VL Jongboer van die Jaar-wenner wil werknemers en medeboere bemagtig

Jaco en Marlize Burger met trofee
Jaco en Marlize Burger
Passie vir sy boerdery en diere, toewyding en goeie verhoudings met sy werknemers en medeboere is waarop Vrystaat Landbou se nuwe Jongboer van die Jaar se boerdery geskoei is.
Jaco Burger (34) van Wepener is op 7 April as Vrystaat Landbou se 26ste Jongboer van die Jaar aangewys. Burger boer reeds die afgelope 13 jaar in die Wepener-area, waarvan 4 jaar op sy plaas langs die Lesothogrens is.
Hy is veral trots op sy Dohne-Merino-stoet, J.L Trinity, wat in 2017 geregistreer is. Gedurende verwoestende veldbrande in September 2021, was die stoet byna in gedrang aangesien Jaco ongeveer 90% van sy weiding verloor het. Jaco en sy vrou, Marlize, glo daarin om ’n werksomgewing te skep waar hul werknemers bemagtig word om hul volle potensiaal te bereik. Oop kommunikasiekanale en respek vir mekaar is volgens hom die kernfaktor. Dit is ook vir hom belangrik om sy medeboere by te staan om hul sukses in die vervaardiging van goeie gehalte voedsel op volhoubare manier te verseker.
Benewens sy betrokkenheid by georganiseerde landbou as lid van Wepener
boerevereniging, is Jaco ook lid van die brandvereniging en neem gereeld aan die wit/bloulig patrollies saam met die SAPD deel.
Jaco stap onder meer weg met ‘n kontantprys van Vrystaat Landbou en geskenkbewyse van Kynoch, Brand New SA en Work Accident Support. Hy dring ook outomaties deur na Toyota SA/ Agri SA Jongboer van die Jaar.
Volgens prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en Hoof van die Departement van Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), word finaliste beoordeel in onder meer hul toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.
Bron: Vrystaat Landbou