Varkpes breek opnuut uit in Suid-Kaap

vark 1
Altesaam 278 uitbrekings van Afrika-varkpes (ASF) het sedert 2022 in die land voorgekom, die meeste daarvan in Gauteng, met die tweede meeste in die Wes-Kaap.
’n Nuwe uitbreek van Afrika-varkpes (AFS) onder varke van kleinboere het opnuut in die omgewing van George in die Suid-Kaap voorgekom.
Volgens ’n mediaverklaring van die Wes-Kaapse Landboudepartement is dit die vierde uitbreek in die gebied sedert 2022. Die siekte het in 2022 en weer in 2023 by Kwanonqaba by Mosselbaai voorgekom, waar dit onder beheer gebring is. Dit het in 2022 ook in Thembalethu by George voorgekom waar dit steeds ’n bedreiging vir kommersiële varkboere inhou.
In die jongste voorval het 45 varke van die siekte gevrek, terwyl daar steeds 250 varke in die woonbuurt voorkom. Die gebied is onder kwarantyn geplaas en lede van die gemeenskap word ernstig gemaan om nie varke of varkvleisprodukte uit die gebied te verwyder nie om te keer dat dit verder versprei.
Daar is geen behandeling of entstof teen die siekte wat mak- en wildevarke aantas nie. Al genade is baie streng biosekerheidsmaatreëls, wat insluit dat karkasse veilig van kant gemaak moet word, varke op hok gehou met word om te keer dat snuffelende varke wat besmette afval eet die virus opdoen. Die belangrikste is om nie besmette varke of varke wat in aanraking met besmette varke was te verskuif nie. Volgens ’n boer van die omgewing is dit die praktyk om siek varke bloot na ’n ander woonbuurt te verskuif.
Mense wat varke hanteer moet voor en na blootstelling hulle hande, klere, skoene en toerusting ontsmet om te keer dat hulle die virus na ander varke oordra.
Voorts moet enige afvalkos wat varkvleis bevat deeglik gaargemaak word voordat dit aan varke gevoer word, en boere moet slegs varke by betroubare agente wat gesertifiseerde siektevrye varke verskaf aankoop.
Volgens die senior staatsveearts op George het die siekte nie na twee kommersiële varkboerderye in die omgewing versprei nie. Die siekte tas nie mense of ander diere aan nie en varke wat onder beheerde toestande by slagpale geslag is, is veilig vir menslike gebruik. Dit geld ook vir varkvleis en varkprodukte op winkelrakke.
Simptome by besmette varke sluit moeilike asemhaling en rooi vel op die vark se pens en ore in. Die agterbene gee mee en die vark verloor eetlus. Soms kan daar bloed in die mis of braking voorkom.
Die uitbreek is die nuutste wat landwyd aangemeld word. In 2023 het die siekte altesaam 278 keer voorgekom, waarvan 116 steeds bestry word en 162 opgelos is. Die meeste uitbreke het in Gauteng (91) voorgekom, gevolg deur die Wes-Kaap (53), Oos-Kaap (45), die Vrystaat (40), Mpumalanga (26), Noordwes (17), KwaZulu-Natal (4) en een elk in die Noord-Kaap en Limpopo.

Varkpes maai onder varke wêreldwyd waar varkvleis ’n stapel-proteïen op die spyskaart is.
Voorkoms wêreldwyd
Afrika-varkpes is ’n hoogs aansteeklike, hemoragiese siekte wat dodelik is vir mak- of wildevarke. Die varke lyk op die oog af gesond maar kan in ’n oogwink van die siekte vrek.
Die siekte kom wydverspreid in Afrika suid van die Sahara voor waar dit van wilde varke, soos vlakvarke, deur middel van sagtedop-bosluise (Ornithodoros moubata) versprei word. Die siekte tas ander lede van die Suidae-familie aan, insluitend vlakvarke (Phacochoerus aethiopicus), bosvarke (Potamochoerus porcus) en Europese wildevarke (Sus scrofa ferus).
Tot in 1957 is Afrika-varkpes beskou as a siekte wat slegs in Sub-Sahara Afrika voorkom, maar toe dit in daardie jaar in Portugal voorkom nadat afvalkos van ’n lugredery vir varke naby Lissabon gevoer is, is die valse hoop vernietig. In Portugal en Spanje, waar AFS endemies was, is dit versprei deur Ornithodorus erraticus.
In 1960 het daar weer ’n uitbreek voorgekom en tot in die middel 1990s het die besmetting voortgeduur. Dit het in 1978 na Malta versprei, in 1964, 1967 en 1977 in Frankryk uitgebreek, gevolg deur België in 1985 en die volgende jaar in die Nederlande. In hierdie lande is die siekte bekamp deur uitslagting. AFS is steeds endemies in Sardinië sedert dit in 1978 daar uitgebreek het. Gedurende die 1970’s en ’80’s het dit ook na die Karibiese Eilande en Brasilië in Suid-Amerika versprei.
Die siekte het in 2007 vanaf Afrika na Georgië in Oos-Europa versprei, vanwaar dit na die westelike dele van Rusland, Armenia, Azerbaijan, die Oekraine, Belo-Rus, Litanie, Latvia, Poland en Estonia versprei het. In 2018 het dit na Sjina en buurlande Mongolië, Kambodja, Laos, Vietnam, die Philippyne, Noord- en Suid-Korea, Mianmar, Timor-Leste, en Papua Nieu-Guinee versprei.
Dit het ook verder weswaarts in Europa versprei en varke in Roemenië, Serwië, Slowake, Bulgarye en Griekeland besmet. Dit het ook na wildevarke in België en die Tsjeggiese Republiek versprei. Miljoene varke is vernietig in die proses om die siekte te probeer stuit.

