Categories: Resource managementPublished On: 24th January 2017

VKB Bieliemieliefees: Só vier die mielieboere fees

By 2 min read
429 words
bieliemieliefees

vkb bieliemieliefees

Wanneer die mielies groen en geil in die lande om die Vrystaatse dorp, Reitz, groei, is dit tyd om nader te staan vir die VKB Bieliemieliefees. Van 16 tot 19 Februarie 2017 word die 37ste Bieliemieliefees aangebied en daar is tapkarre vol bedrywighede vir oud en jonk om te geniet.

Aan landboukant is VKB as hoofborg daar met ’n keurige uitstalling van sy wye reeks produkte en dienste aan boere. In die mieliehartland kan boere ook by die verskillende saadmaatskappye se proefaanplantings ’n draai maak om kultivarkeuses vir die volgende seisoen makliker te maak. Al die groot trekker- en landboutoerustingmaatskappye is daar vir ’n fees van landboumeganisasie.

In die vee-afdeling kraai skaap koning met ’n kuddekompetisie waarvoor Vleismerino’s, Dohne-Merino’s, Merino’s en Dormers ingeskryf is. Die beoordelaars sal na drie diere uit elke kudde kyk en al die nodige syfers in ag neem om te bepaal watter kudde en ras die meeste ekonomiese waarde bied. Die beoordeling begin Vrydagoggend om nege-uur. Daar is ook ’n skeerkompetisie waarby die organiseerders graag boere wil betrek om te sien wie die bobaasskeerder van die kontrei is. Die professionele manne sal ook skeerdemonstrasies hou.

Die meeste beesrasse sal in stalletjies te sien wees en die diere tree ook elke dag aan vir ’n parade deur die skouterrein. Saterdag om elfuur is daar ’n Merinoramveiling deur Majope Merino’s en boere wat op soek is na goeie genetika, kan gerus daar gaan inloer.

Volop vermaak vir almal

’n Nuwe kuier-area reg voor die verhoog waar feesgangers lekker kan sit en kuier is een van die nuwighede by die skou vanjaar. Daar is ’n propvol verhoogprogram met kunstenaars soos Francois van Coke, Steve Hofmeyr, Leah, Snotkop en Anton Botha.

Die fees het ook ’n aantal opkomende sangers wat hulle talent vertoon en Wian van der Berg sal mense met sy kulkunstoertjies vermaak. Schalk Bezuidenhout, ’n komedian wat ook op die kykNET-program, Hotel, te sien is, tree as programleier en seremoniemeester op.

Vir die jongspan is daar bedrywighede soos skopfietsies, sagte speelgoed, gesigverf, inkleur en kleispeel met ’n avontuurland, spring en speelkasteel wat hulle die ganse dag sal besig hou. Vir die sport- en avontuurgeesdriftiges word daar bergfiets-, en vierwielmotorfiets- wedrenne, ’n marathon, bulletjierugby en mini-netbal aangebied. Kinderkuns, fotografie, stronkbraai, en Mnr en Mej VKB is ’n paar van die kompetisies waaroor mense kan inskryf en natuurlik is daar ’n biertuin, lekker kos en veral groenmielies om te eet.

Vir meer inligting oor 2017 se VKB Bieliemieliefees besoek www.bieliemieliefees of gaan gesels saam op die Facebook-blad. Daar is ook ’n lys van gastehuise vir besoekers van ver.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0