VL 2023 Jongboer wenner soek positiewe in elke situasie

Lukas en Marné Lessing 1
Vrystaat Landbou se 2023 Jongboer van die Jaar is ’n optimistiese jong boer wat daarin glo om die positiewe in elke situasie te soek.
Lukas Lessing (26) van Marquard is op 18 April 2023 tydens ’n spoggeleentheid in Bloemfontein as die 27ste wenner van die kompetisie aangekondig.
Lessing boer reeds ’n dekade al en wil ook niks anders doen nie. Hy meen die feit dat sy pa hom van jongs af by belangrike besluite oor die boerdery betrek het, lewer nou positiewe resultate.
Hy is tans die algemene bestuurder van die familieboerdery en bedryf hoofsaaklik die saaiboerdery (mielies, soja en sonneblom) en ’n kleiner veevertakking.
Die pa van twee huiwer ook nie om self in te spring waar nodig is nie en het daarom al telkemale self plaaspaaie geskraap sodat die boerdery aktiwiteite kan voortgaan.
Die emosionele en finansiële welstand van hul werkers is vir Lessing belangrik en daarom word die werkers aangemoedig om insette tot die boerdery te lewer wat hulle ook bevoordeel. Prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaarspaneel en Hoof van die Department van Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, meen die drie kandidate was puik en het die beoordelaars behoorlik laat kop krap.
“Dit is werklik drie voortreflike jong boere. Benewens die feit dat hulle afsonderlike boerderye professioneel hanteer word, is hulle ook elkeen ’n aanwins vir hul onderskeie gemeenskappe.” Die ander jong boere teen wie Lessing meegeding het was Hennie Geldenhuys van Excelsior en Hansie Müller van Viljoenskroon.
Bron: Vrystaat Landbou