Categories: NewsPublished On: 21st September 2016

VL help meer as 5 700 boere in die droogte

By 2 min read
345 words

bale-vl

’n Totaal van 5 735 Vrystaatse boere het reeds sedert Desember 2015 verskeie vorme van hulp, wat deur Vrystaat Landbou (VL) gereël is, ontvang. Meer as 540 nuweling- en bestaansboere is ook bygestaan met 13 vragte voer.

Op Dinsdag, 20 September 2016, het die Geluksdam Boerevereniging buite Bloemfontein ’n deel van die vrag voer wat hulle van besproeiingsboere van Luckhoff ontvang het, aan nuwelingboere van Lorierpark buite die stad geskenk. AfriVet het die groep ook bygestaan met vitamien- en mineraal-aanvullings ter waarde van R12 000.

Zach Choane, een van die nuwelingboere, sê oorlewing as boer en die aankoop van voer is ’n stryd die afgelope 11 maande en hulle is dankbaar vir enige bystand. Volgens Zach het hulle nog geen hulp van die staat ontvang sedert die aanbreek van die droogte nie. Die groep het sowat 240 beeste.

Boere van Geluksdam sê van hulle het redelik reën ontvang gedurende Julie en hulle wou eerder die bale wat hulle ontvang het met diegene deel wat dit nodiger het. “Ons boerderye is nie ver van Lorierpark nie, en ons kan die mense en diere se swaarkry sien, derhalwe het ons besluit om van die voer vir hulle te gee. Ons weet dit los nie al hulle probleme op nie, maar dit kan hopelik verligting vir ’n tyd lank bring,” sê Laurens Schlebusch, boer en streekverteenwoordiger vir VL.

Van die ander gebiede se nuwelingboere wat al bygestaan is, sluit in Steynsrus, Oppermansgronde, Trompsburg, Edenburg, Koffiefontein, Fauresmith en Jagersfontein.

VL het die verspreiding van 15 646 bale, 20 ton voerhawer, 17 301 sakke droogtepille/voer/lekblokke asook 3 400 liter minerale- en vitamienestroop van AfriVet oor 71 934 km gereël. Sowat R2 017-miljoen is spandeer vir die aankoop van 9 710 sakke droogtepille en die baal van mieliereste, terwyl vervoerkostes sowat R1 205-miljoen beloop het. Die totaal tot dusver spandeer beloop net meer as R3 222-miljoen. Dié fondse is afkomstig van VL se eie rampfonds asook fondse wat Agri SA se Droogtehulpfonds aan VL toegeken het.

Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van VL, sê: “Ons wil ons opregte dank uitspreek teenoor elke individu, organisasie en sakeonderneming wat steun aan boere in hierdie uitdagende tyd bied!”

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0