Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 13th August 2025

Vier dames van Sol-Tech verander die ambagswêreld

By 7 min read
1422 words

WhatsApp Image 2025-08-04 at 15.14.55_bf510cba

Loura Potgieter, megatronika student by Sol-Tech.

Veertig jaar gelede het jy ՚n goeie dieselwerktuigkundige nodig gehad om jou trekker te versien of te herstel. Deesdae voel dit of jy ՚n graad nodig het net om die trekker te verstaan. Presisie landbou is die toekoms, en so ook die tegnologie wat daarmee gepaard gaan, maar wat ons geweet het van landbou implemente en toerusting is lankal by die venster uit.

Daarom werk Sol-Tech hard om die volgende geslag ambagsmanne op te lei… of is dit nou ambagsvroue? Dit is reg, ՚n ambag is nie meer net vir die manswêreld beskore nie, en ՚n ambagsman is nie meer iemand wat in ‘n vuil werkswinkel werk nie. By Sol-Tech word studente opgelei om beide met hulle hande te kan werk en om die nuutste tegnologie te gebruik.

Hetsy jy ՚n elektrisiën, ՚n meulmaker of ՚n dieselwerktuigkundige wil word bied Sol-Tech van die hoogste gehalte opleiding aan studente om te verseker dat hulle nie net die kennis het nie, maar ook die nodige ondervinding opgedoen het wanneer hulle die ambagswêreld betree. Buiten vir die vakkennis wat hulle leer, leer hulle ook entrepreneuriese vaardighede aan sodat hulle nie net salarisse kan verdien nie, maar eie ondernemings kan stig en saam kan bou aan die ekonomie.

Dit is juis hierdie passie wat Case IH aanspoor om by die gesogte tegniese instituut betrokke te raak. Case IH is al reeds twee jaar betrokke by Sol-Tech en het onder andere ՚n gimnasium vir die koshuis geskenk, asook van die nuutste landboutoerusting en ՚n Case IH trekker aan die werkswinkel geskenk om hulle prakties op te doen. Agter die skerms is hulle egter nou betrokke met kennis en raad oor wat die bedryf deesdae van ambagsmense verwag.
Vier van hierdie studente dra egter hulle pienk plaasmeisie hemde met trots, want die vier dames pak hulle ambagte aan in ՚n wêreld wat voorheen net mans ingenooi het.

Waarom Sol-Tech?

Donae van Deventer en Loura Potgieter is tans besig om megatronika by Sol-Tech te studeer. Megatronika is ՚n kombinasie van meganika en elektronika en is veral belangrik vir die outomatisering van stelsels. Melandru Coetzer en Nikki Janse van Vuuren studeer om meulmakers te word.

Donae vertel dat sy aanvanklik ՚n meulmaker wou word. Toe sy begin studeer het by Sol-Tech, het sy egter die geleentheid gekry om megatronika te studeer en het dit met albei hande aangegryp. “Deur verder te gaan het ek nou
die geleentheid om meer te leer oor geoutomatiseerde stelsels. So, nou kan ek programmeer, foutspoor, instandhouding en installasies doen,” verduidelik Donae, wat reeds in haar derde jaar is.

Vir Loura was die pad na megatronika baie dieselfde, hoewel Donae van kleintyd geweet het sy wil met haar hande werk, het Loura eers in die hoërskool besef sy hou van tegniese handewerk. Melandru het as kind saam met haar pa in die motorhuis gewerk en toe reeds geweet sy sal nie eendag in ՚n gewone kantoor kan sit nie. Vir Nikki het meulmaker soos ՚n natuurlike stap in die regte rigting gevoel. Haar ouers boer in Botswana met graan, pampoene en aartappels. Sy onthou hoe sy permanent in die werkswinkel saam met haar pa besig was om iets te bou of te herstel. Toe hulle hoor van Sol-Tech, het hulle onmiddellik geweet dit is waarheen Nikki moet gaan.

Is ambagte nie net vir mans nie?

Ongelukkig heers die wanpersepsie dat ՚n ambag steeds net vir mans is. Hierdie is glad nie meer die geval nie. Ambagte is deesdae baie gespesialiseerde beroepe, en bestaan uit skaars vaardighede waarvan daar te min in Suid-Afrika en die wêreld is.

“Die wêreld sien ambagte as ՚n bedryf slegs vir mans, maar hoe meer ek by Sol-Tech leer, hoe meer besef ek die waarde van vroue in ambagsposisies. As vroue kyk ons net anders na dinge. Ek het besef jy moet jou sterkpunte uitleef. Ja ons is anders, daar is dinge wat mans kan doen wat ons nie gaan kan doen nie, maar ons het ander sterkpunte wat mans nie het nie,” vertel Donae.

