plaaswagte en buurtwagte nou sal saamwerk, veral aangesien dit duidelik is dat misdaad bedrywighede al hoe meer van die stad na die landelike gebiede verskuif.
Bron: Vrystaat Landbou