Die siekte kom wydverspreid in Afrika suid van die Sahara voor waar dit van wilde varke, soos vlakvarke en bosvarke deur middel van sagtedop-bosluise (Ornithodoros sp.) na mak varke versprei word.
Oorsaak en uitwerking
Afrika-varkpes word veroorsaak deur die Asfivirus wat tot die familie Asdarviridae behoort.
Gewoonlik word die boonste lugweë besmet waar die virus in die mangels en limfnodes wat die kop en nek dreineer vermenigvuldig. Die infeksie versprei gou deur die bloedstroom na die weefsel. Die bloedstollingsvermoë word aangetas wat lei tot hemoragiese letsels. Die virus word deur die boonste lugweë uitgeskei en is in alle uitskeidings, ook in bloederige uitskeidings soos mis en braaksel, teenwoordig.
Die virus is hoogs weerstandig, selfs teen vriestemperature en kan maande lank teen kamertemperatuur en selfs teen 4 °C aansteeklik bly. Die virus in liggaamsvloeistowwe word binne ’n halfuur teen 60 °C gedeaktiveer, maar in onverwerkte varkvleis kan dit weke tot maande lank lewensvatbaar bly en dan slegs deur verhitting teen 70 °C vir 30 minute onaktief gemaak word.
Wanneer die mak- of wildevarke eers deur die virus besmet is, dra hulle dit oor aan vatbare varke weens direkte kontak of nadat hulle onverwerkte varkprodukte gevreet het. As varke eers besmet is, kan hulle oor en oor besmet raak.
Die liggaamsvloeistof van besmette varke is hoogs aansteeklik en kan tot ’n maand na besmetting steeds oorgedra word. Die bloed van besmette diere is tot ses weke lank aansteeklik.
- Bloeding kom in die limfnodes en in die weefsel voor. (Bron: Dr C A L Oura)
- ‘n Tipiese simptoom is onderhuidse bloeding onder die maag. (Bron: Dr C A L Oura)
- Die hemoragiese virussiekte veroorsaak bloeding onder die dun vel van die ore. (Bron: Dr C A L Oura)
Die inkubasie duur drie tot sewe dae, waarna die besmette vark ’n hoë koors van tot 42 ̊C het, gevolg deur verlies aan eetlus, rukkerige beweging en die vark loop lê. Die vel op die maag en ore verkleur rooi en bloed vloei uit die neus en anus. Die varke mag ook sukkel om asem te haal, braak of indien dragtig, aborteer.
Varke kan of gesond lyk, of kronies siek raak .In sommige gevalle raak die varke uitgeteer, die gewrigte swel op en die dier haal moeilik asem. Hoe erger die besmetting, hoe meer akuut is die voorkoms.
Laboratoriumtoetse is noodsaaklik om die siekte betyds te diagnoseer en suksesvol te beheer.
Die voorkoming en beheer van ASF word bemoeilik deur die virus wat in vars en sommige verwerkte varkvleisprodukte versrei word, die moontlike voortslepende besmetting van sommige varke, die reservoirs van die virus in wilde varke en sagte bosluise in sekere wêrelddele en verwarring met simptome van klassieke varkpes (hog cholera).

Varkpes kom voor in die Suidae- of varkfamilie en het ook na Europese wildevarke in België en die Tsjeggiese Republiek versprei.
Voorkoming
Voorkoming berus daarop dat geen besmette varke of hulle vleis in ’n gebied wat vry is van die siekte ingebring word nie.
Waar wilde varke voorkom is dit feitlik onmoontlik om die siklus tussen sagte bosluise en die varke te verbreek, maar met bykomende maatreëls kan suksesvol in Africa met mak varke geboer word. Voer varke net gekookte voedselreste, hou die varke op hok binne dubbele heinings en ogiesdraad waarvan ’n gedeelte onder die grond is om te voorkom dat wildevarke onderdeur die heining grawe, en beperk besmetting deur bosluise.
In lande soos die VSA wat vry is van ASF-besmetting is dit verbode om vir varke kos te voer wat van skepe of vliegtuie van internasionale roetes af kom.
In sommige lande soos die Philippyne word sogenaamde ‘sentinel-varke’ in ’n gebied waar AFS voorgekom het volgens streng protokol na 90 dae ingebring as voorloper tot die hervestiging van varke in die gebied. As die sentinel-varke oorleef, kan hervestiging voortgaan.

Varke wat in agterplase aangehou word en los rondloop, versprei die dodelike hemoragiese siekte blitsvinnig na ander varke in die omgewing.
Kontakbesonderhede
Varkboere in die Wes-Kaap word gemaan om die naaste staatsveearts onverwyld te kontak indien AFS vermoed word. https://www.elsenburg.com/veterinary-services/animal-health-and-disease-control/.
Bronverwysings
Agri dept distributes “sentinel” pigs as prelude to repopulation. (2021). https://www.da.gov.ph/agri-dept-distributes-sentinel-pigs-as-prelude-to-repopulation/
Oura, C. (2022) African Swine Fever. BVetMed, PhD, School of Veterinary Medicine, Faculty of Medical Sciences, University of the West Indies. Reviewed/Revised Aug 2020 | Modified Oct 2022. https://www.msdvetmanual.com/generalized-conditions/african-swine-fever/african-swine-fever
Van der Spuy, M. (2024) Afrika-varkpes by George: 45 varke vrek tot dusver. Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/nuus/afrika-varkpes-by-george-45-varke-vrek-tot-dusver-20240219
African swine fever outbreak and surveillance update report (31 January 2024) https://mail.google.com/mail/u/0/#inbox?projector=1

Afrika-varkpes tas varke van alle ouderdomme aan en daar is geen entstof of medikasie wat daarvoor help nie.