Loura meen een van die grootste voordele is dat vrouens se hande kleiner is en hulle makliker in nou spasies kan inpas. “Ek dink nie vrouens besef hoe fyn ons ingestel is om ambagte te kan doen nie,” voeg sy by. Vir Melandru is dit net aansporing wanneer sy onderskat word. Sy vertel dat juis omdat sy ‘n vrou is word sy maklik raakgesien. Hierdie kan ‘n goeie ding wees omdat mense ‘n vrou in ‘n ambag makliker onthou. Dit het egter ook sy nadele omdat mense soms ‘n vrou in ‘n ambag raaksien en haar dan onderskat.

“Persoonlik bou dit my selfvertroue op en dit laat my goed voel dat ek ook kan doen wat ՚n man kan doen. Ek dink dit wys ook vir ander dat vrouens nie onderskat moet word nie,” deel sy.

“Ek dink meer vrouens moet ambagte studeer juis omdat dit ՚n manlike loopbaankeuse is,” vertel Nikki. Sy meen dit is vir haar lekker om mense verkeerd te bewys.

Hoe help die ambagte die landboubedryf?

Hoewel ՚n ambag jou in verskeie bedrywe kan help is daar egter altyd ՚n behoefte vir ambagswerkers in die landboubedryf en dit is ook juis een van die redes waarom Case IH betrokke is by Sol-Tech.

“Megatronika is so voordelig vir die landboubedryf. Met megatronika kan ons trekkers bou en onderhou, besproeiing- en plant tegnologie verbeter en selfs geoutomatiseerde verpakkingsprosesse opstel in pakhuise,” verduidelik Donae.

Sy het al baie met Case IH se trekkers te doen gekry op plase en ook by NAMPO en vertel dat sy nie sal omgee om vir Case IH te werk nie, omdat sy weet hulle sal vir haar die geleentheid gee om te groei en haar blootstel aan ՚n wye verskeidenheid toestelle en stelsels.

Loura vertel dat sy na die landboubedryf gekyk het voordat sy by Sol-Tech aangesluit het. Vir haar sal dit ՚n groot voorreg wees om eendag haar megatronika vaardighede in die landboubedryf te gebruik. “Ek sien baie uit na die toekoms, deur megatronika te studeer kan ek byvoorbeeld eendag tegnologie ontwikkel wat die toekoms van ՚n bedryf soos landbou kan verander,” vertel sy.

“Case IH het definitief hulle vingerafdruk op Sol-Tech gelos, deur masjinerie en trekkers te skenk vir ons om prakties vanaf te leer. Ek voel dit is baie belangrik dat ander bedrywe by Case IH leer,” vertel Melandru. Sy sal self eendag in die landboubedryf wil werk.

Nikki se droom is om eendag oorsee te gaan en haar eie besigheid te stig, maar as hierdie nie realiseer nie vertel sy dat sy ook graag vir Case IH sal wil werk. Nie net het hulle ՚n Case IH stroper op hulle plaas nie maar haar pa is ook ՚n baie groot ondersteuner van Case IH. “Dit sal lekker wees om eendag vir Case IH te werk, want ek is ՚n groot ondersteuner van Case IH, omdat my pa so lief is vir Case IH. Dit is lekker om te weet dat ՚n maatskappy soos Case IH ons ondersteun en hierdie bedryf ondersteun,” vertel sy glimlaggend.

Meer vroue in ambagte

Hoewel al vier hierdie dames hulleself kan sien landuit gaan om meer ondervinding in hulle ambagte op te bou voel hulle tog dit is belangrik om meer vroue en jong dames aan te moedig om ambagte te doen.

“Oor 20 jaar sal ek graag myself wil sien opleiding gee aan ander in die ambagsbedryf, maar voor dan wil ek eers genoeg tyd in die industrie spandeer om ervaring op te doen sodat ek eendag my studente beter ambagsmense kan maak as wat ek ooit sal wees. Hoe meer vrouens ander vrouens in ambagte sien, hoe meer van hulle sal die bedryf wil betree. Ek hoop dat ek eendag ՚n goeie rolmodel kan wees. Deur net myself te wees en vir ander vroue te wys waar daar ՚n wil is, is daar ՚n weg, jy kan doen waarvoor jy lief is,” sê Donae.

Wie is ek?

“Ek is ‘n vrou wat trots is en met volle vertroue weet ek doen waarvoor ek lief is.” – Donae van Deventer, Megatronika.

“Ek is ‘n vrou, ek is sterk, slim en ek bou my toekoms met my eie hande.” – Loura Potgieter, Megatronika.

“Ek is ‘n vrou, ek is sterk, dinamies, vasberade en ek bou my toekoms met my eie hande.” – Melandru Coetzer, Meulmaker.

“Ek is ‘n vrou, ek is baie trots op die keuses wat ek sover gemaak het en ek is opgewonde vir wat die toekoms vir my inhou.” -Nikki Janse van Vuuren, Meulmaker.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0