VL praat oor die uitdagings in die landboubedryf

Vrystaat-Landbou-logo-275×275
Vrystaat Landbou het in ‘n uitgebreide verklaring standpunt ingeneem oor ‘n aantal brandpunte wat tans druk bespreek word in die landboubedryf.
Grond:
Vrystaat Landbou verwerp en veroordeel uitsprake van politici en aktiviste, rakende onteiening sonder vergoeding en alle ander verwante uitsprake, want dit is onverantwoordelik. Dit weerspieël hoegenaamd nie die ware feite en toedrag van sake nie.
Dit is duidelik dat politici, soos pres Jacob Zuma, dit gebruik vir persoonlike agendas om gemeenskappe te polariseer en teenoor mekaar op te stel. Onverdraagsaamheid, haat, leuens en rassisme is die onderliggende dryfvere.
Nieteenstaande die bogenoemde is ons dankbaar vir die stem van redelikheid wat uitstyg, selfs onder sekere politici en die breër gemeenskap, gegrond op die gees en letter van die Suid-Afrikaanse Grondwet vir ’n volhoubare en werkbare oplossing vir ons land se uitdagings.
Nasionale minimumloon:
As organisasie verwerp ons ’n onbekostigbare nasionale minimumloon wat verseker gaan lei tot werksverliese en armoede onder duisende gesinne in onder andere landbou. VL het in sy voorlegging oor die nasionale minimumloon daarop gewys dat die regering verantwoordelik bly daarvoor om ’n bemagtigende landbou omgewing, wat meer winsgewend is, te skep. Slegs binne so ’n verwysingsraamwerk kan die eise vir groter en hoër lone doeltreffend aangespreek word.
Die kwytskeldingsprosedures oor die pas aangekondigde nasionale minimumloon sal tans deur georganiseerde landbou herbesoek moet word, andersins gaan dit werkgewers geen ander keuse laat as om werkgeleenthede in te kort nie.
Misdaad:
Plaasaanvalle en die vlak van misdaad oor die algemeen is onaanvaarbaar hoog, en dit word nie doeltreffend genoeg deur die veiligheidsnetwerke van die land aangespreek nie. VL doen weer eens ’n beroep op gemeenskappe en die Polisie om hande te vat en misdadigers geen ruimte in hulle gebiede te gee nie.
Ons bly verbind tot die Landelike Beveiligingsplan (LBP) en funksionele plaaslike veiligheidstrukture, wat reeds puik werk doen om hulle eie gebiede te beveilig en te domineer.
In ons mees onlangse verklaring oor plaasaanvalle spreek ons ook dié aspekte aan.
Bydraes van boere in die Vrystaat:
Boere se bydraes tot werkskepping en armoedeverligting in die Vrystaat word totaal en al deur politici en kritici misken. Duisende gesinne op plattelandse dorpe in die provinsie se bestaan is te danke aan boere en landboubesighede. Boere staan ook werkers op baie vlakke by, soos met vervoer en maandelikse kosvoorsiening.
Die tyd het aangebreek dat die regering en die breër publiek meer erkentlik hieroor sal wees en handevat oor die uitdagings in die landbou wat aangespreek moet word, wat ’n meer positiewe ingesteldheid sal teweegbring.
Agri Oos-Kaap se hofsaak oor die herstel van paaie:
VL ondersteun die uitspraak en bevel van die Hooggeregshof in Grahamstad aan die Provinsiale Departement van Paaie in die Oos-Kaap in terme van die hofsaak wat Agri Oos-Kaap gedryf het.
VL sal die uitspraak bestudeer en het reeds met die Vrystaat se Departement van Paaie en Vervoer onder andere hieroor in gesprek getree. Dit is ononderhandelbaar dat paaie in die toestande is wat hulle tans is, ook aan die vooraand van ’n groter oes wat vervoer moet word om miljoene Suid-Afrikaners van voedsel te voorsien.
Bron: Vrystaat Landbou