Vervoermaand – bloot politike oë verblindery

Boere in die Frankfort-area besig om self grondpaaie reg te ruk
Terwyl Oktober deur politici as “vervoermaand” beskou word om kwansuis op die belangrike tema van die land se vooruitgang te fokus, moes talle landbouverenigings in die Vrystaat maar weer noodgedwonge self hand in eie sak steek om kritiese paaie te herstel.
Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL) meen dat die publieke skouspelle waartydens politiese uitlatings van transformasie en werkskepping gebruik is om skares op te sweep, geensins ‘n verskil gemaak het vir die ‘gewone man op straat’ of landbou in die Vrystaat nie.
“Vrystaat Landbou en die gemeenskap van die Vrystaat bly teleurgesteld oor werklike vordering van die staat se kant af om die massiewe vervoerprobleme op te los, veral in die landelike gebiede en op grondpaaie.”
Armour voeg by dat die vervoer-werkersunies die ekonomie ook erg ontwrig het deur die werksaamhede van essensiële poorte, hawens en spoornetwerk tot stilstand te dwing vir buitensporige loonverhogingeise. “Vervoermaand is basies verby en daar is geen daadwerklike verskil aan ons padinfrastruktuur te bespeur nie.”
Francois Wilken, president van VL, meen ook dat kwessies soos oorlaaide en gevaarlike mangaantrokke wat enorme skade op paaie aanrig, asook die grootskaalse plundering en ineenstorting van ons spoorvervoernetwerk dringend aangepreek moet word.
“Vrystaat Landbou wag steeds dat dringende vrae uit ons voorlegging aan die Vrystaatse regering se uitvoerende komitee (EXCO) in Mei vanjaar verwys word aan die Ekonomiese kluster om beantwoord te word.”
Vrae onder andere soos:
- Hoeveel pad skrapers is nodig vir die onderhoud van ons grondpaaie vs. hoeveel besit die Departement en hoeveel van dié is in ‘n goeie werkende toestand?
- Vir die hoeveelheid padskrapers benodig, hoeveel opgeleide padskraperoperateurs is huidig in die diens van die departement, en waar daar wel ‘n tekort is, wat word gedoen om nuwe padskraper operateurs op te lei en in diens te neem? (Huidig betaal groepe pad gebruikers uit hulle eie sak vir afgetrede padskraper operateurs om met die staat se flenter padskrapers die grondpaaie te probeer rybaar kry.)
- Wat word gedoen om die personeel struktuur aan te pas om die massiewe agterstand van algemene werkers wat in diens van die Departement behoort in diens te wees, aan te stel om die dringende fisiese werk aan paaie onderhoud te doen soos pad duikers (culverts) en waterbane skoon en oop te hou om water weg van die paaie te herlei.
- Die R30 by Allanridge waar 25 lewens al verloor is, ens.
Intussen noem Armour dat daar moontlik wel een straaltjie van hoop uit vervoermaand is deur die bewyse dat die SANRAL-toep doeltreffend gebruik kon word om die omvang van teerpadskade duidelik uit te wys en vir die prioritisering van werk gebruik kan word.
“Vrystaat Landbou se huidige strategie vir die paaie is om al die slaggate op ons teerpaaie herhaaldelik op die SANRAL toep te laat laai deur ons grondvlakstrukture. Ons moedig ook enige pad gebruiker aan om die toep af te laai en ons te help om die slaggate en stukkende padskouers daarop te laai. Daar waar die slaggate die meeste wys word geprioritiseer.
Waar SANRAL nie beheer het oor die provinsiale of munisipale pad nie, word die inligting aan die nodige vlak van regering deurgestuur met bewyse. Waar die provinsiale of munisipale strukture vaal om binne ‘n redelike tyd aandag te gee aan die paaie, kan daar deur ‘n presidensiële mandaat die taak en fondse vanaf tesourie aan SANRAL met sy beproefde rekord gegee word om die paaie ordentlik reg te maak.
Met die reënseisoen wat reeds op ons is, hou Vrystaat Landbou ook aan om druk op die regering toe te pas om die dringende voorkomingsonderhoud werk aan die Vrystaatse grondpad infrastruktuur aan te bring. En waar nodig, om aksies te koördineer waar die landbougemeenskap saam met die staat hande kan vat om ‘n dringende paaie probleem op te los.
Bron: Vrystaat Landbou